Naasteliefde

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Jesus, help ons asseblief om die belangrikheid van naasteliefde te verstaan en daarmee saam te verstaan wat dit beteken om sagmoedig en nederig te wees. Amen!

Daar is seker nie een van ons wat nog nie gehoor het van die voorval by Schweizer-Reineke nie. Ek glo ook dat niks in die wêreld sommer net gebeur nie; daar is altyd ‘n rede agter alles en ‘n les vir ons om te leer.

Ek het die laaste ruk baie gepraat oor naasteliefde en ons optrede as Kinders van die HERE. Ek kan julle s dat naasteliefde vir die HERE uiters belangrik is. Dis een van die dinge wat gaan bepaal of jy geneem gaan word in die wegraping of nie.

Toe hierdie voorval rugbaar geword het, het ek deur die Gees geweet dat hierdie ‘n set van satan was, want eerstens was die hele voorval so opgeblaas dat die baie moeilik was om die waarheid te kon sien. Dis tipies van satan se manier van dinge doen. Tweedens het mense totaal oorgereageer sonder dat hulle presies geweet het wat gebeur het; ook ‘n kenmerk van satan se manier van werk.

Nou dat die stof gaan lê het, sien ons dat alles nie was soos wat daar aanvanklik gedink was nie, maar die skade is nou gedoen. Mense se lewens lê aan flarde en satan staan op die kantlyn en hy lag onder uit sy maag uit! En raai wat; hy het niks gedoen nie! Hy het net die saadjie geplant en eenkant gaan staan en kyk hoe ons onsself vernietig!

Liewe Kind van die HERE: die van julle wat al ‘n rukkie hier is sal weet dat ek geensins politiek praat nie. Ek glo baie vas daaraan dat die kerk hom nie by politiek moet inmeng nie en dis waarom ek nie daarby betrokke raak nie. Ek bring hierdie voorval op as ‘n les en om te wys aan julle hoe satan werk! Pasop vir hom, want hy is slinks; baie meer as wat jy ooit sal besef!

Kom ons kyk gou weer na die Vrugte van die Gees soos opgeteken in Galasiërs 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Hoeveel van hierdie eienskappe het julle raakgesien tydens daardie voorval? As julle antwoord was nie een nie is; dan is julle reg!

Begin die vorige boodskap wat ek gebring het oor Kolossense 3 nou vir julle sin maak? Ek gaan vir julle die kern verse aanhaal onder.

Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. (Kolossense 3:8)

Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. (Kolossense 3:12-13)

Verstaan julle wat die Gees vir ons wil leer? As jy toorn, woede en boosheid uit jou hart uit kry, sal daar plek wees vir ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Dan sal jy begin om die Vrugte van die Gees te dra soos ‘n Galasiërs 5:22 uitgebeeld word.

Iemand het eenslag gesê ons almal woon saam op hierdie aarde, ongeag wie jy is, in watter kerk jy is of wat die kleur van jou vel is. Ons almal bloei rooi as ons seerkry. Ons almal asem dieselfde suurstof in en ons almal wil net die beste vir ons kinders hê. Waarom laat ons dat toe dat satan ons soos ‘n viool speel?

Verstaan julle nou hoe satan werk en waarom naasteliefde so belangrik is? Naasteliefde is die sleutel tot baie dinge. Deur naasteliefde toe te pas, kan ons baie van satan se werke onskadelik stel! Moenie naasteliefde oorboord gooi nie.

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk