Dis goed dat ons heiligmaking nastreef en so uit ons eie probeer om sonde in ons lewens te voorkom, maar ons moet ook versigtig wees hoe ons dit doen.
Ek het so ‘n ruk gelede ‘n boodskap van iemand gelees dat die koms van Jesus voor die deur is. Ons almal weet dat dit waar is en daarom wil ons alles in die stryd werp om alle vorme van sonde totaal uit ons lewens uit te roei… Dis nou waar die leiding van die Gees inkom en ek is seker dat daardie persoon wat dit sê die beste van bedoelings het. Jesus het aan die kruis gesterf vir ons sodat ons van alle sonde vergewe kan word, maar meer as dit, liewe leser! Jesus het ook gesterf dat ons in vry van die bekommernis van sonde kan lewe! Prys Sy Naam!
Julle sien, die ou Israeliete was baie bekommerd oor hulle sonde en hulle moes gereeld diere gaan slag en op die altaar sit om vergifnis vir hulle sondes te kan ontvang. Hierdie manier van heiligmaking was ‘n baie swaar las om te dra, want jy moes gedurig op die uitkyk wees of jy nie dalk gesondig het en nou vergifnis moet gaan vra nie. Ek weet nie van julle nie, maar ek weet nie of ek so ‘n las sou kon dra nie.
Verder het optrede soos dit ook gesorg vir ‘n soort van heiligmaking klassifikasie waar die een persoon gedink het dat hy meer heilig is as sy buurman omdat hy nie so gereeld struikel nie. Begin julle nou sien waarom dit so ‘n gevaarlike stelsel was en waarom Jesus dit ongedaan kom maak het?
In Jesus is ons almal deel van die een liggaam van Christus! Ons is oë, ons is ore, ons is harte, longe, bene, tone, arms en vingers. Ons is nie almal dieselfde nie, maar ons is almal deel van dieselfde liggaam! Ons bid vir mekaar en ons dra mekaar se laste soos wat lede van dieselfde liggaam doen! Prys Sy Naam!
As jy nou gaan en op jou eie heiligmaking gaan nastreef op so ‘n manier dat jy alle sonde uit jou lewe verban, wat se doel gaan Jesus se dood aan die kruis vir jou dan wees? Dan het jy mos nie meer vir Jesus nodig nie? Jy voorkom jou eie sonde voor dit gebeur. Iemand wat dit doen, gaan verplig wees om sy eie redding te bewerkstellig sonder Jesus en soos ons almal weet, is dit nie moontlik nie.
Jesus sê dat die oortuiging om so heilige te lewe nie van Hom af kom nie. ‘n Klein bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur. Wees daarom versigtig na wie julle luister.
Ek is nie skaam om dit te erken nie, liewe lesers. Ek is ‘n sondaar en ek sondig gereeld. Ek probeer om my daarvan te weerhou, maar ek weet ook dat ek ‘n perfekte gees is in ‘n sondige liggaam wat vasgemaak is aan hierdie aarde. Die hunkering om verkeerd te doen gaan altyd daar wees, want dis deel van die kuis van sonde wat ons moet dra totdat Jesus kom om ons te kom haal.
Hierdie is nie ‘n kaartjie om te sondig soos jy wil nie. Ons moet nog steeds ‘n poging aanwend om sonde te vermy, maar jy het nie nodig om so op loop te gaan daarmee dat jy jouself in ‘n knoop kry nie. Jesus se dood aan die kruis het ons vry gemaak, liewe leser. Vry sodat ons enige tyd na Jesus kan kom en vir Hom kan sê dat ons droog gemaak het en vry sodat die Gees in ons kan werk en ons kan oortuig wat reg en wat verkeerd is. Luister daarom na die leiding van die Gees in jou lewe, want die Gees sal jou nooit verkeerd lei nie! Prys die Naam van Jesus!
Jesus sê ons loop die goeie en die regte pad en dat ons nie dat ander ons verhinder om daardie pad te loop nie. Ons is klaar geheilig deur die Bloed van die Lam. Meer as dit hoef niemand te doen nie, want Jesus het dit klaar gedoen! Luister daarom na die Gees en nie na die mense nie.
Is die liefde van Jesus nie wonderbaar nie? Prys Sy Heilige Naam!