Moenie kop verloor nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Iemand het eenslag gesê dat dinge nie buite beheer is wat die wêreld betref nie, maar dat alles maar net besig is om in plek te val vir die dag van die HERE om te kan plaasvind!

Ek moet sê dat ek nog nooit sulke waar woorde gehoor nie! Ek kyk nou hierdie weer oor die groot geraas wat opgeskop word rondom die nuwe Haat Spraak Wet en hoe dit na bewering leraars gaan beïnvloed om die waarheid te verkondig. Skielik kom dit by my op dat dit presies is wat die kerk in die dae van die Apostels moes deurmaak! Het dit hulle gestop? Natuurlik nie! En waarom nie? Omdat God ‘n weg vind waar dit vir ons as mens onmoontlik lyk!

Julle moet ook verstaan dat ons in die laaste dae voor die wegraping is. Hierdie goed sal nou gebeur: die Kerk van die HERE gaan gemuilband word die “V” gaan gewettig word en maak nie saak hoeveel waarskuwings ons uitstuur nie, mense gaan hulle ore toestop sodat hulle nie die waarheid hoef te hoor nie. Die rede daarvoor is omdat die wêreld mag besig is om alles in plek te plaas sodat die wêreld kan aangaan sonder God na die wegraping. Enige iemand wat na die wegraping die Woord van God gaan verkondig gaan dan aangekla word van haat spraak! Dis waarom ons nou hierdie goed sien gebeur.

Net soos hierdie mense nou hierdie veranderinge in wet tee staan, wou die gemeente in Rome ook teen die Romeinse Keiser in opstand kom oor die wrede dinge wat teen die Kinders van die HERE gedoen was. Kyk wat skryf Paulus vir hulle in Romeine 13:1-2 weer: [1] LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel,[2] sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.”

Of hierdie nuwe Haat Spraak Wet nou gaan gebeur of nie, dit gaan deur God daargestel word, want dit is soos dit moet wees. Ons is in die seisoen van die wegraping en dit wat nou gebeur is alles deel van wat in plek moet val sodat die verdrukking kan begin.

Ongeag wat ook al gebeur, ons moet die werk van die HERE aanhou doen en aanhou om die Boodskap te verkondig ongeag wat ook al gebeur, want dit is die wil van die Vader. Soos Petrus gesê het in Handelinge 5:27-29 [27] Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê: [28] Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring. [29] En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”

Daar het jy nou jou antwoord, liewe leser! Jy moet die landswette gehoorsaam wees, want dit is soos God dit wil hê, maar as daardie wette indruis teen dit wat die Bybel ons leer, dan moet ons God meer gehoorsaam wees! Prys die Naam van Jesus!

Laat hulle dus hulle wette maak as dit hulle beter gaan laat voel. Vir ons, die ware Kinders van God gaan dit geen verskil maak nie, want die Woord gaan nog steeds bedien word! Ek gaan afsluit met Jesus se woorde in Lukas 19:40 “Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.”

Moet jou daarom nie bekommer nie, want maak nie saak wat die wêreld doen nie, hulle sal nooit die Boodskap of die wat dit bring kan stilmaak nie. Daarvoor sal God sorg! Prys Sy Naam!

Op die oomblik is die wêreld is soos ‘n boot in ‘n storm see. Dit word van links na regs geslinger en oorweldig deur groot branders. As Kinders van God hoef ons nie deel van hierdie skommelinge te wees nie, want ons het die Heilige Gees aan ons kant en die wete dat maak nie saak wat gebeur nie, dit God se Wil gaan wees wat gaan see vier! Jesus is ‘n baie sterk toring om in weg te kruip as die storm begin dreun. Gebruik daardie voorreg, liewe Kind van God!

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk