Ek het al hierdie stukkie vir julle gebring, maar siende dat die wegraping so naby is, gaan ek dit nou weer doen om vir u te wys hoe ‘n Joodse Trou Seremonie inskakel by Jesus se verlossings plan vir ons as mens en die daaropvolgende wegraping.
Daar is drie tipes mense teenwoordig by ‘n Joodse troue:
- Die Bruidegom – Jesus (2 Korintiërs 11:2 / Efesiërs 5:23-27)
- Die Bruid – Die kerk (2 Korintiërs 11:2 / Efesiërs 5:23-32) – Die woord “kerk” in hierdie konteks beteken almal wat Jesus aanvaar het as hulle persoonlike Saligmaker en daarom lede is van Jesus se Kerk. Die kerk is dus mense wat voor die Wegraping gered is.
- Die Gaste – Die wat gered gaan word na die Wegraping (Mattheus 25:1-10)
DIE KONTRAK
Wanneer ‘n jong man in Jesus se tyd met ‘n jong vrou wou trou het hy ‘n huwelikskontrak of ‘n verbond opgestel vir voorlegging voor die jong meisie en haar vader. Die huwelikskontrak was ‘n teken dat hy bereid was om vir haar te sorg en dit het ook die terme van die huwelik bevat. Die mees belangrikste gedeelte van die huwelikskontrak was die prys wat betaal moes word vir die vader se toestemming om met die jong meisie te mag trou. Die prys wat uit die aard van die saak baie hoog. Seuns was geag om meer werd te wees as dogters omdat hulle fisies sterker was en dus meer met die plaaswerk kon gehelp het. Die prys was dus ‘n vergoeding vir die meisie se familie vir die seun wat hulle nie gehad het nie, maar ook vir die koste wat hulle aangegaan het om haar groot te maak. Die prys het laastens gedien as teken van die jongman se liefde vir die meisie. Die meisie was uit die aard van die saak baie waardevol vir die jongman! Die jongman sou na die huis van die meisie toe gaan om sy huwelikskontrak en die prys aan die meisie en haar vader aan te bied.
Jesus het na die huis van sy bruid (wêreld) gekom om sy huwelikskontrak aan die wêreld voor te lê. Die huwelikskontrak is die Nuwe Testament wat voorsiening maak vir die vergifnis van sondes. Die prys het Jesus betaal deur sy lewe vir sy bruid af te lê.
Die terme van die huwelikskontrak word in Hebreërs 8:8-13 uiteengesit: “[8] …Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring, [9] nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipte land uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here. [10] Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. [11] En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle. [12] Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.”
Die prys wat vir die bruid betaal is word in die volgende skrifgedeeltes genoem:
- 1 Korintiërs 6: 20 “Want julle is duur gekoop.”
- 1 Petrus 1:18-19 “[18] omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, [19] maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”
DIE AANVAARDING VAN DIE HUWELIKSKONTRAK
As die prys wat die jongman wil betaal vir sy bruid aanvaarbaar is vir die vader van die bruid, dan het die jongman ‘n glasie wyn vir sy bruid gegooi. As die jong meisie die wyn drink, dan beteken dit dat sy die huwelikskontrak aanvaar. Van hierdie punt af sal die jongman en die jongmeisie verloof wees. ‘n Verlowing is net so bindend as die huwelik self. ‘n Tipiese Joodse verlowing het een tot twee jaar geduur. Gedurende hierdie tyd het beide die bruid en die bruidegom gereed gemaak vir hulle huwelik en het hulle mekaar nie weer gesien voor die dag dat hulle getrou het nie.
Jesus het met die Laaste Nagmaal (Mattheüs 26) vir sy dissipels wyn geskink en hulle het die wyn gedrink as teken dat hulle die huwelikskontrak aanvaar. Ons vier vandag Nagmaal in ons kerke om dieselfde rede. Deur die Nagmaalwyn te drink aanvaar ons as Christene Jesus se huwelikskontrak. Ons is wettiglik verloof aan Hom!
Die volgende teks vers verwys: 1 Korintiërs 11:25 “Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”
GESKENKE VIR DIE BRUID
Nadat die huwelikskontrak aanvaar is, sal die aanstaande bruidegom vir sy bruid spesiale geskenk gee as teken vir sy liefde vir haar. Die doel van die geskenk is ook sodat sy hom moet onthou gedurende die lang verlowing.
Die geskenk wat Jesus vir ons gegee het is die Heilige Gees. 1 Johannes 4:13 “Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.” Die geskenk word in Johannes 14:26 beskryf: “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”
REINIGING (MIKVEH)
Die volgende stap vir die bruid is om deel te neem aan ‘n “Mikveh” of reiniging. Letterlik beteken die Hebreeuse woord “Mikveh” versameling, bedoelende versameling water. Die woord “Mikveh” word ook in Hebreeus gebruik met verwysing na die doop. ‘n Joodse meisie mag onder geen omstandighede trou sonder dat sy nie aan ‘n “Mikveh” deelgeneem het nie.
Die “Mikveh” wat Jesus vir sy bruid bedoel het was die Doop van die Heilige Gees, nie die water doop soos baie mense sou verwag nie. Sien Handelinge 1:4-5 “[4] En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. [5] Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.”
