Gaan daar ‘n wegraping wees?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Mense is tog so geneig om te sê dat daar geen wegraping gaan wees nie, want die woord kom nie in die Bybel voor nie. Sal dit dan regverdig wees om te sê dat daar nie iets soos ‘n Drie-Enige-God is nie? Die woord kom tog ook nie in die Bybel voor nie alhoewel die konsep van hierdie begrippe aan ons verduidelik word.

Die woord Wegraping mag dalk nie in die Afrikaanse Bybel voorkom nie, maar dit kom wel voor in die King James weergawe van die Bybel asook in die oorspronklike Griekse geskrifte. Waarom die woord deur die Bybelvertalers uitgelaat was, is iets wat niemand sekerlik ooit sal weet nie.

Ek het in die verlede verskeie artikels oor hierdie onderwerp geskryf. Op die voorblad van die Suiderkruis webruimte is daar drie waarin die konsep van die wegraping met Bybelse geskrifte gestaaf word. Meer as dit kan niemand meer sê nie.

Dit blyk dat daar twee groepe mense is wat weier om die waarheid van die wegraping te erken. Daar is diegene wat die konsep van ‘n wegraping blatant ontken: geen redenasie nie, dit gaan net nie gebeur nie. Dan is daar diegene wat verskillende redenasies het oor wanneer die wegraping gaan plaasvind: in die middel van die verdrukking of eers aan die einde daarvan.

Wat absoluut onrusbarend is, is die groot hoeveelheid mense wat hulle redenasie baseer op dit ander dit wat deur ander mense gesê word. Dit kom voor asof niemand meer die Bybel lees nie en dis heel moontlik die rede waarom daar so baie mense is wat dwaal oor hierdie onderwerp.

Ek moet ook byvoeg dat ek die wat nie in ‘n wegraping glo nie admireer. Kom ons wees nou eerlik. Jesus het vir ons ‘n ontsnap roete voorberei sodat ons nie deur die mees vreeslikste tyd wat nog ooit op aarde was hoef te gaan nie, maar die wat nie glo nie, wys hierdie uitnodiging van die hand. Hulle wys die uitnodiging na die Bruilof van die Lam van die hand en so ook om die Bruid van ons Heer en Heiland te wees. Verder is hulle is bereid om met hulle lewens te betaal vir hulle geloof, die Kroon van Martelare te ontvang en as gaste van die Bruidegom verwelkom te word eerder as die Bruid. Ek dink dis die dapperste ding wat enige iemand kan doen en ek admireer hierdie mense absoluut!

Vir die wat nie in ‘n wegraping glo nie, moet verstaan dat satan oor hierdie wêreld gaan regeer tydens die verdrukking. Daar gaan nie enige plek op aarde wees waar jy sal kan wegkruip om die realiteit daarvan vry te spring nie. Moenie enige genade verwag nie, want genade is iets wat van God af kom. Tydens satan se tyd op aarde gaan daardie woord geen betekenis hê nie. Die Bybel sê verder vir ons dat satan die mag gaan hê om teen die Kinders van God oorlog te voer en hulle te oorwin. As hulle jou vang, sal jy doodgemaak word! Die Bybel is ook baie spesifiek oor die metode van teregstelling vir Christene, naamlik onthoofding. Hierdie gaan geen plesier rit wees nie! Is jy wat nie glo in die wegraping nie gereed hiervoor?

Dis waarom ek dink dat julle wat nie glo nie, die dapperste mense ooit is. Jy het jouself bereid verklaar om deur die smeltkroes van die HERE te gaan en deur vuur gelouter te word soos silwer om jou liefde aan die HERE te bewys. Hierdie is buitengewone toewyding. Mag die HERE julle hiervoor ryklik seën!

Prys die Naam van Jesus!