Ontvang Jesus terwyl daar nog tyd is

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Daar is by my geen twyfel dat die wegraping van die Kerk van God binnekort gaan plaasvind nie. Mens kan dit sien in die boodskappe wat ek die laaste ruk by Jesus kry om te pos.

Dis nie net die gebeure in die wêreld wat ‘n mens stom laat nie. Nog nooit in die geskiedenis van die mens het so baie so vinnig skeef geloop nie. Jesus het ons vooraf gewaarsku dat as ons al hierdie dinge sien gebeur, dan moet ons weet dat ons tyd naby is; selfs voor die deur en dit is! Prys die Naam van Jesus!

In Sjina op die 21ste Mei 2020 met die opening van die Sjinese Parlement het die lug oor Beijing om 15h45 in die middag totaal donker gegaan. Slegs tien minute voor dit was dit ‘n helder sonskyn dag; toe totale donkerte! Daar is geen verduideliking vir hierdie verskynsel nie.

‘n Dag later op die 22ste het een van die Sjinese politieke partye ‘n opelug seremonie gehou in die stad van Guanzhou in die suide van Sjina. Skielik het dit begin reën. Dit het so baie gereën dat die reën tot 635mm diep in dele van die stad was.

‘n Paar dae voor hierdie verskynsel het hael so groot soos hoender eiers in die stad van Chongqing, in die ooste van Sjina neer gereën.

Dis geen geheim dat Sjina oorlog verklaar het op Christene nie. Oral word Christen kerke afgebreek, Bybels verbrand, Christene vervolg en in tronke gegooi.

Hierdie is nie net die enigste voorval nie. In Oos Afrika in die lande van Etiopië, Somalië en Kenia onder andere is daar ‘n plaag van sprinkane; biljoene van hulle. Daar word geskat dat hierdie swerms sprinkane so groot kan wees soos 70 biljoen elk. ‘n Swerms van hierdie grote kan soveel eet as 35,000 mense in een dag! Hierdie plaag het al uitgebrei na Sadi-Arabië en sover as Indië.

Ek het sover maar net twee gevalle uitgelig, maar daar is nog baie meer as dit. Regoor die wêreld gaan dit so! As dit nie hael so groot soos hoender eiers is wat val nie, dan is dit orkane wat sterker is as enige iets wat die mens al voorheen gesien het.

Daar is by my geen twyfel dat ons tyd op aarde baie vinnig besig is om uit te loop nie en dis waarom die HERE baie tyd spandeer om Sy Kinders gereed te kry vir die wegraping. Julle sal opgelet het dat die boodskappe die laaste ruk alles gaan oor hoe om met God te versoen, satan te weerstaan en hoe om daardie klein dingetjies wat nog verkeerd is in jou lewe reg te maak. “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” (Jakobus 4:7)

Daar is nie meer tyd vir kerk speel nie. Daar is nie meer tyd om wydsbeen te loop met een voet in die wêreld en die ander een in die kerk nie. Jesus waarsku ons in Jakobus 4:4 “Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”

Wil jy ‘n vyand van God wees, liewe leser? Kry jou lewe dan reg en doen dit nou! “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:8)

Ek weet nie hoeveel tyd ons oor het nie; alles in my sê “binnekort” en glo my, liewe leser, jy wil nie agterbly nie… Wat mense nie besef nie is dat die HERE se vrede en Sy genade op hierdie oomblik op ons almal skyn. Hoe gaan die wêreld daarna uitsien as daardie vrede en genade weg is? Bandeloosheid en wreedheid gaan aan die order van dag wees… Dis waarom ek sê dat jy nie wil agterbly nie. Daarom, liewe leser, as jy nog nie vrede gemaak het met Jesus nie, doen dit nou, asseblief! Dis nog nie te laat nie!

Kom bid saam met my: Jesus; ek wil vandag uitroep soos daardie tollenaar waarvan U ons vertel het in U Woord: wees my arme sondaar genadig! Ek het baie dinge in my lewe verkeerd gedoen, maar vandag wil ek een ding reg doen. Ek wil vir U uitnooi om beheer van hierdie lewe te neem. Ek wil vra dat U my al my oortredinge sal vergewe en dat U my sal skoonwas in U bloed, my HEER. Ek kies vandag vir U, my HEER, om vir altyd Koning van my hart te wees. Dankie dat U my vergewe het en dankie dat ek nou hier kan opstaan wetende dat my oortredinge vergewe is deur die Bloed van die Lam! Prys die Naam van Jesus! AMEN!

Prys die Naam van Jesus!