Die Gees lei my om oor hierdie onderwerp te skryf en ek weet dat ek sekerlik nou op tone gaan trap.
Kersfees is amper hier en ek weet maar net te goed dat daar van julle is wat nie in Kersfees glo nie. Vir my is Kersfees die mooiste deel van die jaar en dit gaan nie oor ‘n boom wat vol liggies is en ‘n boepens ou man met ‘n rooi pakkie aan nie. Vir my gaan dit oor die wonder van ‘n maagdelike geboorte en die geboorte van ‘n baba wat uiteindelik Sy lewe uit liefde vir ons sou gee as losprys sodat ons nie verlore hoe te gaan nie, maar mede erfgename in die ewige lewe kan wees! Dit is waarom Kersfees vir my belangrik is.
Dis reg dat Jesus nie op Kersdag gebore is nie. Niemand weet meer wanneer daardie dag was nie en hulle kan dit sekerlik ook nie meer uitwerk nie. Die datum wat ons Kersfees op vier is gekies omdat dit die enigste dag was wat geen ander geloof enige iets anders op hulle kalenders gehad het wat sou bots met Kersfees nie. Dis ‘n dag wat gekies is met ‘n doel, sodat die wat nie in Jesus glo nie, moet besef dat iets wonderlik op hierdie dag gebeur het. Die wat nuuskierig was, sou navraag gedoen het!
Deur die viering van Kersfees is daar vandag ongelooflik baie mense van ander gelowe wat weet wat Kersfees beteken en wat vir Jesus ken! Gaan vra maar vir enige Moslem of hy vir Jesus ken en hy sal vir jou baie van Jesus en van Kersfees kan vertel! Ek het op geleentheid saam met Moslem mense gewerk en ek was verbaas oor alles wat hulle van Jesus weet, ten spyte daarvan dat hulle nie in Hom geglo het nie.
Ek is vandag nie skaam om dit te erken nie, maar ek was ook op ‘n stadium iemand wat bevraagteken het en dit dan veroordeel het. Ek het mense wat op ‘n Saterdag kerk toe gaan veroordeel omdat die Bybel duidelike sê dat ons op die sewende dag moet rus en ‘n Saterdag is nie die sewende dag nie! Ek het ook mense met tatoeëermerke veroordeel omdat ek gedink het dat daar geen manier was wat God sulke mense se siele kon red nie. Dank die HERE dat Hy nog steeds mense se harte en hulle persepsies verander!
Die HERE het eendag vir my gevra of ons dan nie veronderstel is om Hom elke dag aan te roep nie. As ons dan veronderstel is om Hom elke dag deel van ons lewens te maak, wat maak dit dan saak op watter dag ons Sondag vier? Ek was stomgeslaan, want dit was waar! Ons is veronderstel om die HERE elke dag deel van ons lewens te maak en as ons dit doen, dan maak dit nie saak of jy kerk toe gaan op ‘n Saterdag, op ‘n Vrydag of selfs ‘n Maandag nie! Jesus is wat belangrik is en nie die dag waarop ons kerk toe gaan nie! Prys die Naam van die HERE!
Die dag wat ek regtig stom was en nie geweet het wat om te sê nie, was die dag wat die HERE ‘n man vol tatoeëermerke my pad langs gestuur het! Ek het nog nooit kennis gemaak met ‘n groter Kind van die HERE as daardie man nie. Ek het hom gevra oor die tatoeëermerke en hy het gesê dat hy dit aspris nie laat afhaal het nie, omdat hy elke dag herinner wil word aan hoe diep Jesus gegaan het om hom te red. Wat ‘n getuienis!
Julle weet, ons oordeel so maklik en ons almal het persepsies van hoe ons die lewe sien. Ons kyk na dit wat ons beskou as reg en na dit wat by ons prentjie van Christenskap inpas, maar ons vergeet dat God die mag het om enige iets te kan doen. Hy kan selfs van klippe vir Hom ‘n nageslag opwek as Hy wil!
Satan is listig en hy is voortdurend besig om ‘n wig in die Kerk van God in te slaan om te sorg dat daar verdeeldheid in die kerk is. Ek het al gesien hoe groot en bekende leraars hierdie verdeeldheid van hulle kansels verkondig omdat hulle deur satan verblind word. Hulle besef nie wat dit is wat hulle doen nie en so loop mense met hierdie persepsies rond en help hulle vir satan om die wig nog dieper in te slaan sonder dat hulle dit besef. Ek weet, want ek was self daar! Ek het dit ook gedoen uit onkunde uit en omdat ‘n mense altyd na jou leraar luister. Dis waarom Jesus sê dat ons wat leermeesters is ‘n groter oordeel gaan ontvang.
Dis dat die grootste rede waarom ons eerder na die Gees van die HERE binne in ons moet luister as na mense, want dan sal jy die waarheid hoor en jy sal ook die waarheid van die leuen kan onderskei. Vandat ek met Suiderkruis begin het, was my siening nog altyd dat mense nie na my moet luister nie, maar eerder na die Gees van die HERE binne in hulle. Ek is ‘n mens wat foute kan maak, maar die Gees maak nie foute nie! Prys Sy Naam!
Moenie dinge doen of glo net omdat iemand vir jou so gesê het nie, want daardie persoon is ‘n mens wat foute kan maak. Luister na die Gees van God in jou. Dis hoe jy die waarheid sal onderskei. As jy hierna nog steeds voel dat Kersfees nie vir jou is nie, dan gaan ek saam met jou bly wees, maar dan moet dit ‘n oortuiging wees wat jy deur die Gees ontvang het en nie omdat iemand vir jou so gesê het nie.
Vir my bly Kersfees nog steeds ‘n wonderlike tyd van die jaar. ‘n Tyd wat ek my net kan voorstel hoe dit moes gewees het om om daardie krippie te kon staan en na baba Jesus te kon kyk. Ek wens dat ek daar kon wees! Ja, die wêreld het Kersfees verander in ‘n kommersiële geldmakery en dis nie waaroor Kersfees gaan nie, maar daar is ook ‘n mooi gedeelte daaraan en dis die geboorte van ons Heiland en Saligmaker! Dis die gedeelte wat belangrik is en wat ons nie moet vergeet nie.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën! Prys Sy Wonderlike Naam!