Bly positief

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

As mens deesdae na die nuus kyk, dan is dit so maklik om negatief te raak en te wonder waar Jesus nou in alles is.

Om positief te bly in vandag se lewe is baie belangrik, veral as jy sien hoe slegte dinge gebeur en jy verstaan nie waarom nie. Berus by die feit dat Jesus nog steeds in beheer is en dat Hy weet wat Hy doen, selfs al verstaan ons dit nie. Die Woord leer vir ons dat God se weë nie ons weë is nie en dis waarom ons nie verstaan wat besig is om te gebeur nie. Dis in elke geval nie vir ons gegee om te verstaan nie, maar net om die geloof te behou.

Wandel in die Gees, want as jy in die Gees wandel, sal die bekommernisse van hierdie wêreld jou nie oorweldig nie. Vertrou op Jesus en weet dat Sy beloftes nog steeds goed is, want Jesus het gesê dat niks met ons sal gebeur sonder die Wil van die Vader nie! Julle kan dit maar gaan lees, want dit staan in Lukas 12:7 “Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” Daar is dus geen rede om te vrees of oor enige iets bekommerd te wees nie.

Gisteraand het hulle ‘n storm vir ons voorspel. Volgens die berig het hierdie storm reeds groot skade aangerig in die omliggende plekke om ons as gevolg van ‘n baie sterk wind wat met hierdie storm gepaard gegaan het. Die storm het toe vroegaand gekom en die wind was uitermatig sterk, maar ek het vasgehou aan Jesus se belofte dat niks met ons sal gebeur nie.

Die volgende oggend was een van die groot blombakke wat ek het, waarin ‘n klein boompie geplant is, omgewaai, maar die boompie het geen skade aangehad nie. My swembad was vol takke en blare gewaai en die deksel van die swembad se sifon het ‘n paar meter verder op die grasperk gelê! Ek het rustig deur alles geslaap, want Jesus het gesê dat niks sou gebeur nie en ek glo dit!

Dit is wat Jesus van jou wil hê, liewe leser! Dat jy sal glo en op God sal vertrou soos ‘n kind. Het julle al opgelet hoe ‘n klein dogtertjie op haar pa vertrou. Hy swaai haar aan haar arms rond, tel haar op en dra haar op sy skouers en nooit het sy enige vrees dat pappa haar sal laat val nie. Dis presies dieselfde geloof wat Jesus by ons soek daardie!

Wees rustig en moenie jou oor enige iets bekommer nie, want Jesus weet wat Hy doen, selfs al weet ons nie.

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 133 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .