Hierdie is ‘n baie ernstige boodskap omdat mense hulleself diskwalifiseer vir die hemel deur na satan se leuens luister.
Een van satan se grootste suksesse is dat hy die Woord van God teen ons gebruik, maar soos ek voorheen vir julle gesê het bestaan satan se leuens uit ‘n mengsel van waarheid, halwe waarheid en leuens. Satan kan nie lieg oor God se Woord nie, maar hy kan die waarheid verdraai of jou net die helfte van daardie waarheid vertel soos hy met Eva gedoen het.
Een van satan se suksesvolste leuens is “Eenmaal gered, altyd gered” wat beteken dat as jy eenmaal tot bekering gekom het, is jy altyd gered. Van julle sou seker al gehoor het dat as jy tot bekering kom, dan vergewe Jesus alles wat jy gedoen het en ook nog gaan doen? Dis net die helfte van die waarheid omdat ons as Kinders van God ‘n heilige leefstyl moet volg as deel van ons redding. As jy dit doen, dan sal jy altyd gered bly en dis waar, maar as jy terugval en jou besig hou met vleeslike begeertes, sal jy jou diskwalifiseer vir die hemel!
God sê in Jesaja 43:1 “Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” en in Johannes 10;29 sê Jesus “niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” Alles hierdie is waar, want solank jy in Jesus die wynstok bly en ‘n heilige leefstyl volg, sal God jou beskerm op bonatuurlike wyse, maar dit beteken nie dat jy kan sondig soos jy wil en daarmee wegkom nie.
Paulus skryf in Efesiërs 5:5 “Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.” Hierdie gedeelte is nie net van toepassing op die wêreldlinge nie, maar op die Kinders van God ook! As jy as geredde Kind van God jou besighou met hierdie dinge, sal jy jouself diskwalifiseer om Hemel toe te kan gaan en dit, liewe leser is ‘n feit!
As Kinders van God kan ons onsself nie besighou met pornografie, waarsêery, dronkenskap, gierigheid en nog baie ander soortgelyke dinge nie. Jy kan nie gered wees en dan aanhou sondig nie en nou praat ek van doelbewuste sonde waar jy weet dat dit wat jy doen verkeerd is! In 1Johannes 1:6 staan: ”As ons sê dat ons met Hom (Jesus) gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.” en in vers 8 “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.”
Liewe leser, lees hierdie en weet dat dit die waarheid is! As jy gered is deur die Bloed van die Lam en jy volg nie ‘n heilige leefstyl nie, sal jy jouself diskwalifiseer om Hemel toe te gaan!
Jesus wys vir my hierdie goed, want iewers is daar fout in die Liggaam van Christus en daardie gebrek moet reggemaak word. Die tyd is baie laat en daar gaan Kinders van God agtergelaat word omdat hulle nie wil luister nie. “Niemand kan twee here dien nie. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Mattheus 6:24)
Niemand van ons is perfek nie; nie eers ek is nie, wat ek oortree ook van tyd tot tyd, maar ons kan perfek berouvol wees! Bid vir vergifnis van jou sondes soveel kere as wat jy kan! ‘n Goeie gewoonte sal wees om dadelik vergifnis te vra die oomblik as jy oortree, maar as jy dit nie kan doen nie, doen dit dan met jou oggend of aand godsdiens.
‘n Heilige Leefstyl is nie so moeilik om te volg nie, want die dag toe jy Jesus as Verlosser aangeneem het, het God jou in jou gees heilig gemaak. Dit is dáár waar Jesus deur die Heilige Gees in ons woon, want Hy kan net in ‘n plek woon wat heilig is. Noudat jou gees geheilig is, het jy die vermoë om heilig te lewe ook. Wanneer jy kies om jou gees eerder as jou vlees te volg, is ‘n heilige lewe die eindresultaat.
Dit is ‘n daaglikse keuse wat jy moet maak om jou gees te volg. Jou vlees gaan bly kop uitsteek en jou probeer oortuig om eerder sý paadjie te volg. Dit is dan ook waarom daar so gereeld in die Nuwe Testament verse opduik wat ons maan om heilig te lewe. Hierdie heiligmakings proses is dus ‘n lewenslange proses. Maar met die hulp van die Heilige Gees, kan ons kies om elke dag te lewe soos God van ons vra.
Moenie dat satan met jou nonsens praat nie! Ons is Kinders van die Lig en nie Kinders van die Duisternis nie. Volg die heilige leefstyl!
Prys die Naam van Jesus!
Amen! Dit is ‘n absolute Waarheid van die HeiligeGees! Baie dankie vir die bemoediging en, bevestiging daarvan deur die Woord.
Weet u, nog iets is kwaadpraat en skinder, onvergewensgesindheid en bitterheid – wat Jesus Christus vermaan ons uitdruklik dat diegene wat nie kan vergewe nie, nie vergewe sal word nie. En dat Hy slegs die Ken – wat die Wil van Sy Vader – ons Hemelse Vader doen.
Baie seëngroete aan u en elkeen van ons broers en susters in Jesus Christus. U bly in my gebede…