Wees verheug; Jesus kom!

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Vanoggend wil ek op en af spring soos ‘n jong ribbok, want ons Koning; ons Heiland kom! Hy is op pad! Prys Sy Naam!

Julle dae op hierdie aarde is getel! Nie meer lank nie! Pasop dat julle nie mislei word nie, want baie sal julle probeer oortuig dat daar nog baie tyd is! Neem afskeid van die wat nie glo nie. Ek is op pad en Ek bring my beloning saam met My!

Prys die HERE vir hierdie versekering!

Ek het die afgelope tyd na die getuienis van twee mense geluister en ek weet dis waar, want die Gees van die HERE oortuig mens daarvan. Hierdie twee mense ken mekaar glad nie, maar die boodskap is dieselfde: die Koning is op pad!

Ek is nie iemand wat datums aan hierdie gebeurtenis wil koppel nie, want die Bybel is baie duidelik daaroor en dit is dat ons die dag en die uur nie sal weet nie,  maar daar word geen melding gemaak van die maand en die week nie. Ons sal dus weet as die tyd naby is en ek kan julle verseker dat dit voor die deur is! Baie, baie naby!

Hou maar die nuus dop. Dis optogte en betogings in ‘n groot aantal lande en die Bybel het verklaar dat dit so sal wees net voor die koms van die HERE in Lukas 21:25! “…en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun…” Baie mense neem hierdie vers letterlik op, maar wanneer die Bybel praat van see, dan verwys dit nie na die letterlike see nie, maar na ‘n groot menigte van verskillende volke en tale! Hierdie verduideliking sien ons in Openbaring 17:15 waar die Engel aan Johannes verduidelik dat die see ‘n groot menigte van volke en nasies van verskillende tale voorstel.

In Ysland het die so baie gesneeu dat die sneeu tot teen die huise se dakke gekom het. Die mense wat hulle hele lewens al daar bly sê dat hulle nog nooit so iets gesien het nie! In Australië is dit so warm dat die teerpaaie smelt van die hitte! Die hoogste temperature in meer as ‘n 100 jaar word daar gemeet! Die Filippynse Eilande is op Kersdag deur ‘n orkaan verwoes. Ek kan aangaan en vir julle bladsye en bladsye se gebeure lys, maar ek gaan volstaan deur te sê dat dinge nie meer vir lank so kan aangaan nie. Iewers gaan die HERE moet ingryp, want dis nie meer veilig op aarde vir Sy kerk nie!

Ek wil julle vra om asseblief gereed te wees, want Jesus kan enige oomblik van nou af kom! Die drome wat mense droom en die getuienisse van hierdie drome bevestig dat die tyd nou gekom het! Wees gereed en leef ‘n heilige leefstyl so ver as wat dit vir jou moontlik is! Binnekort gaan ons nie meer hier wees nie!

Ek sal aangaan om my boodskappe te pos vir so lank as wat die HERE my sal toelaat.

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk