God se beskerming onttrek

God die Vader waarsku al lank dat Hy Sy beskerming van hierdie aarde gaan onttrek, maar die wêreld wil nie luister nie…

Ek het bevestiging gekry oor hierdie gebeure uit Sagaria 11, maar voor ek dit met julle deel, wil ek sê dat ons almal God se beskerming geniet. Ja, ook die wat Hom nie aanbid nie, beskerm Jesus teen die ergste van satan se aanvalle met die hoop dat hulle van plan sal verander.

Wat die mens nie besef nie is dat satan God se hele skepping haat en dit verag met ‘n woede wat uit die hel uit aangesteek word. Hulle dink dat satan iets is waarmee jy kan speel; dat satan op een of ander manier jou “buddy” is. Hulle verstaan nie dat die beskerming wat hulle tot nou toe geniet het van ‘n liefdevolle God af kom wat net die beste vir hulle wil hê nie…

Binnekort gaan dit nie meer so wees nie, want God gaan satan toelaat om te doen wat hy vir eeue al begeer om te doen. Die wat aan God behoort sal nog steeds beskerming van Hom verdien, mits ons Sy gebooie bewaar, maar die wat Hom nie wil erken nie, gaan binnekort die volle geweld van satan se woede ervaar.

Daar gaan ‘n Derde Wêreld Oorlog wees en ons almal gaan dit sien gebeur. Ons gaan die geweld en die vernietiging eerstehands sien en ervaar, maar waar die wêreld in sak en as gaan sit en hulle koppe in verbasing skud, gaan ons, die ware Bloed gewaste Kinders van God, die wees wat gaan staande bly met ‘n kalmte in ons wat nie van hierdie wêreld is nie.

God gaan met die wat Hom nie erken nie geen medelye hê nie. Hy gaan hulle oorlewer, hulle land verwoes en hulle nie van daardie lot red nie. Vir ons wat wandel onder die vleuels van die Een Waaragtige God; vir ons sal die son van geregtigheid opgaan. Vir ons gaan dit ons tyd wees om te skyn in ‘n wêreld wat daarop uit is om die donker een te aanbid. Ons sal wonderbaarlik beskerm word en ons sal geen vrees hê nie, want God sal ons lei.

Hierdie gaan net vir ‘n kort rukkie so wees, want sodra dit te gevaarlik word vir God se Bruid op aarde, gaan Hy ons uit hierdie wêreld verwyder, weg van satan se woede af waar ons nooit weer deur satan versoek sal kan word nie.

Ons tyd is min, liewe Kinders van die HERE. Ek hoop julle is gereed en voorbereid.

Jesus sê: “Moenie meer vrees nie, klein kuddetjie, want die Vader het ‘n welbehae daarin gevind om aan julle die Koningryk te gee. Nog net ‘n klein rukkie, My Kinders, dan gaan ons vir altyd saam wees en sal julle nooit weer aan die swaarkry en die ellende wat julle op aarde deurgemaak het, dink nie. Julle sal my Kinders wees en Ek sal vir julle ‘n God wees. Gaan nou heen en moenie oor enige iets bekommerd wees nie. Julle is My geliefdes, My eerste vrugte en Ek het julle lief. Niks sal met enige een van julle gebeur sonder dat Ek dit toelaat nie en selfs al laat Ek dit toe, moet jy weet dat dit so is omdat Ek jou lief het en is daar ‘n rede daarvoor wat jy nie nou sal verstaan nie. Vat My hand en hou dit styf vas. Ek is jou Abba Vader!”

AMEN!

(Visited 272 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .