Nog ‘n waarskuwing om gereed te maak

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Jesus het ons die afgelope paar jaar verskeie waarskuwings gegee oor wat binnekort oor hierdie aarde gaan kom, maar mense is blind…

Die van julle wat nie weet nie, daar gaan tussen Sondag, 14 Mei en Maandag, 15 Mei ‘n bloed maan wees wat in Suid Afrika sigbaar gaan wees. Die area wat die meeste geraak gaan word deur hierdie verskynsel, gaan Suid Amerika wees, maar ons gaan ‘n gedeelte daarvan kan sien hier in Suid Afrika, maar dan gaan die wat dit wil sien, vroeg moet opstaan!

As ek reg is, dan gaan die van julle wat dit graag wil sien vroeg moet opstaan, want dit gaan van 05h30 Suid Afrika Tyd sigbaar wees. Eintlik gaan die verduistering al om 04h30 begin, maar totaliteit, dis wanneer die maan geheel en al in die skaduwee van die aarde gaan inbeweeg, gaan eers om 05h30 begin tot die son gaan opkom. Ons gaan totaliteit dus net vir ‘n kort rukkie kan sien voor die sonsopkoms ‘n einde daaraan gaan maak. Die wat in Durban woon, gaan baie min van die verduistering sien indien enige, terwyl die wat in die Kaap woon baie meer gaan kan sien!

Ek weet julle verwag nou ‘n Bybel gedeelte met baie waarskuwings, maar ek gaan eerder aan julle verduidelik hoe hierdie verskynsel werk.

‘n Sonsverduistering is wanneer die maan voor die son inbeweeg en die maan se skaduwee op die aarde val. Let op dat die maan baie kleiner as die son is, maar die afstand van die son na die maan is soveel groter en daardie afstand maak dat dit vir ons lyk of die son agter die maan inpas, terwyl dit in der waarheid nie so is nie.

‘n Maansverduistering is wanneer die maan in die aarde se skaduwee inbeweeg en dit is wat ons Maandag oggend gaan sien gebeur. Weereens is die maan baie kleiner as die aarde en dis waarom dit op ‘n stadium perfek in die aarde se skaduwee gaan pas wat dan die verskynsel gaan maak wat ons ‘n bloed maan noem.

Kom ek wys dit vir julle met die volgende prentjie.

Die aarde het twee soorte skaduwee: die Penumbra en die Umbra. Laasgenoemde is die donkerste van die twee. Wanneer die maan in die Penumbra in beweeg, kom baie mense dit nie eers agter nie, want die maan is net effens donkerder as normaal. Dis wanneer die maan in die Umbra inbeweeg dat ons agterkom dat iets besig is om te gebeur. Aanvanklik word die maan net donkerder soos dit in die umbra inbeweeg, maar as dit geheel en al in die umbra is, dan kry ons die verskynsel wat ons bloed maan noem soos dit op die prentjie onder gewys word.

Ek was so gelukkig om so ‘n verskynsel eenslag in my lewe te kon sien. Dit was baie lank gelede en ek kan elkeen van julle verseker dat dit ‘n mens bang maak om dit te aanskou. Eers is jy verbaas as jy die maan sien donkerder word, maar as dit daardie diep rooi drie-dimensionele beeld begin kry, dan staan jy in absolute verbasing en ‘n bietjie vrees!

Mens kan dan verstaan waarom die mense van ouds gedink het dat iets vreeslik gaan gebeur as hulle iets soos dit gesien het! Die hele idee was dat mense moet oplet en kyk.

Ons wat Kinders van God is verstaan wat gebeur, terwyl die wêreld in verbasing kyk na ‘n mooi beeld sonder dat hulle die waarskuwing agter dit raaksien! Presies soos in die tyd van Noag… Mense was verbaas oor Noag wat skielik uit die bloute ‘n baie groot skip gebou het in die middel van nêrens en ver van enige see of rivier! Hulle het gelag en gespot en nie verstaan wat besig was om te gebeur nie.

Presies dieselfde gebeur vandag! Ons weet wat gaan gebeur, maar mense lag en spot en hulle dink ons is van ons koppe af as ons daaroor praat, net soos met Noag… Liewe lesers, onthou Jesus se woorde: as hulle vir jou lag en spot, verwerp nie vir jou nie, maar hulle verwerp vir Jesus! Moet daarom nie teleurgesteld wees nie en moet dit nie persoonlik opvat nie. Die wat in die wêreld is, het die wêreld lief, maar die wat in God is, het God lief.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

 

(Visited 162 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .