Beskrywing van die Vals Profeet volgens Openbaring

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die Antichris gaan ook ‘n handlanger hê wat gaan optree as sy minister van propaganda. Sy werk gaan aanvanklik wees om die beeld van die Antichris te beskerm en te bevorder en daarom gaan hy die hele tyd aan die sy van die Antichris wees gedurende die eerste drie en ‘n halwe jaar van die verdrukking.

Na die eerste drie en ‘n halwe jaar nadat die Antichris homself tot god verklaar het, gaan hierdie persoon se rol verander na die van vals profeet. Openbaring 13:11 gee vir ons ‘n duidelike beskrywing van hierdie man: [11] EN uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak. [12] En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. [13] Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.”

Hierdie persoon sal mag hê, wat deur die twee horings voorgestel word. Let op dat hierdie persoon geen krone het nie wat beteken dat hy anders as die Antichris geen heerskappy oor die mense gaan hê nie.

Die beskrywing van ‘n “lam, maar praat soos ‘n draak” word gebruik wat beteken dat net soos die Antichris gaan hierdie persoon hom voordoen as ‘n groot man van God, maar hy gaan vals wees, want hy gaan praat soos ‘n draak. Die draak is natuurlik satan.

Die Antichris gaan hierdie man groot mag gee om wonders en tekens te doen om die mense te mislei. Hy sal selfs by magte wees om vuur uit die hemel te laat neerdaal, maar nou kom die interessante deel! Hy sal hierdie wonder tekens net in die teenwoordigheid van die wêreld leier kan doen. Op sy eie gaan hy geen wonder tekens kan doen nie!

Vers twaalf sê vir ons dat die vals profeet se eerste taak gaan wees om die mense te mislei sodat hulle die Antichris moet aanbid as god. Sy tweede taak word in vers 16 uitgewys: “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;”

Hierdie persoon gaan die vader wees van die merk wat op almal se voorkoppe en hande aangebring moet word. Die Bybel sê vir ons dat niemand gaan kan koop of verkoop wat nie die merk het nie. Die wat weier om die merk te aanvaar, sal doodgemaak word.