In Mattheus 16:24 sê Jesus “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”
Julle sien; ons almal dra ‘n kruis vir die HERE. Die ongelowiges ook, maar hulle sien die kruis wat hulle dra as ‘n straf. Vir ons wat gered is, is dit baie meer as ‘n straf, want ons weet dat die HERE ons gaan beloon vir die werk wat ons nou doen.
Baie van julle het seker al gewonder waarom die gewig van die kruis wat ons dra dan verskil van dag tot dag. Kom ons wees eerlik; hierdie kruis weeg nie elke dag dieselfde nie. Party dae dra die maklik en ander dae trek ons rûe krom van die gewig. Waarom?
Die rede waarom die gewig van die kruis van dag tot dag verskil is omdat die HERE die gewig van ons kruise onder mekaar rond skuif sodat ons mekaar se laste kan help dra. Nee, dis nie onregverdig nie; kom ek stel dit beter: ‘n las wat vir een persoon maklik is om te oorkom is vir iemand anders ‘n enorme groot berg. Laasgenoemde sal sukkel om die gewig te dra en uiteindelik opgee en gaan lê as die HERE nie ingryp nie. Dis waarom Hy die las baie keer verlig en tydelik op die skouers van iemand sterker sit sodat die persoon aan wie die gewig gegee is om te dra vir ‘n ruk lank makliker kan loop. Op daardie manier herstel die persoon totdat hy sterk genoeg is om die gewig wees self te kan dra.
Mens sien dit baie onder getroude Christen paartjies. Die een sal huis toe kom en sê dat hy of sy die mees wonderlikste dag van sy lewe gehad waar alles net reg geloop het terwyl die ander een ‘n grom beer gaan wees van die las wat hy of sy daardie dag moes dra, want alles wat moontlik verkeerd kon gaan het daardie dag vir hierdie persoon verkeerd gegaan. Dis wanneer die HERE die laste verskuif sodat die een wat dit moet dra eers moet herstel. Dis ook wat die Bybel bedoel het by mekaar se laste dra. (Galasiërs 6:2) Ons doen dit fisies deur mekaar te help en ook op ‘n geestelike vlak deur die gewig van mekaar se kruise te dra.
Kom ek vertel vir julle ‘n storie: ‘n Evangelis en sy vrou het een winter in ‘n bergagtige deel van die land die Woord van die HERE onder die mense gaan verkondig. Dit was bitter koud daardie winter en die waterpype na die huis het gereeld gevries en dan was daar geen water vir mens of dier nie. Die enigste oplossing was om ys te smelt, maar om genoeg water te kan kry moes groot hoeveelhede ys gesmelt word. Daardie aand kom die man by die huis en vertel aan sy vrou wat se geseënde dag hy gehad het en hoe baie siele die HERE daardie dag deur hom gered het. Sy arme vrou het op die grond gaan sit en begin huil van moegheid, want hulle moes baie ys smelt om al die diere genoeg water te kon gee en sy was oormoeg van werk. Sien julle wat hier gebeur het? Die HERE het die las van hom afgehaal en tydelik op haar skouers gelaai sodat hy ‘n meer produktiewe dag vir die HERE kon hê.
Ek weet dat baie van julle nou sal dink dat dit totaal onregverdig is, maar weet dat die HERE jou nie so ‘n swaar las laat dra tensy daar nie ‘n baie goeie rede daarvoor is nie. Ongelukkig gaan ons nie nou al weet waarom hierdie laste aan ons gegee word om te dra nie, maar wees gerus dat ons dit sal uitvind die dag as almal se werke geopenbaar gaan word. Dan sal ons die doel agter elke ding wat in ons lewens gebeur het sien.
Paulus beskryf die dra van die laste in Kolossense 1:24 en 25 so goed: “[24] Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is; [25] waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang.” Sien julle; tot Paulus het die laste van baie van die gemeente lede help dra omdat hy geestelik sterker was as hulle.
Ons is beslis in die laaste van dae en ek wil aan julle vra om verheug te wees oor die laste wat julle dra. Op hierdie manier wys jy jou liefde vir jou naaste deur te help dra aan iemand anders se las. Iemand wat jy nie eers ken nie! Moenie vir die HERE kwaad wees of Hom verwyt oor die ekstra gewig wat aan jou gegee word om te help dra nie. Die HERE het sy doel en ons gaan daardie doel binnekort uitvind.
Prys die Wonderlike Naam van Jesus!