1

Ons tyd is min

Ek gedroom dat ek in ‘n vertrek van een of ander aard was…

Die een muur van die vertrek was deurskynend en ek kon die aarde om sy eie as sien wentel, maar baie vinniger as normaalweg. Ek het gestaan en kyk hoe die wolke die allermooiste patrone vleg. Skielik het dit gevoel soos iemand wat ‘n verkyker voor jou oë verstel, want ek kon deur die wolke tot binne in ‘n huis iewers sien. Daar was drie mense in die omgewing: ‘n vrou was in die kombuis besig om aartappels te skil, ‘n man het op ‘n rusbank gesit en TV kyk en buite op die sypaadjie het ‘n kind aangehuppel gekom. Ek kon nie hulle gesigte sien nie, maar hulle het gelyk soos ‘n dood gelukkige gesin. Hulle was egter onbewus van my en die persoon saam met my se teenwoordigheid. Skielik was ek terug in die vertrek met die deurskynende muur en het ek weer na die aarde en die wolke gekyk. ‘n Stem het vir my gesê: “Gaan sê vir My mense hulle tyd is baie, baie min.” Hier het ek wakker geskrik.

Ek vermoed die rede waarom ek die huisgesin gesien het in my droom is omdat die HERE aan ons wou wys wat Hy elke dag sien wat ons doen en dat Hy elke dag saam met ons is, selfs al is ons nie van sy teenwoordigheid bewus soos uit die droom afgelei nie. Ons gaan elke dag aan met ons daaglikse take asof niks gaan gebeur nie; net soos die drie mense in die droom. Die Bybel beskryf die wegraping as iets wat in ‘n oogknip gaan gebeur. (1 Korintiërs 15:52) Weet u hoe vinnig is ‘n oogknip? Die slim mense het bereken dat ‘n oogknip gemiddeld een honderdste van ‘n sekonde duur. Met ander woorde, hierdie wêreld gaan binne een honderdste van ‘n sekonde vir onherroeplik verander word. Is julle gereed daarvoor? Of dink jy dat jy dat jy die geleentheid gaan hê om op die laaste sekonde gereed te maak?

Die HERE het vir my Jakobus 4 gegee as ‘n stawende boodskap vir die droom. Die gedeelte handel oor hartstogte en oordeel. Elke dag baklei baie van ons vir ons ‘n pad in die wêreld oop, maar ons verkry niks daaruit nie. Ons bid en bid, maar ons ontvang nie, want ons bid verkeerd. As ons dan ontvang, dan spandeer ons dit wat God ons gegee het op welluste! Hoe groter en duurder die item, hoe beter! Dit hoort nie so nie!

Ons wil God en die wêreld dien! Sondae sit ons in die kerk en een dag in die week gaan ons biduur toe, maar Vrydag en Saterdag aande drink ons saam met ons vriende en hang ons wêreldse vermaak aan! Weet ons dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? (Jakobus 4:4) As jy ‘n vriend van wêreldse genot wil wees, word ‘n vyand van God!

Hou op om groot te praat en te dink dat jy beter is as die volgend een! Baie Christene dink mos omdat die HERE hulle meer seën in die aardse besittings wat hulle het, hulle beter is as die volgende een… Weet jy nie dat God die wat hoogmoedig is weerstaan nie, maar die nederiges gee Hy genade nie? (Jakobus 4:6) God HAAT hoogmoed!

Ons oordeel en praat kwaad van mekaar tog sê die Bybel vir ons in Jakobus 4:11 dat as ons ander oordeel, dan is ons nie meer daders van die Wet van Christus nie, maar regters. Net een is die Wetgewer en net Hy is by magte om te red en te verderf, maar jy, wie is jy om ‘n ander te oordeel?

Liewe leser, dink jy nog steeds jy is gereed? Moenie dink die HERE veroordeel jou nou nie. Dis glad nie die doel van hierdie gedeelte nie. Die doel is om aan jou te wys waar die haakplekke is sodat jy dit kan regstel voor dit te laat is. Die HERE staan gereed, in liefde om te vergewe en te herstel wat satan verwoes het!

Daarom, nader tot God en Hy sal tot jou nader. Reinig jou hande en suiwer nou jou hart. Gaan soek vir jou ‘n plek waar jy vir ‘n minuut alleen kan wees sonder steurings. Bid en vra die Heilige Gees om vir jou te wys waar jy verkeerd gegaan het. Dit wat eerste in jou gedagtes opkom, wat dit ook al mag wees, is dit wat verkeerd is. Vra vergifnis by die HERE en maak reg wat verkeerd is.

Die HERE wil jou vergewe en Hy staan gereed om dit te doen. Daar is geen rede om skaam te wees nie, want die HERE weet klaar wat dit is wat jy gedoen het. Hy was daar en Hy het gesien! Wat jy ook al gedoen het, maak nie saak hoe erg nie; sal vir altyd begrawe en bedek word en die HERE self sê Hy sal daaraan NOOIT WEER dink nie! Sien jy? Die HERE is nie vir jou kwaad nie. Hy WIL jou vergewe, maar jy moet die eerste stap neem! Prys JESUS!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!