Baie Christene se lewens is soos ‘n rit op ‘n Tandemfiets: ons sit voor op en Jesus agter op.
So nou en dan leun ons terug en vra om hulp, maar ons bestuur self in die slaggate en slegte dinge wat ons pad kom. Dis ‘n bitter pil om te sluk as jy vir jare self in beheer van jou lewens fiets was en jy moet nou beheer oorgee aan iemand anders! Baie mense doen dit vir ‘n kort rukkie, maar die idee om agter op die fiets te sit met geen stuurstang in hulle hande nie, maak hulle so bang dat hulle dadelik weer vir Jesus agter op laat klim!
Vir die paar wat wel uithou en vir Jesus voor op die fiets aanhou laat bestuur, wag daar ‘n lewe soos geen ander nie! ‘n Lewe sonder bekommernisse. ‘n Wete dat die Here in beheer is en dat die regte dinge van self sal gebeur op die REGTE tyd! Dit is die tipe lewe wat die Here vir ons ingedagte het. Geen bekommernisse nie en om op die Here te vertrou soos ‘n kind!
Ek het vir jare self my eie lewens fiets bestuur. Dit rit was goed, maar nie perfek nie. So nou en dan het ek in ‘n groot slaggate gery sonder dat ek gekyk het, maar die Here was getrou en Hy het my daaruit gehelp soos dit ‘n goeie navigator betaam. Hy sit tog immers agterop die fiets en as jy vra om hulp, dan help Hy! Ek het gedink my lewe is perfek soos dit is: Ek was ‘n kind van die Here en ek het Sy hulp gehad wanneer nodig. Waarom dan verander aan iets wat werk? So het ek gereken…
Die Here het egter ander planne met my gehad! Daardie ander planne het aan die einde van 2005 begin toe ek op ‘n baie slegte pad beland het. Soos die gewoonte was, het ek op my eie op ‘n beter pad probeer kom, maar anders as altyd, kon ek dit hierdie keer nie regkry nie. Hoe meer ek probeer het om self dinge reg te maak, hoe erger het dit geword. Ek het later uit moedeloosheid maar het die fiets op sy eie laat loop!
Ek weet nie waar dit gebeur het nie, maar iewers langs die pad het ek en Jesus plekke om geruil. In die begin was ek tot die dood toe bang, maar ek het geweet dat net Jesus my uit hierdie gemors waarin ek is kan kry, daarom het ek Hom maar laat begaan. Sien u hoe die Here omstandighede in jou lewe gebruik om verandering teweeg te bring?
In die begin het ek agterop gesit en nael byt! Die paadjie het baie anders en baie meer gevaarlik gekyk hier van agter af as toe ek gery het! Die rotse waaroor ons gekry het, het soos berge gelyk! Die kranse massief en die afgronde baie dieper! Meer as eendag het ek gesê: “Here, ek hoop jy weet wat jy doen, want ek weet nie!” Dan het Hy terug geleun, geglimlag en gesê: “Hou net aan trap my kind.”
So het dit vir jare aangehou. Nou en dan wou ek weer beheer terugvat, maar dan het die Here vir my gewys dat Hy die geheime van fietsry ken. Mettertyd het ek begin leer om die Here te vertrou. Dit was nie maklik nie, maar soos ek stelselmatig beheer oorgegee het, het ek agtergekom dat my bekommernisse stelselmatig minder geword het. Ek kan nie vir julle beskryf hoe wonderlik dit is nie! Waar ek in die begin fiets gery het omdat ek moet, het ek nou fiets gekry omdat ek daarvan hou! Die Here voorop en ek agterop met die wind in my hare! “What a ride!”
Ek kan nie vir julle beskryf hoe bevrydend dit is om ‘n lewe soos dit te hê nie! Ek sluit my huis toe en ek weet dat alles nog daar sal wees as ek terugkom. Ek klim in my motor en ry en ek weet dat niks sleg sal gebeur nie. Ek werk vir myself en ek weet dat my besigheid genoeg geld sal genereer om te kan oorleef na die volgende maand. Dit beteken egter nie dat ek agteroor kan sit en ophou trap nie! Jy MOET aanhou trap, anders gaan die fiets staan!
Dit liewe leser is die lewe wat Jesus vir ons wil hê: om op Hom te vertrou soos ‘n kind! Ek verstaan nou waarom Jesus gesê het dat ons soos kinders moet word, want net ‘n kind vertrou onvoorwaardelik op sy ouers om die regte ding te doen. Gee die Here ‘n kans. Hy sê nie verniet dat ons Hom op sy Woord moet toets nie! U het niks om te verloor deur te probeer nie! Hopelik sal u ook vind wat ek gevind het!
Mag die Here hierdie boodskap seën.