Die gelykenis van die prospekteerder

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Hy was ‘n ou man en hy het sy hele lewe goud uit die heuwels en die berge om Sacramento uitgehaal en hy het die berge en die mynskagte in die omgewing soos die palm van sy hand geken.

Hy was ‘n wyse man; gevestig in sy manier, maar stil van geaardheid. Hy het sy fortuin lank gelede reeds gemaak, maar hy het die stil lewe verkies. Eerder as om sy rykdom te verkwis in die kroeë van die dorp of met uitspattige partytjies het hy sy geld belê en ‘n hotel in die dorp gekoop. Hy sy geldsake met groot regverdigheid bestuur.

‘n Neef van sy broer se kant het geologie gestudeer by ‘n bekende universiteit en so sy doktors graad in Geologie verdien. Toe hy hoor hoe sy oom ryk geword het wou hy met alle geweld sy eie rykdom gaan soek. So het hy dan in Sacramento opgedaag, gretig om bekendheid te verwerf.

Baie gou, en met die hulp van sy pa wat vir hom die geld geleen het, het hy alles gekoop wat hy nodig gehad het en het hy begin om tonnels in die berge in te skiet. Sy oom het hom kom besoek en hy het hom op ‘n toer deur sy myn geneem.

Die ou man was gretig om sy neef aan te moedig, want die area waar sy myn was, was bekend dat daar goud was. Soos hulle in die myn afgegaan het, het die oom opgelet dat die stutpale nie sterk genoeg was om die swaar gewig van die grond bokant hulle koppe op te hou nie. Hy het ook tekens van water gesien in die een skag wat na links van die hoofskag uitgeswenk het, maar hy het vir die grootste gedeelte van die toer doodstil gebly, totdat die jong man hom gevra het wat hy dink. Het sy myn nie belowend gelyk nie? Het hy nie ongelooflike vooruitgang gemaak nie?

Die ou man het sy keel skoongemaak en gesê dat hy beslis baie vooruitgang gemaak het in die paar maande wat hy hier was en dat hy beslis op die regte pad is om ‘n baie groot neerslag goud te vind, maar daar was fout.

Sy neef kon nie verstaan wat moontlik verkeerd kon wees nie, want hulle het die beste gereedskap gehad wat geld kon koop. Tekens dat daar goud in die myn was, kon oral gesien word; wat kan dus verkeerd wees?

Die ou man het gesê dat hy bekommerd was oor die laaste 50m van die skag, want die stutpale was nie sterk genoeg om die gewig van die grond bokant hulle koppe op te hou nie. Hy gaan groter stutpale daar moet insit voor hy besluit om verder te gaan. Hy het hom ook vertel van die tonnel met die water neerslag wat na links van die hoof tonnel uitgedraai het. Die ou man was oortuig dat hulle onder die water tafel ingegrawe het. As daardie tonnel meegee, dan gaan almal in daardie tonnel binne sekondes verdrink. Die neef wou egter niks weet nie. Hy het gedink dat sy oom maar net jaloers was op hom en hom wou verhoed om ook ryk te word.

Op daardie oomblik het een van die mynwerkers nader gehardloop gekom en geskreeu dat hulle ‘n goud neerslag gevind het en dat dit ‘n baie groot was. Die werker het rondgespring van blydskap en sy hoed in die lug gegooi. Die neef wou weet waar hulle goud gevind het. In die tonnel wat na links van die hoofskag afloop, het die werker geantwoord.

Die neef het na sy oom gekyk en gesê dat hy geweet het hulle gaan goud in daardie sy tonnel vind. Nog net ‘n paar meter dan gaan hulle almal skatryk wees! Hulle kan nie nou ophou nie!

Die ou man het stil gebly, want sy broer se seun was ‘n uitgesproke en selfversekerde man wat altyd reg was. Sy neef het hom herinner aan ‘n ander man wat lank gelede saam met hom in Sacramento aangekom het. Die man was net soos sy neef: selfversekerd, uitgesproke en altyd reg. Hy het baie haastig ‘n skag gegrawe en ook nagelaat om dit behoorlik te versterk. Hy het skaars ‘n 100 meter gevorder toe sy myn bo op hom inmekaar gesak het. Hy het omgekom in die ineenstorting en hulle het nooit sy liggaam gevind nie.

Nou is sy neef op pad om dieselfde foute te maak en daar was geen manier om tot hom deur te dring nie. Al wat hy gesien het was die kleur van goud en die geld wat hy daardeur sou verdien. Die ou man het hom gesmeek om op te hou grawe en eers die tonnels te versterk voor hy voortgaan, maar die neef wou nie luister nie.

Die ou man het teruggekeer na sy hotel. ‘n Week later het ‘n groep mynwerkers by die hotel se kroeg ingestorm; spier wit asof hulle ‘n spook gesien het. Die ou man wou by hulle weet gebeur het en toe vertel hulle hom van sy neef se myn. Die linker tonnel het onder die drukking van die water ingegee en die hele myn het bo op die werkers ingesak soos die water deur die tonnels gestroom het. Die werkers wat in die kroeg was het ook vir die neef gewerk, maar toe hulle hoor wat die ou man vir sy neef gesê het en hulle besluit om eerder te bedank as om hulle lewens verder in gevaar te stel.

Die ou man het begin huil oor die verlies van sy neef. Hy het probeer om hom te waarsku, maar hy was te slim vir ‘n ou man sonder enige geleerdheid. Nou is hy die een wat vir sy broer moet gaan sê dat sy seun dood is en nooit weer huis toe sal kom nie.

Wat is die doel van die gelykenis? Luister na die wat meer ondervinding op sekere gebiede het as jy. Hulle weet waarna om op te let en hulle kan moeilikheid identifiseer lank voor dit gebeur.

As ons eers die Gees van die HERE in ons lewens het en die HERE begin allerhande gawes vir ons gee, dan sien ons al hoe ons berge kan versit. Dis opwindend en ons wil nie ophou nie. Baie keer stuur die HERE mense wat ons pad kruis om ons te waarsku om dinge stadiger te vat. Wees nederig en luister. Dit wat hulle sê maak miskien nie nou sin nie, maar dis belangrik dat ons luister.

Moet nooit die hulp wat die HERE vir jou stuur as vanselfsprekend aanvaar nie. Moet ook nooit mense afkraak omdat hulle minder intelligent of minder bevoorreg as jy is nie. Ek praat nou nie van gesag figure wat jou probeer afdruk nie, maar van mense wat jou liefhet en die ondervinding het.

Hou ‘n oog op jou selftrots en bly nederig!

 

image_pdfLaai afimage_printDruk