As tot die hare op jou hoof getel is

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek het vandag nog ‘n getuienis vir julle, maar die keer kom dit van Paulus self af, soos opgeteken in Handelinge 27!

Hierdie is vir my ‘n baie kragtige getuienis, want dit wys wat gebeur as ons teen God se Woord ingaan, maar as ons berou toon oor ons dade, dan is vergifnis nog altyd beskikbaar! Prys die Naam van die HERE!

In die verhaal sien ons hoe Paulus as gevangene per skip na Rome onderweg was om sy saak voor die Keiser te gaan stel. Die van julle wat nie weet nie, maar in die winter heers daar vreeslike storms op die Middellandse See. Besighede sluit gedurende daardie tyd en die hawens word ook gesluit om te oorwinter. Om op die see uit te gaan in daardie tyd word gesien as malligheid, want almal weet hoe gevaarlik daardie storms kan wees.

Die eienaar en die stuurman van die skip waarop Paulus en ‘n aantal gevangenes was, het gereken dat hy nog een vrag koring kon deurkry voor die storms hulle geweld laat geld. Hulle het met moeite gevaar tot in Mooi Hawens wat naby die stad Laséa was. Daar het Paulus die Hoofman oor ‘n Honderd gewaarsku dat hulle nie verder moes vaar nie, want dan sou niemand op die skip dit oorleef nie.

Die Hoofman oor ‘n Honderd het egter eerder na die stuurman en die eienaar van die skip geluister as na Paulus en hulle het verder gevaar in ‘n poging om die stad Fenix te bereik. Hulle het op pad na Fenix die hawe stad Kreta bereik toe die suidewind begin opkom het. Nie lank daarna nie, het die storm losgebars en die skip was meegesleur deur die storm.

In vers 17 lees ons hoe die matrose die skip omgord het. Dis baie interessant, want dit behels dat een van die matrose in die see spring met ‘n tou om sy middellyf en dan onderdeur die skip swem. Aan die ander kant word die matroos opgepik en die punt van die tou word dan gebruik om aan die ander kant vas te maak. Verskeie toue word so gebruik om die romp van die skip bymekaar te hou sodat die branders dit nie uitmekaar slaan nie.

In vers 18 lees ons dat die storm al hoe erger geword het en hoe hulle die vrag asook die skeep gereedskap uitgegooi het sodat die skip ligter kon word. Hoe ligter die skip, hoe makliker gaan dit oor die branders, in plaas van deur die branders. Omdat die son en die sterre vir dae deur die wolke verbloem was, kon hulle later nie meer koers hou nie en is alle hoop om te oorleef hulle ontneem.

In vers 21 sê Paulus dat hulle moet moed hou, want God het deur ‘n Engel aan hom gesê dat hulle almal gespaar gaan bly, maar dat hulle op ‘n sekere eiland gaan stand. Paulus het gesê dat hy God glo dat dit so sal wees, want tot die hare op elkeen van hulle se hoofde is getel en niks sou met enige een gebeur het tensy dit die Wil van die Vader was nie.

Etlike dae later het hulle vermoed dat hulle naby land kom en die matrose het ‘n dieplood uitgegooi om die diepte van die water te meet. ‘n Dieplood is ‘n lood gewiggie wat aan ‘n baie lang tou vas gemaak is. Diepte word in Vaam gemeet en een vaam is rofweg die afstand van jou een handpalm na die ander handpalm as jy jou arms uitstrek. Die matrose het aanvanklik 20 vaam gemeet en ‘n rukkie later 15 vaam, want beteken het dat die see vlakker word en dat land inderdaad naby is.

Hulle het vier ankers uitgegooi van die agterstewe van die skip af omdat hulle bang was dat die skip op ‘n rotsagtige plek sou strand. Nadat die skip geanker was, het die matrose probeer vlug deur die reddings bootjie te laat sak onder die voorwendsel dat hulle die skip se voor ankers wou gaan uitgooi, maar die HERE het vir Paulus vertel dat hulle van plan is om te ontsnap en dat as dit gebeur, niemand op die skip gered sou word nie. Paulus het dit aan die Hoofman oor ‘n Honderd gaan vertel en hy het die soldate beveel om die toue van die reddings boot af te kap sodat die boot kon wegdryf.

Paulus het hulle aangeraai om te eet wat almal gedoen het en die volgende oggend toe die son opkom, het hulle gesien dat hulle naby land was en dat daar ‘n inham in die land was waar hulle die boot kon laat uitloop. Hulle het die anker toue afgekap en die voor seil gespan, maar die neus van die boot het kort daarna op ‘n stand bank gaan vassit sodat dit nie kon beweeg nie. Die agterstewe van die skip is daarna deur die geweld van die branders uitmekaar geslaan.

Die soldate wou die gevangenes doodmaak sodat nie een van hulle sou ontsnap nie, maar die Hoofman oor ‘n Honderd het hulle gekeer, want hy wou Paulus red. Die wat kon swem, is aangesê om in die see te spring en te swem. Die ander het met die wrakstukke van die skip uitgedryf tot op die land en so is almal gered.

Ek weet nie wie van julle al ooit in ‘n storm op see was nie… Ek kan net dit sê; dis vreesaanjaend! Veral as jy sien hoe hoog die golwe is en hoe hulle bo die grootte van die skip uittoring. Dis moeilik om vir iemand te beskryf, dit kan ek julle verseker! Ek kan my net indink hoe die 266 mense op daardie skip moes voel onder daardie omstandighede en wat hulle van Paulse se geloof moes gedink het.

Julle sien, dis wanneer ‘n mens se geloof getoets word soos dit dat jy mos dink dat die HERE baie ver van jou af is. Jy sien geen uitweg nie en satan is maar net toe gou daar om die situasie uit te buit! Tog het Paulus se geloof soos ‘n baie skerp lig geskyn in daardie tyd net soos Jesus van ons verwag om te doen as dit donker word en ons nie die uitweg kan sien nie. Deur Paulus se geloof het hulle almal anderkant uitgekom sonder enige een iets oorgekom het!

Dis die HERE wat ons dien daardie! Magtige Vader vir wie niks en ek bedoel, NIKS onmoontlik is nie! Ek was ook al in situasies waar ek gewonder het waar die HERE is en waarom ek deur sulke hel moet gaan. Ek weet dat daar van julle ook is wat al dieselfde gewonder het! Ons is mense en as mense twyfel ons. Jesus weet dit en daarom veroordeel Hy ons nie, maar so nou en dan hou Hy daarvan om vir jou ‘n punt te bewys en dan doen Hy dinge soos dit! Hy red 266 siele uit ‘n situasie wat onmoontlik lyk vir ons! Is Jesus nie wonderlik nie?

Wat ek wil hê julle moet doen is om Jesus vir ‘n slag aan die stuur van julle lewens te sit. Ja, dis gaan na malligheid lyk, maar probeer dit. Jesus sê: “Try me!” En kyk dan wat gaan gebeur. Ek kan jou waarborg dat jy verbaas gaan staan!

Prys die Naam van die HERE vir hierdie boodskap!

(Visited 331 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .