1

Mag ek enige iets eet wat my voorgesit word?

Ek prys die Naam van die HERE vir die leiding van die Gees wat dinge vir ons duidelik maak en ons vrae beantwoord wanneer ons nodig het om dit te weet.

Kom ons kyk na 1 Timoteus 4:1-5 [1]  Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang [2]  deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, [3]  wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken. [4]  Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; [5]  want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.”

Ek weet daar is iemand wat hierdie gaan lees wat al lank wonder of ons geoorloof is om alles te mag eet. Hier is die antwoord vir jou; reguit deur die leiding van die Gees! Prys die Naam van Jesus!

Moenie jou steur aan die leringe van verleidende geeste en geveinsde leuenaars nie! Jy mag maar daardie halaal hoender wat jy in die winkel gekoop het gaarmaak en eet, want alles wat God op hierdie aarde gesit het is goed en niks is ooit verwerplik nie! Prys Sy Naam!

Soos Jesus op geleentheid gesê het: “Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.” (Mattheus 15:11) Bid oor dit wat jy wil eet en God sal dit reinig soos daar inderdaad in 1 Timoteus 4:5 geskryf staan!

Moet jouself nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. Jesus het baie duur betaal vir die vryheid wat ons geniet en die genade waaronder ons staan. Om sand in die oë van die HERE te skop deur die Ou Testamentiese wette te onderhou maak geen sin nie. Soos Paulus in Galasiërs 5:4 waarsku: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” Dan het Jesus Christus en Sy dood aan die kruis vir jou geen betekenis nie omdat jy die Ou Testamentiese wette gehoorsaam!

Die enigste pad vorentoe sal dan wees om die hele wet te gehoorsaam… Om die waarheid te sê word ons gewaarsku dat as jy selfs net een deel van die Ou Testamentiese wette gehoorsaam dan is jy verplig om die hele wet te gehoorsaam! Jy kan dus nie kies om een deel te onderhou, maar die ander te ignoreer nie. Dis alles of niks! Jy is of 100% aan Jesus se kant of 100% nie. Daar is geen goue middel pad om te loop nie.

Wees daarom versigtig na wie jy luister, veral in hierdie tyd! Daar is baie leraars wat verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang. Gebruik die leiding van die Gees om te kan onderskei, want deur die Gees sal jy die waarheid weet! Prys die Naam van Jesus!

Mag die HERE hierdie boodskap vir wie ook al dit bedoel is aan daardie persoon se hart seën sodat dit vrug sal dra. Prys die Naam van Jesus!