Hoe demone werk – Deel 2

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Vandag se boodskap sluit aan by die laaste een. As julle dus nog nie die eerste een gelees het nie, gaan dan gerus terug en lees eerste die eerste deel.

Dis belangrik om te besef dat die HERE se antwoord op ons gebede partykeer “nee” is, maak nie saak hoe mooi jy bid of smeek nie. Dit het al baie met my gebeur. Onthou dat ons die toekoms nie ken nie en ons weet nie hoe dinge vir ons gaan uitdraai as die antwoord hele tyd “ja” is nie. Die HERE het ‘n plan met jou lewe en Sy Wil sal geskied! Die beste is om net te bid en te vra, want ons het nie die kennis of die wysheid nie, daarom gaan ons met God se besluit moet aanvaar, wat dit ook al mag wees.

Die HERE laat toe dat sekere dinge in jou lewe gebeur. Hy laat toe dat satan jou versoek. Satan val vir my ook aan, maar nooit op my sterk punte nie; altyd op my swak punte. Partykeer val ek voor die versoeking en partykeer nie. Dis hoe ons leer. Dis alles deel van die les hoe om die sade van bitterheid te hanteer sodat jou liggaam nie vergiftig word deur dinge wat jy nie van bewus was nie of gedink het dat dit nie belangrik was nie. Dink daaraan as God se leerskool en ons is almal in daardie klaskamer!

Ons stel baie keer uit en op die ou end van die dag, dan kan ons nie meer onthou wat die probleem was nie. Dan is daar altyd die vryheid van keuse. Ons kan nou bid, of ons kan later bid, of ons kan vergeet om te bid. Die keuse is altyd ons s’n, maar ons moet onthou dat met elke keuse is daar die nagevolge van daardie keuse. As jy nie van die sade van bitterheid ontslae raak nie, gaan daar nagevolge wees en dis waarom die HERE hierdie dinge vir ons noem; sodat ons bewus moet wees daarvan en kan werk maak daarvan.

Het julle al gewonder waarom die HERE nie wil hê dat ons by die media betrokke moet raak nie? Dis omdat ons aandag die hele tyd van Hom af weglei word. Die spoed waarmee stories verby flits en die wye verskeidenheid onderwerpe wat gedek word, leer ons om op baie dinge gelyk te fokus. So fokus ons op goed waaraan ons niks kan doen nie, maar wanneer jy stil raak en dinge stadiger begin vat, dan kan jy jouself inskakel op die fyner golflengtes en dit op hierdie fyner golflengtes waar die HERE se stem is en jy kan leer wat Sy wil is. Dis die spirituele sy van die lewe waar die engele en demone is en ook waar ons onderskeiding vandaan kom.

Baie mense dink dat Kinders van die HERE nie vervloek kan word nie of dat vloeke geen uitwerking op hulle het nie. Verkeerd! Vloeke kan op jou land, maar hulle het geen effek op jou nie, want hulle het iets nodig om te aktiveer. So lê en wag hulle vir ‘n opening terwyl jy nie eers weet van die vloek nie. Die aktivering meganisme kan enige iets wees, van iets wat jou ontstel by die werk tot wat ook al jou humeur laat opvlam. Baie vinnig gaan jou gemoed van ontstel tot uiterste woede tot wanhoop. Jy gaan deur ‘n hele reeks van emosies terwyl jy dink dat jy maar net ontsteld is oor iets. Jy dink nooit daaraan dat jy met ‘n vloek te doen het nie en daarom raak jy nie ontslae daarvan nie en so laat jy toe dat dit jou verder vergiftig. Begin julle nou verstaan waar deel een van hierdie boodskap inpas?

Kom ons vat die vloek van verwoesting, wanhoop en hartseer. Jy kry slegte nuus en aanvanklik is jy ‘n bietjie hartseer. So word jy gepaai en oor die loop van ‘n dag vat hy jou van die een uiterste na die volgende en voor jy dit besef is jy absoluut verpletter! Jy hart lê in stukke! Jy sien vir niks kans nie en jy gee nie meer ‘n flenter vir enige iets of enige iemand om nie. Demone is baie slim en hulle ken ons baie goed. Hulle weet presies wat ons gaan afsit en wat nie en hoe om ons op watter manier te versoek.

Ons almal het emosies en ons harte voel gebroke van tyd tot tyd en dis die geleenthede waarvoor hulle wag. Ons besef nie wat dit is wat besig is om met ons te gebeur nie en daarom raak ons nie van die vloek of die demon wat daarmee saamkom ontslae nie. So los ons ‘n deur oop en kom satan ons weer later op dieselfde manier by. Vir hom is dit ‘n oorlog taktiek en ons besef nie dat ons in ‘n oorlog betrokke is nie en daarom is ons maklike prooi.

Elke demoon het sy spesialiteit gebied wat met ‘n bepaalde emosie saamgaan. Jy kry demone van verwoesting en demone van swakheid en elkeen het sy spesialis gebied. Kom ons vat swakheid as ‘n voorbeeld. Die oomblik wat jy swakheid begin voel, dan spring die demoon van swakheid op, want die deur is oop. Hulle is oneindig geduldige en sal lank wag tot ‘n bepaalde emosie sy opwagting maak en dan het hulle al die vryheid wat hulle wil hê, sonder dat jy besef wat aangaan. Raak jy van die demoon ontslae, maar jy spreek nie die vloek aan nie, bly dit agter en word jy later weer versoek. Elke vloek het ‘n demoon. Jy kan dus nie van die een ontslae raak sonder die ander een nie. Die enigste manier is om die HERE te vra om beide te breek en te verban.

Ek weet hierdie klink uiters ingewikkeld, maar die HERE wil hê dat ons moet verstaan hoe demone werk sodat ons meer opgewasse is om daarmee te kan deel. As Christene word ons op allerhande maniere aangeval sonder dat ons verstaan wat dit is. ‘n Slim man het eenslag gesê dat dit wys is om jou vyand te bestudeer en dis presies wat ons nou doen! Miskien kan julle nou verstaan waarom dit belangrik is dat ons skoon moet wees as ons voor die HERE verskyn. Hierdie goed kan net verslaan word as jy skoon is, want die HERE kan net opereer in ‘n skoon liggaam.

Ek vra dus dat die HERE vir julle sal help om hierdie inligting te kan verstaan sodat julle dit sal kan toepas.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!