Maak gereed vir jou vertrek

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek kry die afgelope tyd boodskappe in my oggend godsdiens wat dui daarop dat ons moet gereed maak en gereed wees vir ons reis…

Hierdie is nie die eerste keer wat ek oor hierdie onderwerp skryf nie en miskien gaan dit hierdie keer die laaste keer wees? Dis nou as Jesus gaan kom en die tyd nie weer uitgestel gaan word nie! Mense besef nie altyd hoe kragtig ons gebede is nie. Jesus sê in Mattheus 7:9 “Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee.” As ons dus vir Jesus uitstel vra omdat van ons geliefdes nog nie gereed is nie, dan SAL Hy gehoor gee omdat jy daarvoor vra.

Ek weet natuurlik nie wanneer die dag gaan kom nie; niemand weet nie en Jesus het dit vir ons op verskeie kere gesê ook. Ek weet egter dat die tyd naby is, want ek kan dit aanvoel. Die boodskappe wat ek die afgelope week gekry het is ‘n bevestiging daarvan.

Daarom, liewe lesers, gaan sit en skryf ‘n brief aan jou geliefdes wat gaan agterbly en verduidelik aan hulle wat gebeur het. Kyk daarna uit hulle oogpunt: miljoene mense verdwyn en niemand weet wat gebeur het nie. Ek het julle vooruit gegaan, want op my webruimte op die voorblad is daar ‘n gedeelte oor die “Suiderkruis USB Stokkie”. Dis ‘n reeks inligting wat ek saamgestel het vir die wat gaan agterbly. Ek het groot gedeeltes daarvan gedruk en ingesluit by my brief wat met my aardse besittings moet gebeur na my vertrek. My testament is ook hierby ingesluit. Ek het vir my ‘n plastiek dokument houer gekoop om alles in te sit en ek het dit in my boekrak gebêre sodat dit maklik gevind kan word. Ek sal voorstel dat julle dieselfde doen.

Leef ‘n heilige leefstyl sover as dit vir jou moontlik is. Onthou God se woorde in Levitikus 11:44 “Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig.” Spandeer tyd saam met die Heilige Gees. Jy kan vir die Heilige Gees vra om aan jou uit te wys wat in jou lewe verkeerd is sodat jy dit kan reg maak. Alles dit wat by jou opkom na jy dit gevra het in gebed is goed wat reggemaak kan word. Ek het al sonde wat ek van vergeet het so reggemaak. Probeer dit gerus, want dit werk!

Vergewe die wat jou te na gekom het en reken hulle dit nie toe nie. Ons word baie keer die seerste gemaak deur die wat om ons is en hulle doen dit sonder dat hulle dit besef. Moenie wrokke koester nie. Wrokke is oos gif en dit vloei deur die hele liggaam en vergiftig alles.

Onthou; Jesus wys nie hierdie dinge uit om ons te ontmoedig of om ons seer te maak nie, maar eerder sodat ons met skoon trouklere voor Hom kan staan. Sonde is VUIL en sonde wat nie vergewe word nie, hou aan om VUIL te wees! Sonde wat vergewe is, bestaan nie meer nie, want dit word uitgekanselleer. Die HERE wil al Sy kinders voor Hom sien met uit gekanselleerde sondes!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

One Comment

  1. Baie dankies vir hierdie kosbare boodskap! Wat u daar sê is álles wat op my hart ook gelê is! Ons móét nie ophou bid vir ons geliefdes en vir Israel ook nie. Lewe heilig en in totale afhanklikheid ín die Heilige Gees wat ons versterk en vertroos.

    Baie dankies vir daardie boodskappe wat u saamgestel het – ek het ‘n hardeskyf en geheuestafies met vele honderde preke op wat ek afgelaai het die laaste sewe maande daarop… Dit is op my hart gelê om dit ook te doen. Preke gaan van die internet soos ons dit ken verdwyn… Ons het geen idee wat wag wanneer die Antichris verskyn nie…

    Mag die Liefde – die kosbare Bloed van Jesus Christus elke gelowige In Hom beskerm en bewaar – dat die Bose géén bitterheid of ongeloof of liefdeloosheid kan saai nie. Dat Sy bloed ons verseël en bewaar.

    God is getrou – Hy sál on beskerm en bewaar as Sy bruid vir Jesus Christus. God se rykste seën aan u en élke gelowige.

Comments are closed.