Wie is ons?

Baie van julle het seker al oor die een gewonder; wie is dit wat hierdie artikels skryf.

Ons is eintlik net ‘n ek. Ek skryf nêrens my naam onder enige artikel nie, want hierdie webruimte en alles wat daarin is is ‘n werk van die HERE. Ek is net die instrument en daarom nie waardig om my naam onder die HERE se werk te sit nie. Ek verkies om verder anoniem te bly omdat ek nie deur mense vereer wil word nie. My beloning wag vir my in die Hemel en ek soek daarom geen aardse beloning in die vorm van enige soort van verering deur mense nie.

My pad saam met die HERE het begin toe ek 11 jaar oud was. Ek het vir ‘n groot gedeelte van my lewe my pad op my eie geloop tot aan die einde van 1980 toe die HERE my vir die bediening geroep het in ‘n hand oplegging seremonie. Ek was op daardie stadium ‘n polisieman en ek het gedink die pastoor het die kluts kwytgeraak en hom glad nie geglo nie! Maar die HERE het ‘n manier om ‘n pad met ‘n mens te stap tot jy gereed is daarvoor of tot die HERE besluit het genoeg is nou genoeg.

Daardie tyd het gekom in 2006 toe die HERE my uit die polisie uitgehaal het deur omstandighede my pad te stuur wat my gedwing het om te gaan. Eers het ek baie daarteen geskop en probeer om weer aan te sluit. Die HERE gee toe vir my ‘n vers in die Bybel; ek weet tot vandag toe nie waar dit staan nie, maar dit het so gelei: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipte land uitgelei het. Waarom verlang jy na die vleispotte van Egipte land? Ek het my doodgeskrik, maar ek het besef dat die HERE ‘n plan het en dat ek besig was om teen sy plan in te werk! Ek het aanvaar dat die HERE se wil meer belangrik was as my eie en daarom Sy pad vir my begin volg.

Suiderkruis het in 2010 die lig gesien as ‘n reeks van artikels wat ek aan my vriende begin e-pos het. My vriende het weer vir ander vriende daarvan vertel en so het die aantal mense wat ek moes e-pos elke week meer en meer geword. Ek het later ‘n poslys begin omdat ek nie meer so baie e-posse kon stuur nie. Ek het toe reeds meer as 30 lesers gehad en die syfer het al hoe meer geword!

In 2012 het ek die Suider Kruis domein op Internet geregistreer en ‘n webruimte oopgemaak. Van daar af het Suider Kruis met die HERE se hulp gegroei.

In die begin was ek baie selfbewus oor my roeping, want ek het geen opleiding in teologie nie. Wat maak my artikels wat ek skryf soveel beter as die wat vir jare geleer het om dit te doen? Ek glo egter dat die HERE nie altyd die wat toegerus is roep nie, maar die wat Hy roep toerus om te kan doen wat hulle doen.

Die HERE het daarom vir my die volgende gedeelte in 1 Timoteus 4:12-16 gestuur om my gerus te stel. [12]  Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid. [13]  Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering. [14]  Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge. [15]  Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees. [16]  Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.”

My roeping is verder aan my verduidelik in Lukas 4:18-19 [18]  Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; [19]  om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.”

Duideliker kan dit nie gestel word nie! Dis dan ook die roeping van Suider Kruis. Mag die HERE u seën in die lees van hierdie boodskappe!