Van klein na groot deur Jesus

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek het vandag vir julle ‘n getuienis en dit is een van my eie. Ek is seker daarvan dat julle net so baie getuienisse van julle eie het, maar hierdie een gaan oor hoe Suider Kruis begin het.

Suider Kruis het in 2010 begin as ‘n reeks artikels oor hoe om gered en gedoop te word wat ek vir vriende en familie geskryf het. My vriende wat baie beïndruk met dit wat ek geskryf het en het gevra dat ek moet aanhou en baie gou het Suider Kruis gegroei tot 38 lede. Groei in die begin was stadig en ek het meer as een keer gewonder of ek die regte ding doen. Ten spyte van my twyfel, het ek aangehou omdat dit na die regte ding gevoel het om te doen.

Jesus het vir ‘n ‘n droom gestuur wat ek tot vandag toe duidelik kan onthou. Ek en my vrou het op daardie stadium in ‘n woonstel in die Kaap gewoon wat ons saam gekoop het. Die woonstel was regoor die vloot/weermag basis naby die hoeke van Voortrekker weg en die N7. Ons het op die heel boonste vloer (20ste verdieping) gebly. Die uitsig van daar bo af was natuurlik asemrowend. Op ‘n helder dag kon jy tot by die Groen Punt Stadion sien en ook vir Robbin Eiland.

In my droom was ek by die huis. Iewers in die agtergrond het ‘n radio saggies gespeel. Dit was vreemd, wat ek het nie ‘n radio gehad nie. Skielik het die musiek opgehou en het die omroeper se stem oor die lug gekom. Dit was ‘n noodberig en hy het mense gewaarsku om so gou as moontlik te vlug na enige hoogliggende gebied, want ‘n tsunami was op pad na Kaapstad toe.

Terwyl ek kyk, het ek gesien hoe die see skielik begin styg. Ek het vir die grootste gedeelte van my lewe naby die see gewoon en ek het nog nooit water so vinnig sien styg nie! Kaapstad was bedek met water in ‘n kwessie van sekondes, maar dis nie waar dit geëindig het nie. Die water het aangehou styg: Ysterplaat, Maitland en Kensington was volgende en toe het die water teen my woonstel vas gespoel. Die water het aangehou styg tot dit onder die balkon van my woonstel vas gespoel het en daarna het niks verder gebeur nie. Die water het sulke klein brandertjies gemaak, maar niks verder gestyg nie.

Die snaakste is, dat ek glad nie bang was nie, maar eerder nuuskierig! Ek het gewonder hoe ver die water na die noorde toe strek en het geloop na ‘n ander venster om te gaan kyk. Toe ek daar kom, was daar geen water nie. Die water wat aan die ander kant van die woonstel was, was ook weg!

Terwyl ek my daaroor verwonder het, het ek my skielik in die straat voor die woonstel bevind. Water het teen die gebou afgestroom wat ‘n bewys was dat daar werklik baie water was. Soos die water teen die gebou afgestroom het, het dit bakstene losgeruk en dit het afgeval grond toe. Mense het by die ingang portaal uitgehardloop gekom uit vrees uit. Ek het vir hulle geskreeu om te oppas vir die bakstene. Sommige het geluister en het teruggedraai binne in die gebou in, maar ander het my waarskuwing geïgnoreer en het aangehou hardloop, net om deur die vallende bakstene getref te word.

Ek het gewonder of my motor in die ondergrondse garage nog veilig was. Ek het daarheen gestap. Oral was daar water wat besig was om weg te vloei. In die garage was ‘n motor, maar dit was nie myne nie. Die motor het ‘n afslaan kap gehad en die binnekant was vol bokse gepak. Ek het die bokse begin uitpak en op die vloer by die bestuurder se kant het ‘n brief gelê. Ek het gehoop dat die brief sal verduidelik wat alles beteken en het die brief haastig oopgemaak.

