Enige gebed, kort of lank, dra enorme krag voor die HERE en as dit met geloof gekoppel word, dan vorm dit ‘n gedugte wapen teen die magte van satan!
Ek kan vir julle baie getuienisse vertel van hoe gebed en geloof satan gekeer het om te kan doen wat hy wil. Een daarvan was my eie persoonlike ondervinding toe ek in ‘n staatsvoertuig ongeluk met ‘n oorlaaide minibus taxi betrokke was. Ek het nie bestuur nie, maar ek kan onthou dat ek gesê het: “HERE, help asseblief.”
Alhoewel die taxi omgeslaan het en vir etlike meters oor die grond gesleep het, het niemand in die taxi enige ernstige beserings opgedoen nie, behalwe vir ‘n paar skraap wonde. Almal het lewendig uit die taxi uitgekom. ‘n Kort drie woorde gebed en Jesus doen ‘n wonderwerk. Dink net wat Hy kan doen met ‘n sin of twee!
Ons almal is maar net te goed bewus van die pandemie en alles wat daarmee gepaard gaan. By my vrou se werk in die staatsdiens is dit net so erg. Die gebou sluit baie keer vir op kort kennisgewing vir ‘n dag of meer as iemand in die gebou positief getoets word en dan moet die gebou ontsmet word voor enige iemand weer daar mag ingaan.
My vrou en haar bevelvoerder werk baie nou saam. Hulle is gedurig in mekaar se kantore en hulle het nou kontak met mekaar. Veiligheids protokol word natuurlik gevolg soos die dra van maskers en gereelde sanitasie, maar ten spyte daarvan het my vrou se bevelvoerder COVID opgedoen en is sy positief getoets daarvoor.
Toe die storie rugbaar word het ek geweet dat Jesus my vrou sou beskerm, maar ek het nogtans gebid daaroor. Satan wil baie graag hê dat ons moet bang word en twyfel, want dan het hy beheer oor jou, maar as jy weier om te vrees, dan verloor hy en wen jy! Julle moet onthou dat satan soos ‘n hond aan ‘n ketting is. Hy kan blaf, hy kan grom en hy kan selfs vir jou tande wys, maar hy het geen werklike mag oor jou nie tensy jy dit vir hom gee nie. As jy vrees, dan gee jy al die mag vir satan en dan het hy ‘n ope dag met jou! Daardie vrees sal dan altyd by jou wees tot jy dit self oorwin en die mag terugvat.
Jesus sê in Lukas 12:7 dat ons meer werd is as baie mossies en dat selfs die hare op ons hoofde getel is. Dis waarom ons geen rede tot vrees het nie, want ons word bonatuurlik beskerm solank ons binne die Wil van die Vader beweeg en op Hom alleen vertrou. Ek sê nie dat jy onverskillig moet wees en dan dink dat jy beskerm gaan word teen jou eie dwaasheid nie, want die Bybel sê in Galasiërs 6:7 dat God nie met Hom laat spot nie! Maar as jy jou deel doen deur te bid en te glo, dan sal jy berge kan versit!
Dis dan ons ook gedoen het. Ons het nie toegelaat dat satan ons besteel nie en ons het alles in die Hande van Jesus gesit. Die Wil van die Vader moes geskied. My vrou het na etlike dae geen simptome getoon nie en nadat ons die toets laat doen het soos deur die werk voorgeskryf is, het die toets negatief gewys! Sien julle nou wat geloof en gebed kan doen? Prys die Naam van Jesus!
Ek gaan afsluit met ‘n gedeelte in Mattheus 7:24-25 “[24] Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. [25] En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.”
Mag die HERE met elkeen van julle wees wat hierdie lees en toepas. God is met ons en niks wat die wêreld doen sal dit ooit verander nie. As daar ‘n deur toegaan, sal Jesus sorg dat daar ‘n uitweg is vir jou. Glo dit en moenie twyfel nie. Konsentreer op Jesus en nie op die storm water om jou nie!
Prys die Naam van Jesus!