Hou jou oë op Jesus

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Paulus skryf aan die gemeente in Korinte dat ons geloof in Jesus soos ‘n wedloop is waaraan baie atlete deelneem.

[24]  Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. [25]  En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. [26]  Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. [27]  Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” (1 Korintiërs 9:24-27)

Het julle al gesien hoe atlete oefen vir ‘n groot byeenkoms? Dit begin maande voor die tyd met ‘n oefen program wat streng gevolg word. Nooit word daar afgeskeep nie en alles word in diem proses in die stryd gewerp, want om die wedloop te wen is die primêre doel!

As Kinders van God is ons in God se wedloop en nou dat ons in die finale 100 meter is voor die eindstreep, nou moet ons eers alles in die stryd werp om daardie wenstreep oor te kan steek! Die enigste verskil tussen ons Kinders van God en atlete is net dat atlete hardloop om ‘n verwelklike prys te ontvang, maar ons hardloop om die ewige lewe te ontvang! Prys Sy Naam! Jesus is groot, Hy is goed en Hy is waardig om geprys te word!

Atlete hardloop, maar nie een van hulle is seker dat hulle gaan wen nie. Hulle kan net hulle beste doen en dit is al. Ons as Kinders van God hardloop omdat ons seker is ons gaan wen! Ons slaan nie met ons vuiste soos een wat in die lug slaan nie. As ons slaan, dan weet ons dat ons tref. Ons weet dat ons vir satan onder ons duime het en dat hy kragteloos teen ons is!

Net soos atlete voor ‘n groot wedstryd, kasty ons ons liggame sodat dit nie toegelaat word om te kan doen wat dit wil nie. Ons doen dit, omdat ons die boosheid van ons eie harte ken en weet dat ons liggame gevorm is uit die stof van die aarde en daarom begeer om die aardse dinge te doen. Maar ons is Gees en die Gees laat nie die liggaam wat vlees is nie toe om te doen wat dit wil nie. Ons doen dit sodat ons terwyl ons God aanbid nie self verwerplik is vir God nie.

Dis waarom ons aanhou en uithou. Ons weet ons verlossing is amper hier en ons weet ook dat satan nou alles in die stryd gaan werp om so veel as moontlik te laat struikel en val. Maar ons gaan vasklou aan Jesus se kleed; Hy gaan ‘n sterk toring wees vir ons om in weg te kruip! Terwyl die wêreld sigloos daar buite rondhardloop sonder rigting, gaan ons Jesus se lampe wees wat helder gaan skyn in die donker nag totdat dit tyd gaan wees vir ons om huis toe te gaan.

Tot daardie tyd kom, sal ons aanhou hardloop en aanhou oefen sodat ons ons beloning met waardigheid sal kan ontvang! Ons hou ons oë op Jesus, want dis waar ons verlossing is en ons krag vandaan kom. Saam met Jesus en nie op ons eie nie, gaan ons daardie wenstreep oorsteek! Prys Sy Wonderlike Naam!

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk
Tagged , , , , , , .