Komende duisternis

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek weet nie lekker hoe om hierdie gedeelte te begin nie, want ek moet nou teruggaan en iets gaan regstel wat ek verbrou het. Ja, ek maak ook foute.

In hierdie lyn van besigheid hoor ‘n mens baie dinge, maar nie alles is altyd waar nie. So het ek ‘n paar jaar gelede het ‘n storie gehoor wat iemand verkondig het. Ek kan nie eers meer onthou wie dit was nie, maar volgens hierdie persoon sou daar drie dae van duisternis oor die aarde kom voor Jesus se koms vir Sy Bruid.

Ek het hierdie storie met ‘n knypie sout gevat, want daar is net een verwysing in die Bybel oor duisternis wat oor die aarde gaan kom en dit is in Openbaring 16:10-11 gedurende die Oordeel van die Sewe Skale aan die einde van die Groot Verdrukking. Ek kon dus nie sien waar hierdie drie dae van duisternis inpas nie. Tog het hierdie storie elke nou en dan weer op Internet opgekom en in die begin van die jaar hier iemand my weer daarna gevra en weer het ek geantwoord dat daar net in Openbaring verwys word na duisternis en nêrens anders nie. Maar die Gees van God het ‘n manier om met ‘n mens te werk en jou deur die Woord te oortuig wat die waarheid is.

Ons is nou amper op die einde en mense is uit nature nuuskierig om te weet wat volgende gaan gebeur. Ek het julle al baie vertel van die 90 jarige ou dame van Noorweë wat in 1968 ‘n visioen gehad het oor wat met die wêreld sal gebeur net voor Jesus gaan kom vir Sy Bruid. Alles wat sy gesien het, het waar geword, behalwe vir een ding: die Derde Wêreld Oorlog. Sy het gesê dat dit gaan begin op ‘n manier wat niemand dit gaan sien kom nie. Sy het ook gesê dat dit ‘n kort maar verskriklike oorlog gaan wees soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie. Al die oorloë wat die mense tot nou toe beleef het, insluitende die vorige twee Wêreld Oorloë gaan kinderspeletjies wees teen die een. Sy het ook gesê dat Jesus gaan kom vir Sy Bruid in die middel van hierdie kort oorlog.

Laas week het iemand my gevra of die Oorlog van Gog en Magog in Esegiël 38 deel van hierdie oorlog gaan wees en ek glo so, want ‘n wêreld oorlog beteken tog dat almal daarby betrokke gaan wees. Boonop, in terme van militêre strategie gaan dit ‘n perfekte skuif van Rusland wees om Israel dan aan te val terwyl die wêreld se oë op ‘n ander plek gefokus is, maar nou eers terug na die drie dae van duisternis.

Die afgelope paar weke het die Gees vir my baie boodskappe gegee oor Jesus se kruisdood en Sy opstanding wat oor drie dae plaasgevind het. Die Gees het met my gepraat oor hierdie drie dae van duisternis en ek verstaan nou waaroor dit gaan. Hierdie drie dae van duisternis beteken nie fisiese duisternis soos ek dit eers verstaan het nie en ek gaan dit nou vir julle verduidelik.

As hierdie oorlog uitbreek, gaan dit klein en niksseggend lyk, maar baie gou gaan dit ontaard in iets wat niemand gesien kom het nie. Ons gaan hier wees om dit te aanskou. Volgens die getuienis van die vrou van Noorweë gaan Jesus Sy Bruid in die middel van hierdie oorlog kom haal. Dit is moontlik die betekenis van die gedeeltes van die opstanding wat ek aanmekaar kry. As die oorlog uitbreek, gaan die wêreld sterf soos Jesus aan die kruis gesterf het, maar drie dae later gaan ons opstaan! Dit beteken dat daar vir drie dae ongekende swaarkry oor hierdie wêreld gaan kom en dis die betekenis van die drie dae van duisternis. Dis nie fisiese duisternis soos ons dit ken nie, maar duisternis in die vorm van swaarkry.

Ek weet nie wanneer dit gaan gebeur nie, maar die feit dat die Gees my so tydig en ontydig daaraan herinner beteken dat Jesus wil hê dat ons gereed moet wees daarvoor. Dit kan ook die betekenis wees van al die boodskappe oor moed hou en op Jesus vertrou, want in daardie tyd gaan ons geloof al wees wat ons staande gaan hou. Jesus sal sorg vir Sy Bruid in hierdie tyd en ons sal in daardie tyd die lig van die wêreld wees. Daar gaan dus geen rede tot kommer hoef te wees nie, want ons sal beskerm word. Onthou, wie staande bly tot die einde toe SAL gered word!

Ek het die week ‘n enkele teksvers gekry as bevestiging van hierdie boodskap: “Want Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: Die seun van die mens word oorgelewer in die hande van die mense, en hulle sal Hom doodmaak; en nadat Hy gedood is, sal Hy die derde dag opstaan.” (Markus 9:31)

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 575 times, 1 visits today)
Tagged , , .

2 Comments

  1. Goeie naand. Die gesalfde van die Here.
    Ek wonder oor die 3 dae van duisternis, kan dit nie profetiese tyd wees nie? Een dag is een jaar.
    Groete Kobus.
    PS. Dankie vir al jou goeie boodskappe.

Comments are closed.