Ons maak satan se werk vir hom darem so maklik deur toe te laat dat hy ons so maklik aflei en laat konsentreer op dinge wat vir niemand voordelig is nie…
Die wêreld van rekenaar speletjies was nog altyd ‘n broei grond vir allerhande onheilige dinge. Ek weet, want ek het ‘n groot verskeidenheid van speletjies wat ek self speel. Vandat ek my eerste rekenaar so drie dekades gelede gekry het, was dit al so en dis nog steeds so; jy moet mooi kyk waaraan jy jouself blootstel, want nie alles is vir jou voordelig nie!
Jare gelede was daar ‘n rekenaar speletjie met die naam van Wolfenstein. Jou karakter het deur die doolhof van ‘n kasteel gehardloop en moes homself verdedig van allerhande vyande wat soos Nazis gelyk het. Dit was ‘n baie dinamiese speletjie wat mense vir ure besig gehou het en ook ‘n groot klomp aanhangers gehad het. Latere weergawes van hierdie speletjie het geheel en al demonies gedraai met dooies wat opgewek word allerhande snaakse goed wat ek nie eers wil beskryf nie. Ek het geheel en al opgehou om dit te speel as gevolg daarvan.
Dan was daar ook ‘n rekenaar speletjie met die naam van Diablo. Hierdie speletjie was vir die eerste keer in 1996 vrygestel en daar word elke aantal jare ‘n nuwe weergawe van die speletjie vrygestel. Die woord “diablo” beteken duiwel, maar die speletjie is nie ‘n manier om in satanisme in te delf nie; dis die teenoorgestelde om die waarheid te sê. Die karakter wat die speler speel is op ‘n kruistog om al die demone in die fiktiewe koningryk waarin hy bly van ontslae te raak. Soos die speler vorder, word die karakter wat hy speel sterker en kan hy sy wapens opgradeer om teen sterker demone te kan baklei. Hierdie tipe speletjies het my nog nooit aangetrek nie en daarom het ek self nog nie een van die weergawes daarvan gespeel nie.
Die bekende kitskos plek KFC het ‘n ooreenkoms met die uitgewers, Blizzard-Activision aangegaan om die lansering van die vierde weergawe van hierdie speletjie te vier met ‘n ete spesiaal gemik op die vrystelling van hierdie speletjie. Dis niks nuut nie, want kitskos plekke doen dit gereeld en so bemark hulle van nuwe flieks tot rekenaar speletjies om geld te maak. Ongelukkig dui die plakkaat van die speletjie die demoon Lillith uit en nou is die mense boos en word die KFC groep daarvan beskuldig dat hulle demonies is… Spesiale bid groepe word gestig om te bid teen KFC wat nou demone verwelkom…
Nou is ‘n hele komp Kinders van die HERE is nou sommer goed die herrie in en hulle weet nie eers presies waarom nie! Dis waar dat ons op ons hoede moet wees vir satan en sy volgelinge en dat jy ook versigtig moet wees waaraan jy jouself blootstel. Dis heel duidelik dat KFC geld gesien het in hierdie veldtog sonder dat hulle gedink het aan die gevolge.
Waar los dit nou vir ons as Kinders van God? Hierdie vraag is maklik. Vind eers die hele storie uit voor jy ‘n besluit maak en dis dan nou ook die doel van hierdie boodskap. Moenie oordeel nie! Dit beteken nie dat jy nie iets wat verkeerd is mag uitwys nie. Dit sal in elke geval dom wees as jy dit nie doen nie.
Mag ek nog steeds KFC eet? Natuurlik mag jy! Jesus sê in Mattheus 15:11 “Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.” Dit gaan dus nie oor wat jy eet nie. Verder skryf Paulus 1 Timoteus 4:4-5 die volgende “[4] Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; [5] want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.” Jy kan dus eet net wat jy wil sonder enige vrees, solank jy daaroor bid. Gaan koop en een gerus jou KFC!
Ek gaan afsluit met Paulus se wyse woorde aan Jakobus soos opgeteken in Jakobus 1:19-21 “[19] So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. [20] Want die toorn van ‘n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie. [21] Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.”
Beter kon ek dit nie gestel het nie! Ja, satan is daarop uit om te slag en te verwoes en met goed soos dit skep hy verdeeldheid in die Kerk van God! Wees versigtig daarvoor!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!