Die tyd van smarte het begin

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Liewe Kind van die HERE; ek skryf nie hierdie om enige iemand bang te maak nie, maar dis tyd dat ons besef dat die lewe wat ons geken het in 2019 nou vir goed verby is.

Dit wat ons in 2019 as normaal gehad het sal nooit weer so kan wees nie. Die tyd van smarte het begin en van hier af is daar net een pad vorentoe. Terwyl die wêreld skree vir ‘n verlosser wat alles kan kom regmaak, skree ons vir Jesus om ons te kom haal en vir die wegraping om plaas te vind. Ons almal weet dat daardie verlosser wat die wêreld so graag wil hê die Antichris gaan wees en ons weet ook dat ons gebede al is wat hom op hierdie stadium nog terug hou.

Wat die wêreld nodig het is Jesus, want Jesus is die enigste een wat hierdie wêreld die lewe, die vryheid en die geluk kan gee wat hulle so hard na soek. Ongelukkig sien die wêreld dit nie so nie, want hulle word verblind deur 2 Tessalonisense 2:11-12 [11]  En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, [12]  sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” Hulle sien letterlik nie die waarheid nie.

Ek het Jesus oneindig baie lief, want Hy het alles vir my gegee, selfs sy eie lewe nie gespaar nie toe ek nog ‘n sondaar was en net aan myself gedink het nie. Nou doen ek die Wil van die Vader, nie net omdat dit my roeping is nie, maar omdat ek wil. Dit sal nooit vergoed vir wat Jesus gedoen het nie, maar ten minste kan ek op hierdie manier iets teruggee al is dit hoe klein. Ek weet dat daar van julle is wat presies dieselfde voel.

Daarom wil ek vra dat julle van hier af alles in die hande van Jesus sit: jou werk, jou finansies, jou lewe, alles. Moet niks terug hou nie. Moet nie eers bekommerd wees oor jou gesondheid nie, want Jesus sal daarvoor ook sorg! Moenie links of regs kyk nie. Wees nie bekommerd oor ‘n enkele ding nie. Jesus gaan kom en dit gaan binnekort wees ook. Ek weet nie wanneer nie, maar ek weet dat dit naby is! Ons is amper daar! Prys die Naam van Jesus!

Van hier af is daar net een pad vorentoe en dis saam met Jesus elke tree. Moenie plek maak vir enige iets ander nie. Maak net plek en tyd vir Jesus. Gaan voort met jou lewe soos altyd, maar doen alles asof jy dit vir Jesus doen en sien hoe jy bonatuurlik beskerm gaan word.

Mag die HERE hierdie boodskap magtig seën!

(Visited 101 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .

One Comment

  1. Amen, ja kom Here Jesus – kom!

    Ek glo dat u boodskap hierbo waarlik ‘n Boodskap van Bemoediging is – vir baie ‘n Waarskuwing, vir menigte ‘n spookstorie en, vir vele ‘n Bevestiging tot volharding… Vir my is dit stellig ook – beide die Eers- en Laasgenoemde! Louter Genade!

    Ek het letterlik ‘n week terug vir iemand gesê dat ek alreeds die punt bereik het om soos Paulus te kan sê; dat ek alles neerlê en my inspan – soos ‘n atleet wat in ‘n wedloop is… Dat alle ander doelwitte in my lewe vervaag het en totaal nutteloos is. Om Jesus Christus te aanbid, lief te hê, te loof, te prys én, te gehoorsaam – álles geword het…

    Ons het voorwaar die punt bereik waar mense deur bitter eiesinnige sug en liefdeloosheid gedryf word om eenvoudig nie te luister na énige waarskuwings nie!

    Die stank en teenwoordigheid van die bose hang, dwarrel geluidloos – soos grou misnewels in huidige geesteswêreld…

    Die son sak in die Weste… Dit het Pasga geword vir die wêreld… Ek sê dit met siddering! Die wolke kolk grou saam en maal ongeduldig… Die toue van die ark se deur begin knarsend span… Sodom se vreugdesvure brand hoog en hulle hou fees…

    Self is ek net ‘n gewone mens in ‘n gewone werk met my eie rugsak vol smart… Statusloos in hierdie wêreld.

    Mense luister eenvoudig nie as ek hulle waarsku en as ek vir hulle sê dat hulle ander mense – teen wie hulle iets het totaal moet vergewe nie… Keer op keer waai my woorde weg in die wind. Besef mense nie dat dit ‘n verskriklike Vloek is om ander nié te vergewe nie?!

    Ek sien so baie mense wat deur baie swaar tye gaan maar hulle harte bly so hard soos klip! Altyd verskonings wat soos troefkaarte geskommel en oor en oor uitgepak word… Haat sal nooit wen nie! Onvergewensgesindheid en Bitterheid is die boesemvriende van die meeste mense. Jesus se Woorde: Soos julle ander vergewe sal My Vader julle vergewe… En?

    Die Woordie van Jesus Christus wat gedurigdeur in my hart beier is; Nie elkeen wat vir My Here, Here sê nie sal in die Koningkryk van God ingaan nie maar, hy wat die Wil van My Vader doen…

    Die Wet saamgevat? Dit is LIEFDE! Wees Barmhartig! Wees Sagmoedig. Wees Opreg. Wees Getrou. Wees regverdig. Wees Nederig. Wees totaal Afhanklik van God. Lewe Heilig. Lewe IN die Heilige Gees! Lewe op jou knieë… Wandel, leef in en deur die Woord se Lig… Doen Goed.

    God het my ‘n paar maande terug in my gees iets gewys wat my verslae gelaat het… Hy het my lewe soos ‘n boekrol oopgerol en vir my gewys dat daar NIKS in my lewe kan verander – as Jesus Christus nie my Permanent verander nie! Níks wat ek poog sal my verander nie – God álleen kán en sál my natuur verander.

    Hý sál ons Waarlik Verander! Ons moet volhard in die geloof en ons oë op Jesus Christus, die Voleinder van ons geloof gevestig hou! My geloof kom van God – selfs my geloof is nutteloos sonder God se Seën daarop.

    Tot dan het ons hierdie stryd in ons binneste. Maar onthou – die Heilige Gees Lei, Vertroos en Versterk ons! Jesus Christus het ons nie ooit veraat nie.

    Prys die Wonderlike, Lieflike, Ondeurgrondelike,
    Kosbare, Ewige, Magtige, Heilige Naam van onse Koning, God en Verlosser – Jesus Christus en onse Hemelse Vader en die Heilige Gees! 🙌🏻🙌🏻👏🏻✝️

    Baie dankies, seën en sterkte aan u en u gesin en, aan elke liewe broer en suster in Jesus Christus. GOD IS, Wie HY sê Hy is!

Comments are closed.