Waak en bid omdat julle die uur nie weet nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die Gees van die HERE het my deur die aand wakker gemaak met hierdie woorde: “Waak en bid omdat julle die uur nie weet nie!”

Ons tyd is naby, liewe leser… Jy hoef maar net rond te kyk in die wêreld om te besef hoe boos dit geword het. Naasteliefde is daar glad nie meer nie… ‘n Mens se lewe het so goedkoop geword… As jy iets goed vir iemand anders doen, dan kyk mense jou aan of jy van jou kop af is!

Hierdie is voorwaar die laaste oomblikke voor die Bruidegom gaan kom en ek wil ‘n baie ernstige beroep op julle doen om te waak en te bid. Dis so maklik, want ons almal het spaar tyd deur die dag. Op pad in die motor na die werk, as jy staan en wag dat die ketel moet kook, hierdie is maar net twee voorbeelde. Net ‘n vinnige gebed, want Jesus vra die baie nie.

Ek het die afgelope jare baie geskryf oor ‘n Heilige Leefstyl volg en ek kan maar net hoop dat hierdie boodskappe in goeie grond geval het. As Kinders van die HERE kan ons nie bekostig om ons meer met wêreldse begeertes besig te hou nie. Moenie dat jy Bruilofskleed besmet word nie! En as dit gebeur, bid dan dadelik vir vergifnis en vra dat Jesus jou kleed weer skoon moet was.

Vergewe die wat jou te na gekom het. Wees soos Jesus wat jou van al jou skulde vergewe het sonder verwyt. Wees vriendelik met almal ongeag wie hulle is. Laat jou naasteliefde aan almal bekend word, maar bowenal;

Maak gereed, want die Koning kom!

Binnekort gaan ons nie meer hier wees nie. In ‘n oogwink; ‘n breukdeel van ‘n sekonde…

Prys die Naam van Jesus!