Die papier binne in die koevert was van daardie dikkerige duur papier en daar was met goue ink op die papier geskryf. Die skrif het onmiddellik verdof en het onleesbaar geword. Dit het gelyk soos iemand wat sonder sy bril probeer lees. Die skrif was daar, maar jy kon dit nie lees nie. Dis waar ek wakker geskrik het.

Ek het baie gewonder oor die droom en Jesus het met tyd vir my die betekenis gegee. Die water was ‘n groot menigte mense wat ek deur Suider Kruis sou bedien. Ek weet nie presies hoeveel mense in hierdie bediening is nie. As ek die op Facebook, Twitter, MeWe, Telegram en die Nuusbrief bymekaar tel, dat kom ek uit op ‘n getal van 2,800 mense, maar ek weet dat dit nie al is nie. My boodskappe woed aangestuur na nog mense wat ek nie van weet nie en ek pos ook op ander groepe behalwe die hierdie. Ek weet dus glad nie presies hoeveel nie, maar die wat ek het is ongelooflik baie! Prys die Naam van Jesus, want Sy Woord is Waarheid!

Die mense wat ek gewaarsku het van die vallende bakstene sien ek gereeld gebeur. Jy kan praat, verduidelik en selfs waarsku, maar mense luister nie altyd nie. Dis daardie vryheid van keuse ding wat ek so baie die afgelope tyd oor gepraat het. Mense moet hulle eie keuses maak en ons mag daardie keuse nie beïnvloed nie. Ons mag vir mense die alternatiewe pad wys, maar hulle moet self daardie besluit maak.

Die betekenis van die motor met die baie bokse in, weet ek nie, maar ek vermoed dit het iets te doen met die beloning wat vir ons almal wag. Dis ook waarom die skrif in die brief verdof het sodat ek dit nie kon lees nie. Dis nie vir my gegee om daardie gedeelte van die droom nou al te weet nie. Met tyd sal ek dit wel verstaan en ek vertrou daarom op Jesus dat Hy dit aan my bekend sal maak as die tyd daarvoor gekom het.

Jesus het gekom en my stoutste verwagtinge oortref. Toe ek met Suiderkruis begin het, het ek gedink dat dit ‘n klein groepie gaan wees wat vandag daar gaan wees en môre weer weg soos ‘n oggend dou, maar Jesus het vir my gewys dat Hy groter planne het as dit! Hy het almal van julle na my toe gestuur; Prys Sy Wonderlike Naam!

Ek het onlangs met ‘n Suider Kruis groep op Telegram begin en dit is klaar besig om uit sy nate te bars! Wat begin het as ‘n manier om my boodskappe aan mense te bring het nou ‘n lewe van sy eie! Mense bemoedig mekaar, bid vir mekaar, stuur teksverse, musiek en video’s en dit maak my hart so bly om te sien hoe Jesus werk! Wat ‘n voorreg is dit nie om vir Jesus te dien nie!

Binnekort gaan ek my een duisendste boodskap vir Jesus skryf! Ek sal julle op hoogte hou wanneer dit gebeur! Prys die Naam van die HERE!

3 Comments

  1. Môre geliefde in Christus. Die mense wat jy kan sien wat Suiderkruis volg is 2,800 maar omdat die see van mense tot by die 20ste verdieping gekom het in jou droom is daar al 56,000 (2,800 x 20) wat deur Suiderkruis geraak word. As jy elke keer wil weet hoeveel mense deur Suiderkruis geraak word, maal maar net die hoeveelheid mense wat jy kan sien met 20! Dit is die betekenis wat die 20ste verdieping in jou droom het.
    Geseende dag en mag jy geseend wees in al jou weë en mag die Vader jou paaie gelyk.

  2. Prys Die Here dankie vir so mooi getuinenis dit is pragtig en ek glo en vertrou daar gaan nog baie baie meer mense by kom.

  3. God sal u en u geliefdes beloon vir u getrouheid. Baie dankies ook aan u.

    Alle lof en eer aan onse hemelse Vader en onse Here Jesus Christus.

Comments are closed.