Waak omdat julle die dag en die uur nie weet nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Ek het ‘n baie ernstige boodskap wat ek vandag vir julle wil bring en daarom vra ek dat julle regop sal sit en sal aandag gee.

Jesus weet alles wat ons weet en Hy sien alles wat ons sien, maar Hy is ontsteld oor die feit dat mense probeer om die dag en die uur van Sy koms te probeer voorspel. Veral nadat Hy uitdruklik vir ons gesê het “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” (Mattheus 25:13)

Jesus weet van die voorspellings wat gemaak word. Hy weet dat ons almal kyk na die Hebreeuse maand van Cheshvan wat volgens ons kalender in Oktober val. Hy weet ook van datum van die 17de Cheshvan wat ooreen stem met die 23ste Oktober; die datum wat God die deur van Noag se Ark gesluit het en Hy weet dat mense na hierdie datum kyk as ‘n moontlike datum van die wegraping.

Ek was persoonlik al deur ‘n teleurstelling soos dit en ek dink Jesus het dit doelbewus toegelaat sodat ek vandag hierdie boodskap vir julle kan bring. Dit was etlike jare gelede in 2012 en ek was so oortuig dat Jesus sou kom, ek sou alles wat ek gehad het verwed het dat ek reg was! Niks het gebeur nie en ek kan vir julle vandag bevestig dat om so ‘n teleurstelling te oorleef geen maklike taak is nie, want dit toets dit wat jy glo tot op breekpunt. Ek is nie skaam om dit vandag te erken nie, maar ek was kwaad vir God en ek het dit wat in die Woord staan ernstig bevraagteken.

Ek wil nie hê dat dit met julle moet gebeur nie. Ek is tog immers die herder van hierdie kudde en as herder is dit my plig om julle te beskerm teen die wolwe. Daarom vra ek julle om asseblief nie te veel waarde te heg aan hierdie voorspellings nie.

“Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Mattheus 24:36)

Net God die Vader weet op watter dag en op watter uur Hy vir Jesus gaan stuur om ons te kom haal. Niemand anders weet nie; nie eers Jesus self weet watter dag en watter uur nie. Baie beslis geen mens nie en daar gaan ook geen manier wees wat ons dit gaan kan uitwerk nie.

Liewe lesers, moet asseblief nie vir hierdie eeue oue truuk val nie. Ek weet julle is moeg vir hierdie wêreld; ek is ook. Ek weet ook julle voel nie meer welkom in hierdie wêreld nie; ek ook. Dit maak ons broos en maak dat ons maklik vir satan se listighede val. Pasop daarvoor!

Ons gaan daarom opkyk en ons gaan hoop dat die datums van die 23ste en die 24ste Oktober inderdaad reg is soos daar voorspel was, maar ons hoop gaan bly in Jesus sodat as God die Vader besluit dat die tyd nog nie reg is nie, dan sal ons dit so sal aanvaar as die Wil van die Vader. Ons gaan dan nie teleurgesteld wees nie en ons gaan ook nie moed verloor nie, want God die Vader is in beheer en dis hoe dit sal bly tot in ewigheid, AMEN!

God se weë is nie ons weë nie en Sy tyd is nie ons tyd nie.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 366 times, 1 visits today)
Tagged , , , .