Moenie mense terroriseer met die Woord van God nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Dis die Wil van die Vader dat die Woord uitgedra word, maar nie dat ons mense daarmee moet aanval of selfs verkleineer nie.

Hierdie is ‘n baie moeilike boodskap om te bring, maar die Gees wys vir my dat ek hierdie boodskap moet bring en wat Jesus wil hê, sal Jesus kry! Ek vra dus by voorbaat om verskoning as ek op tone gaan trap.

Ek weet dat sommige van julle opgewonde is oor die wegraping wat ons kan aanvoel nou baie naby is. Ek is ook een van hulle, want ons kan letterlik sien hoe die Woord van God in vervulling gaan! Prys Sy Naam!

Omdat ons sien wat besig is om te gebeur en omdat ons weet hoe verskriklik die verdrukking gaan wees, wil ons mense baie graag waarsku. Dis ook reg so dat mense gewaarsku word, maar onder geen omstandighede mag ons die vryheid van keuse by mense wegvat nie.

Ek dink baie keer dat Jesus die moeilikste werk van ons almal het. Hy sit daar in die Hemel en dan kyk Hy na al die dom goeters wat ons doen. Hy voel seker baie keer lus om self in te gryp of hardop te skreeu: “Draai links, nie regs nie!” en dan draai ons regs! Ons breek sekerlik Jesus se hart in vyf miljoen stukke elke dag… Maar Jesus weet dat Hy vir ons die vryheid van keuse gegee het om ons eie besluite te maak en daarom respekteer Hy ons keuses, al is dit soms baie moeilik.

Dis wat Jesus van ons ook wil hê; dat ons mense se vryheid van keuse moet respekteer! Hulle moet self besluit wat goed is vir hulle en ons mag daardie vryheid van keuse nie belemmer op enige manier nie, self al stem ons nie daarmee saam nie. Ek weet miskien beter as enige een van julle, behalwe Jesus, hoe moeilik dit is. Ek sit met familie lede wat geen belangstelling het om Jesus te leer ken nie. Ek het probeer om hulle te oortuig, maar die antwoord was elke slag “nee”! Nou is dit in die hande van Jesus. Ek weet hulle sal deur die vuur van die verdrukking gaan om gesuiwer te word. Ek weet ook dat van hulle verlore sal gaan omdat hulle die verkeerde keuses gaan maak en dit breek my hart! Al wat ek nou kan doen is om my lig te laat skyn sodat daar iets oor is vir hulle om aan vas te klou as die wêreld deur sy donkerste uur ooit gaan.

As julle Suider Kruis se boodskappe aanstuur aan vriende en familie, maak seker dat hulle dit wil ontvang en vra hulle dan om eerder self aan te sluit as wat jy dit elke keer self aanstuur. Op ons webruimte het jy die hele tyd beheer oor dit wat jy wil ontvang. Enige iemand kan enige tyd afteken en ek sal dit nie eers weet nie. Ek voel so sterk oor die vryheid van keuse dat die Nuus Brief eers vir iemand wat wil aanteken ‘n e-pos stuur om te bevestig of hy/sy inderdaad wil aanteken. Die keuse moet by die wat wil luister bly.

Nêrens in die hele Nuwe Testament het ek sover een voorval gelees waar of Jesus of een van die Apostels ooit die Woord van God op enige iemand afgedwing het nie. Die keuse was altyd gelaat aan die wat wil hoor en dit is Suider Kruis se beginsel ook. Soos Jesus gesê het: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.” (Mattheus 11:15) Daar staan nie geskryf “slaan hom met die yster tot hy luister nie!” Geweld is nie die antwoord nie, want al wat jy doen is om daardie persoon te verhard sodat hy of sy later nie belang stel om te luister nie.

Gaan nou in vrede en doen wat reg is in Jesus Naam.

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 164 times, 1 visits today)
Tagged , , .

One Comment

  1. Amen! Dis só waar wat u sê… Mense is net só tevrede met hoe hulle lewe en glo eenvoudig nie dat ons VOLUIT vir Jesus Christus moet lewe nie en, maar géén wrokke, haat of kwaadpraat en bitterheid – onvergewensgesindheid moet koester nie! Net gister het ek dit weer beleef… Selfregverdiging is nog een van Satan se groot, sluwe verblindingstaktieke vir die mens!

    Baie dankies aan Jesus Christus en onse hemelse Vader vir die tydige boodskappe! God se rykste seën aan u.

Comments are closed.