As see en branders dreun

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek moes hierdie gedeelte seker al ‘n paar honderd keer gelees het, maar nou; in hierdie tyd waarin ons is, maak dit vir my nou meer sin as ooit voorheen.

Ek verwys natuurlik na die gedeelte in Lukas 21:25-26 “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, [26]  en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.”

Kom ons kyk mooi na wat hier gesê word, liewe lesers.

  1. “tekens in die son, die maan en sterre” – Dit gebeur klaar in die groot aantal son en maan verduisterings wat ons sien en nou praat ek nie eers van die bloed mane nie. Dan is daar die groot aantal asteroïdes wat gevaarlik naby aan die aarde verby beweeg… Mense dink hierdie goed is mooi, want hulle sien nie die vergelyking met die Bybel raak nie.
  2. “benoudheid van nasies” – Kyk of lees maar die nuus en julle sal sien hoe radeloos en benoud die regerings van die wêreld is. Niemand weet meer wat om te doen nie. Die wêreld soek nou aktief na daardie persoon wat hulle uit die gemors kan kom haal, maar niemand dink aan Jesus nie. Net Jesus kan dit regkry, maar soos Jesus ook gesê het; ‘n ander sal kom in sy eie naam en hom sal hulle aanvaar.
  3. “see en branders dreun” – Waarom is die nasies so benoud? In die Bybel word ‘n groot menigte mense altyd voorgestel as ‘n “see”. Dus, as see en branders dreun, beteken dit dat die mense ongelukkig is met dit wat hulle regerings doen en hoe sake bestuur word. Mense kom in opset teen hulle leiers en daarom dreun die see en branders. Dit gebeur ook klaar!
  4. “mense beswyk van vrees” – Jy hoef maar net die woord “pandemie” te noem in ‘n geselskap en dan sal jy sommer dadelik die vrees op mense se gesigte sien. Ek kan daarvan getuig, want ek sien dit elke dag! Ek bedoel nou net dat enige iemand wat hierdie lees onverskillig moet wees nie; dra jou masker as jy in die publiek is en ontsmet jou hande. Dis die regte ding om te doen, maar daar is geen rede om te vrees nie, want as Kind van God is ons lewens in die hande van Jesus! As dit die Wil van die Vader is dat iets met my moet gebeur, dan gaan ek, maak nie saak hoe diep en wegkruip of hoe vinnig ek hardloop nie. God beskik oor lewe en dood. Persoonlik is ek in die Hande van die HERE en dis waarom ek nie vrees nie, want Jesus het my nie ‘n gees van vrees gegee nie, maar ‘n gees van blydskap en aanvaarding! Prys Sy Naam!

Maar Jesus los ons nie net met hierdie woorde van vrees nie, hy los ons met ‘n vers van hoop: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” (Lukas 21:28)

Daarom, liewe lesers, kyk op, want ons verlossing is naby!

Prys die Naam van Jesus, want Hy is waardig om geprys te word!

(Visited 208 times, 1 visits today)
Tagged , , .