Alles gaan oor ons geloof en ons vertroue in Christus Jesus; dis al wat saak maak en dis ook al wat nog altyd saak gemaak het!
My eerste les om Jesus met alles te vertrou het baie jare gelede gekom toe Jesus toegelaat het dat my besigheid tot op die rand van bankrotskap gegaan het. Tot en met daardie stadium van my lewe het ek geglo in Jesus, maar ek het Hom nie vertrou nie. Ek is glad nie skaam om dit te erken nie, want ek sien vandag hoe baie daar buite is wat dieselfde doen as wat ek gedoen het. Hulle glo in God, maar hulle vertrou Hom nie in hulle lewens nie. Nee, ek veroordeel nie hierdie mense nie. Hoe kan ek as ek dan self daar was en presies dieselfde gedoen het as hulle?
Iemand het eenslag vir my gesê dat as ek God nou nie kan vertrou om in my behoeftes te voorsien nie, hoe gaan ek Hom in die Hemel vertrou om aan my behoeftes te voorsien? Harde woorde, maar waar woorde! Ons glo in Jesus met alles wat ons het, maar ons glo nie dat Hy kan voorsien in wat ons nodig het nie en dis waarom so baie Kinders van die HERE hardloop om ingeënt te word. Weereens, ek veroordeel hulle nie, want as ek in hulle skoene was, dan sou ek tien teen een dieselfde keuse gemaak het.
Om Jesus met jou hele lewe en alles wat daarin is te vertrou is nie vir almal nie. Dis soos om in die passasiers sitplek in ‘n motor te gaan sit en vir Jesus te sê dat Hy moet ry. Jy plaas as te ware die motor en jou hele lewe in die Hande van die HERE en sommige mense kan dit net nie doen nie. Die beste is dat ek vir letterlik jare daar was en dit glad nie so gesien het nie! Dit het ‘n monumentale ingryping van Jesus gekos om dit aan my uit te wys.
Ek verstaan nou waarom ek nog altyd so teen die “V” was en nie kon verstaan waarom nie, want dit sal my geloof in die HERE komprimeer. Ek skryf hierdie uit my eie oogpunt uit en dis geensins ‘n aanbeveling vir julle om dieselfde te doen nie. Hierdie is my eie opinie op myself van toepassing. Daar kan dalk van julle wees wat anders oor die saak voel en ek respekteer dit.
Dit is waar dat Jesus geneeshere daargestel het en hulle toegerus het met die kennis om ons gesond te kan maak. Ek glo dat dit is soos Jesus dit van die begin af beplan het, want Lukas, een van Jesus se dissipels was ook ‘n mediese dokter. Die verskil kom in hoe hierdie kennis wat deur God gegee is op die ou end van die dag gebruik word. Met groot mag kom groot verantwoordelikheid om die regte ding te doen.
Onthou dat vergifnis nog altyd beskikbaar is, maak nie saak hoe groot die oortreding wat begaan is nie. Daar is niks wat vir God onmoontlik is nie. Selfs al het jy die “V” gevat, kan God dit uit jou liggaam verwyder. Dit gaan alles oor hoe jy glo en of jy bereid is om die Gees toe te laat om te doen wat gedoen moet word.
Jesus veroordeel jou nie, liewe leser. Die tyd daarvoor het nog nie gekom nie. Jy het dus nog die kans om die regte ding te doen en ‘n omkeer te maak, maar net jy kan daardie besluit maak. Jesus gaan kom vir Sy Bruid, een wat haar bruilofskleed aan het en gereed is vir haar Bruidegom. Die keuse of jy gereed gaan wees hang van jou af. Jesus sê dat Hy by die deur staan en klop. As jy oopmaak, sal Hy saam met jou ingaan en saam met jou maaltyd hou, maar jy moet daardie deur oopmaak. Jesus kan dit nie vir jou doen nie.
Dis moeilik om vir Jesus in beheer van jou lewe te plaas, ek weet, maar die voordeel wat daaruit geput word is baie meer as die nadeel. Daarvan kan ek getuig!
Prys die Naam van Jesus!