Boodskap vir 3 September 2019

Boodskap vir 3 September 2019

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek het baie lank laas vir julle ‘n lekker gesels boodskap geskryf… Vir die van julle wat nuut is, sal dit nie ken nie, maar gesels boodskappe is wanneer ek net met julle gesels sonder dat ek werklik ‘n tema het om oor te gesels.

Mense sien en hoor dit van ander af hoe die mense soos satan rebelleer teen die verordeninge wat vir ons as Kinders van die HERE Heilig is. Die skeiding tussen skeiding tussen Kind van God en wêreldling word al hoe duideliker! Vroeër was die skeidingslyn dof en glad nie duidelik nie, maar die laaste ruk kan jy die skeiding tussen Christen en wêreldling duidelik sien!

Wat vir my baie hard getref het, was dat daardie skeidingslyn reg deur my eie familie loop! Vir die afgelope jare weet ek dat sommige van hulle sê pad met die HERE nie reg is nie, maar soos julle weet, hoop ‘n mens maar dat die persoon die lig sal sien en dat jy op hom sal afvryf, maar dit het nie gebeur nie. Nodeloos om te sê, ek het na die HERE toe gegaan met hierdie probleem en na ure van gesels het die HERE vir my gesê dat ek my werk gedoen het. Alles wat ek kon gedoen het, het ek gedoen, van nou af is dinge in Sy hande en dis waar ek dit moet los.

Ek is seker daarvan dat julle soortgelyke ondervindinge het. Wat dit nog meer skokkend maak is dat jy lief is vir hierdie persoon en dat jy net die beste vir daardie persoon wil hê, maar hulle sien dit nie so nie. Ek kan julle sê dat ek nou weet hoe die HERE moet voel as een van Sy eie wat in Sy ewebeeld gemaak is Sy liefde verwerp…

In een van my vorige boodskappe, Honderd dae van oordeel het ek aan julle bekend gemaak dat die HERE besig is om die wêreld te oordeel. Ons kan hierdie oordeel op TV sien in die vorm van die baie natuurrampe, pessiektes, aardbewings en vulkaniese uitbarstings wat oral plaasvind. Ons is nou besig om die einde van daardie oordeel fase te bereik en sover het ons vreeslike dinge gesien gebeur. Nog nooit in die geskiedenis van die mens het so baie in so ‘n kort tydjie gebeur nie. Die Midde Ooste is ‘n kookpot en dis net ‘n kwessie van tyd voor ‘n Wêreld Oorlog uitbreek! Iran wil vir Israel aanval. Amerika het steun aan Israel belowe en Rusland en China het steun aan Irak belowe. Alles hierdie dui daarop dat die wegraping reg voor die deur is. Dis nie meer iets wat miskien eendag gaan gebeur nie, dis iets wat baie gou ‘n werklikheid gaan word.

Gisteraand openbaar die HERE aan my dat Hy besig is om Sy genade van hierdie wêreld te onttrek. Om dit te kan verstaan, moet ons eers weet dat daar verskillende bedelings in die Bybel is. Dit het begin met die Bedeling van Onskuld in die Tuin van Eden. Tot en met die geboorte van Johannes die Doper, het die Bedeling van die Wet gegeld waartydens Israel onder die Wet van Moses gehandel het. Ons is nou in die Bedeling van Genade waar Jesus aan ons genade betoon as ons Hom aanneem en ook genadig is teenoor ons oortredinge. Binnekort gaan die Bedeling van die Verdrukking begin, maar eers moet die Bedeling van Genade beëindig word en dis waar ons nou is. Die deure van Genade is besig om te sluit en die son is amper onder. Binnekort gaan die nag begin en dan gaan niemand meer kan werk nie. Ek kan net hoop dat julle wat hierdie boodskap lees gereed is, want die donkerste tyd van hierdie wêreld gaan binnekort begin… Satan gaan hierdie wêreld regeer en dit gaan letterlik hel op aarde wees…

Die volgende paar weke gaan daarom baie interessant wees! Ek sal natuurlik aanhou om my boodskappe te pos so lank as wat ek kan. As julle hierdie oorlog sien uitbreek, onthou dan Jesus se boodskap aan Sy dissipels in Mattheus 24:5 “Moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind.” Moet dus nie bevrees word as julle van al hierdie dinge hoor nie, want dit moet gebeur. In Mattheus 24:33 gee Jesus vir ons die volgende vertroosting: “So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Ons verlossing is baie-baie naby, liewe lesers! Prys die Naam van Jesus!

Ek het vir Jesus gesê ek is bang, want ek vrees die oordeel van die HERE. Jesus gee toe vir my Psalm 67 om my te vertroos.

[1]  Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ‘n Psalm. ‘n Lied. 

[2]  Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy sy aangesig by ons laat skyn! Sela. 

[3]  Sodat die mense op aarde u weg kan ken, onder al die nasies u heil. 

[4]  Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. 

[5]  Die nasies sal bly wees en jubel, omdat U die volke regverdig oordeel en die nasies op aarde lei. Sela. 

[6]  Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. 

[7]  Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën. 

[8]  God sal ons seën, en al die eindes van die aarde sal Hom vrees. 

Staan sterk in Jesus, liewe leser! Jesus gaan weer wet en orde herstel soos dit moet wees. Die goddelose gaan uitgeroei word en hulle gaan wees soos stof onder ons voete! Moet dus nie bevrees wees nie!

Satan weet dat sy tyd baie naby is en sy demone werk oortyd om baie blind te hou van wat rondom hulle aan die gang is. Moenie afdwaal nie of self die aanloklikheid van die wêreld oorweeg nie! Ons lang wag is amper verby!

Prys die Naam van Jesus!