Versoekinge van satan sal daar altyd wees en niemand word ontsien nie; nie eers Jesus was nie.
In Lukas 4 lees ons hoe Jesus nadat Hy deur Johannes in die Jordaan Rivier gedoop was deur die Gees in die woestyn ingelei was vir 40 dae. Na die hierdie 40 dae het Jesus honger geword en dis toe dat Satan sy opening sien om Hom te versoek. Ek gaan nie die hele storie hier herhaal nie, want ons almal ken dit, boonop kan julle dit self gaan lees in Lukas 4.
Baie mense dink dat satan slim is, maar dis nie heeltemal reg nie. Hy is slinks en dis waar die verskil inkom. Slinks beteken uitgeslape, skelm, lui, oneerlik en agterbaks. Satan is lui en hy wil daarom nie te hard werk nie, dis waarom hy vir jou kry om al die harde werk te doen. Hy gebruik jou om jouself te inkrimineer! Kyk net wat het hy met Eva gedoen in die tuin van Eden (Genesis 3).
“Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Genesis 3:1)
Sien julle hoe slinks is hierdie vraag? Satan vra nie direk vir Eva wat dit is wat God gesê het nie; hy kom met ‘n ompad en vra of dit so is dat God gesê het hulle mag nie van al die bome eet nie. ‘n Vraag soos dit laat ‘n mens onmiddellik wonder of dit werklik is wat God bedoel het of nie.
“Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (Genesis 3:4 en 5)
Hier paar satan die reine waarheid, maar wat satan nie vir Eva sê nie is wat die gevolge van haar keuse gaan wees en dat God dit nooit bedoel het dat ons daardie gewig om reg van verkeerd te kan onderskei moet dra nie! Hy sê ook nie vir haar hoe ons as mens vir die volgende paar duisend jaar met daardie keuse gaan sukkel nie! Dis hoe satan se taktiek werk: eers laat hy jou wonder en dan geen hy vir jou die feite, maar net die helfte van die waarheid! En dan trap jy in die strik omdat jy ‘n besluit geneem het op onvolledige feite. Nou gaan ons terug na Lukas 4 toe.
Die eerste versoeking: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word.” (Lukas 4:3) Dis ‘n feit dat Jesus die Seun van God is en Satan weet dit, maar net soos met Eva baie jare gelede, stel satan weer die feite eerste. Jesus weet egter dat as Hy gaan luister na satan, hy God ongehoorsaam gaan wees en Hy het satan ook so geantwoord.
Die tweede versoeking: “Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.” (Lukas 4:6) Weereens praat satan die waarheid, maar dis net die helfte van die waarheid. Satan het mag wat deur God aan hom gegee is, maar satan deel NOOIT sy mag nie. Nie eers met sy demone deel hy enige mag nie, so waarom sal hy sy mag nou deel? Weer het Jesus dit geweet en hom geantwoord dat jy vir God alleen moet aanbid!
Die derde versoeking: “Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer. Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.” (Lukas 4:9-11) Satan is nie dom nie. Hy weet dat hy nie vir God kan lieg nie. Dit het hy in die vorige twee versoekings geleer! Alles wat hy hier sê is die waarheid, maar wat hy sê nie wat die gevolge van so ‘n besluit gaan wees nie. Presies dieselfde taktiek as wat hy met Eva gebruik het!
Satan wys net vir ons die plesierige gedeelte van sonde en wanneer ons die sonde gepleeg het, dan sit ons met die gevolge en vat dit soms jare van swaarkry om van die gevolge van een dom besluit ontslae te raak! Hy wys vir jou hoe plesierig dit is om omgang met ‘n vrou te hê, maar hy noem niks van die skeppings aspek van daardie besluit nie. As die vrou verwagtend raak, dan begin die poppe dans en sit jy met al daardie skuld gevoelens vir jare! Hierdie is net ‘n voorbeeld, maar dit wys op satan se listigheid!
Wat kan ons doen daaraan? Dit is waar dat satan baie slinkser as ons is. Ons sal hom nooit kan troef in daardie opsig nie, maar ons het een wapen wat hy nie het nie en daardie wapen is Jesus Christus! Saam met Jesus kan ons oorwin en as ons vaal, kan ons vergifnis vir ons oortredings kry! Prys Sy Naam!
Praat met Jesus en vra vergifnis vir jou oortredinge. Jesus sal jou nie straf daarvoor nie. Hy wil jou eerder teen Hom vasdruk, jou wonde verpleeg en jou dan weer op die regte pad sit sodat jy kan leer uit jou foute uit en so slimmer anderkant uitkom.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!
Hallelujah 🙌 👏 👏 Dankie vir kragtige boodskap.. Blessings