Dis nou al meer as ‘n weet wat Jesus aanhou dat ek hierdie storie moet deel, maar ek was nie seker of ek moet nie, maar nou het ek bevestiging gekry dat ek dit moet doen!
Ek gaan die horlosie so ‘n bietjie ver moet terugdraai om die agtergrond vir julle te skep. Toe ek vyf jaar oud was het my pa gedink dat dit tyd is dat ek ‘n hond moet kry, want sy siening was dat honde vir jong seuns verantwoordelikheid leer. So het my pa eendag by die huis aangekom met ‘n maltesie, wat ek “Klonkie” genoem het; geen idee waar daardie naam vandaan gekom het nie. Die hond was nie meer jonk nie, maar gou-gou was ek en die hond onafskeidbaar gewees!
Toe ek skool toe begin gaan het, het Klonkie vir my gewag tot ek teruggekom het. Ek was by die hek gaan haal en dan het ek ‘n tong bad gekry van blydskap dat ek weer terug was by die huis. Dan was dit heeltyd speeltyd tot dit tyd was om die huiswerk te doen.
Ongelukkig moet alle goeie dinge tot ‘n einde kom en toe die dag kom dat Konkie moes teruggaan na Jesus toe was die afskeid bitter swaar. Ek het myself belowe dat ek nooit weer geheg sal raak aan ‘n hond nie en ek het ook nie.
Toe ons van die Kaap na Pretoria getrek het, het my skoonma by ons kom bly. Sy het twee honde gehad. Toe die twee honde dood gegaan het, het my swaer daar aangekom met ‘n klein worshondjie wat so jonk was dat hy skaars kon regop staan. Ons het hom “Frikkie” genoem. Frikkie was baie geheg aan my, maar ek het nie toegelaat dat hy of enige van die ander honde onder my vel inkruip nie. Ek het eerlik nie kans gesien vir nog ‘n afskeid nie. Ek behandel hulle goed, maar dis waar dit bly.
‘n Bietjie meer as ‘n jaar gelede het ‘n vriendin van my vrou vir ons vertel van iemand wat ‘n worshondjie het wat hulle baie dringend ‘n huis voor soek. Die persoon moes verhuis en die plek waarheen hulle sou gaan laat nie honde toe nie. Ons het gedink dat die hondjie ‘n goeie maatjie vir Frikkie sou wees en so het ons vir “Milo” gekry.
Wat ons nie geweet het nie, was dat Milo vreeslik getraumatiseerd was. Nie van sy vorige eienaar af nie, maar van die mense wat saam in die huis gebly het. Milo het vir hom ‘n den gemaak onder een van die sitkamer stoele en daar het hy weggekruip en vir almal gegrom wat daar verby geloop het. As jy te naby gekom het, dan het hy met spoed onder die bank uitgehardloop en jou aan die voete gebyt. Ek was baie so gebyt. Ek was later so kwaad vir hom dat ek gewonder het of ons die regte ding gedoen het.
Vir amper ‘n jaar; omtrent nege maande, het dit so aangegaan. Ek het later gebid en vir Jesus gevra om asseblief iets te doen, want ons kon dit nie meer uithou nie. Milo het opgehou om te grom en sommer net onder die bank uitgeloop en jou aan die hakskene gebyt sonder enige waarskuwing. Jy het nog so lekker met iemand gestaan en praat dan voel jy hierdie vreeslike pyn aan die voete!
Ek gaan met julle eerlik wees: ek het werklik nie gedink dat enige iets sou gebeur of verander met Milo nie ten spyte van my gebede, maar Jesus het mos Sy manier van dinge doen… en Sy tyd is moes nie ons tyd nie!
Iewers langs die pad het Milo begin verander. Hy het my gekies as sy “persoon”; die een wat die meeste deurgeloop en gebyt was! Hier by die huis loop hy oral agter my aan. Hy kom kyk gereeld in die kantoor of ek nog ok is. Buite loop hy die hele tyd agter my aan en is vreeslik nuuskierig oor alles wat ek doen. As hy my nie kan kry nie, dan sny hy my spoor tot hy my kry waar in die huis ek ook al is en dan is hy so bly soos ‘n kind wat ‘n geskenk gekry het as hy my kry!
Ek wou nie ‘n hond gehad het of weer naby aan een wees nie, maar nou het ek een en al wat dit gekos het was gebed! Jesus het vir my ‘n hond gegee toe ek nie een wou hê nie, want Hy het van beter geweet!
Die punt van hierdie boodskap is dat ons nooit die krag van gebed moet onderskat nie. Ja, ons raak ongeduldig en ons raak moedeloos. Dis menslike emosies daardie en daar is niks mee verkeerd nie, maar weet dat Jesus van alles weet en dit wat jy vir Hom vra in gebed, SAL Hy doen!
Een ding moet julle onthou en dit is Jesus se humorsin. Pasop vir daardie een, want dit wat jy nie verwag nie is dit wat jy gaan kry! Ek het nie verwag om ooit weer ‘n hond te kry nie, en nou het ek een; een wat die wêreld van my dink! Praat van onvoorwaardelike liefde en jy sien dit in honde. Hulle gee nie om wie of wat jy is nie. Jy is sy “persoon” en dis al wat saak maak.
Mag Jesus hierdie boodskap aan julle harte seën!