Jesus maak die storms stil

Hoe lyk die storms in jou lewe? Hoe groot is die branders wat teen jou lewens bootjie slaan? Voel dit vir jou of jy enige oomblik kan sink in ‘n see van probleme wat net nie wil ophou nie?

Kom ons lees in Mattheus 8:23-27 [23]  En toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.

[24]  En daar het ‘n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap. [25]  Daarop kom sy dissipels en maak Hom wakker en sê: Here, red ons, ons vergaan! [26]  En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het ‘n groot stilte gekom. [27]  En die manne het hulle verwonder en gesê: Wat vir ‘n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is?”

Die storm waarin Jesus en sy dissipels was, moes ’n hoërgraad storm gewees het. Onthou, van Jesus se dissipels was vissermanne en hulle het uit die aard van hulle beroep die see geken. Hulle het ook bote geken en geweet wanneer hulle naby aan omslaan was.

Ek was al ‘n paar keer in my lewe in sulke omstandighede. Die winde van probleme huil in jou ore en dit sweep die water op in sulke hoë golwe dat mens bang raak. Eers probeer jy alles in jou vermoë om daaruit te kom op jou eie, maar naderhand gooi jy tot die roei spaan weg, want alles lyk so hopeloos dat jy voel dat sink die enigste oplossing is om uit die gemors uit te kom.

Wanneer ons so na alles kyk, lyk dit vir seker hopeloos. Die woeste wind steel ons geloof en dit maak dat ons wil weghardloop, maar waarheen? Die boot is besig om vol water te loop en daar is nêrens om heen te gaan nie. Verder hoor God oënskynlik nie ons noodgebede nie, of sien Hy ons nie vandag raak nie? Miskien slaap God vandag?

Toe Jesus se dissipels Hom wakker maak, was Hy baie moeg. Hy het slaap nodig gehad en nou kom maak hulle hom wakker, omdat hulle geloof deur die storms en die winde omgewaai is. Kyk wat sê Hy vir hulle in vers 26: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”

Dit slaan ‘n mens partykeer soos ‘n hamer voor die kop. Ons is bang vir wat die toekoms mag inhou. Ons weet nie waarheen God ons lei nie en dit is soos ‘n emmer yskoue water wat oor mens drup. Dan hoor mens Jesus se stem: Waarvoor is jy bang? Eintlik hoor ek so ’n stukkie iesegrimmigheid in Jesus se stem. Hoeveel keer moet ek nog vir jou sê dat jy nie bang hoef te wees nie? Hoeveel keer moet ek vir jou sê om nie in die omstandighede vas te kyk nie, maar vas te hou aan die wete dat niks met jou sal gebeur wat Ek nie toelaat nie?

Ek laat my kop in skaamte sak, want ek besef weereens dat ek in die omstandighede vaskyk: die winde wat so erg waai, die bootjie wat so woes op en af dopper en die water wat so stukkie vir stukkie meer word in die boot. Ek staan verstar, want dit alles trek my oë weg van Jesus af. Dit maak my oë blind vir God se beloftes en dan sien ek nie meer vir Hom hier reg langs my staan nie.

Ons glo in ’n almagtige God. ’n God wat baie groter is as ons storms. Met een sagte woordjie kan God die see om jou rustend kalm maak. God slaap nie en Hy sal nie toelaat dat jy sink nie. Hy kán en sál die storms stil maak. Ons moet net glo dat Hy dit kan en sal doen. Ja, ook oor jóú storm. Glo dit net!

Mag die HERE hierdie boodskap seën.

(Visited 740 times, 4 visits today)