VOORBEREIDING VAN DIE HUWELIK KAMER
Gedurende die verlowings tydperk bou die bruidegom vir sy bruid ‘n huwelik kamer. Hierdie huwelik kamer word gewoonlik gebou op die eiendom van die bruidegom se vader. Die huwelik kamer moet goed wees, want die bruid en die bruidegom moet die eerste sewe dae van hulle huwelik daar spandeer. Die vader van die bruidegom spesifiseer hoe die huwelik kamer moet lyk en net as die vader tevrede is, mag die bruidegom sy bruid gaan haal. As die bruidegom gedurende hierdie tyd gevra word wanneer die troue gaan wees, dan het hy gewoonlik geantwoord: “dis nie vir my om te weet nie, net my vader weet.”
In Johannes 14:2-3 sê Jesus: “[2] In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. [3] En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Jesus het gegaan om die huwelik kamer vir sy bruid te gaan voorberei en as God die Vader tevrede is dat alles is volgens die spesifikasies wat Hy beveel het, dan sal hy Jesus toelaat om sy bruid te kom haal. Jesus self waarsku ons in Markus 13:32-33 “[32] Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. [33] Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.”
DIE TOEGEWEIDE BRUID / HELING MAKING
Terwyl die huwelik kamer gebou word het die bruid haarself aan haar toekomstige man toegewy. Sy sou gedurende hierdie tyd leer om die perfekte vrou vir haar toekomstige man te wees. As sy sou uitgaan, dan het sy ‘n sluier gedra as teken dat sy verloof was. Gedurende hierdie tyd sou die bruid ook dopgehou word om haar reinheid en haar maagdelikheid te bevestig. Dis waarom ‘n Joodse verlowing nooit minder as ‘n jaar was nie: ‘n volle nege maande moes verbygaan om seker te maak dat sy as ‘n maagd trou. Sy het geweet dat die bruidegom haar sou kom haal, maar sy het nooit geweet wanneer nie. In die Joodse kultuur het die bruidegom daarom gewoonlik in die middel van die nag gekom om sy bruid te kom wegvoer. Die bruid het daarom gesorg dat sy ten alle tye gereed is om te gaan. Haar klere was ten alle tye gepak en haar lampie vol olie, gereed vir die reis. Haar bruidsmeisies sou ook te alle tye gereed wees met hulle lampies laag gedraai in afwagting vir die laatnag fees.
Op hierdie oomblik is Jesus se Bruid besig met toewyding en heiligmaking, wagtende vir ons Bruidegom om ons te kom haal tydens die wegraping. Jesus het die gelykenis van die tien maagde in Mattheüs 25:1-13 gebruik om ons te waarsku om ten alle tye gereed te wees vir sy koms. Mattheüs 25:1-13 “[1] Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. [2] En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. [3] En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. [4] Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. [5] En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. [6] En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! [7] Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. [8] En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. [9] Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. [10] En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. [11] Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! [12] Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. [13] Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.”
DIE OPERAPING VAN DIE BRUID
Wanneer die vader van die bruidegom besluit het dat die Huwelik Kamer gereed is soos hy dit wil hê, dan sal hy vir die bruidegom sê dat die tyd gereed is om sy bruid te gaan haal. Die bruidegom sal dat na sy bruid se huis gaan en sy bruid in die “geheim ontvoer”, gewoonlik in die middel van die nag. Soos hy sy bruid se huis nader, sal die bruidegom hard skreeu en op ‘n “shofar” (ramshoring) blaas. Hierdie sal vir sy bruid as waarskuwing dien dat haar bruidegom op pad is en dat sy gereed moet wees sodat hy haar na die huwelik kamer kan neem. Die bruidegom en sy vriende sal die huis van die bruid binnegaan en die bruid en haar bruidsmeisies kom haal.
Op soortgelyke wyse sal Jesus kom om sy bruid te kom haal. In 1 Tessalonisense 4:16-17 sê Paulus vir ons hoe die wegraping gaan afspeel: “[16] Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. [17] Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
In 1 Korintiërs 15:51-53 se Paulus hoe die bruid verander gaan word: “[51] Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, [52] in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. [53] Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.”
Net soos met die Joodse gebruik; gaan die aartsengel met ‘n harde stem geroep word voor daar op die ramshoring geblaas gaan word. Hierdie twee geluide sal net deur Christene lewend en die wat reeds dood is gehoor word. Op daardie oomblik sal die wat gered is, maar reeds dood is, eerste opstaan en met die onverganklike beklee word. Daarna sal die wat nog lewend is met die onverganklike beklee word voor ons almal saam in die lug opgevoer word om Jesus tegemoet te gaan in die wolke. Hierdie dien vir ons as vertroosting, omdat ons almal al geliefdes aan die dood moes afstaan. Die vertroosting is dat die wat as gereddes gesterf het weer sal sien die dag as Jesus kom om sy bruid te haal!
SEWE DAE IN DIE HUWELIK KAMER
Volgens Joodse gebruik word die huwelik by die huis van die bruidegom voltrek. Slegs onmiddellike familie en twee getuies word toegelaat om die seremonie by te woon. Die bruidegom se vriend sal buite by die deur wag. Sodra die huwelik bevestig is, sal die bruidegom die nuus aan sy vriend buite die deur oordra waar laasgenoemde dit weer aan die gaste sal oordra. Daarna vertrek almal na die huwelik kamer waar vir sewe dae lank fees gevier word. Na die sewe dae bring die bruidegom sy bruid uit en stel hy haar aan die res van die wêreld voor.
Nadat Jesus en sy bruid in die hemel opgeneem is, sal hulle in afsondering gaan. Hierdie behels die finale heiligmaking van die bruid. In 1 Korintiërs 3:10-15 lees ons “[10] Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. [11] Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. [12] En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— [13] elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. [14] As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; [15] as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” As Christene sal alles wat ons op aarde gedoen het onder ‘n vergrootglas geplaas word. Slegs dit wat ons vir God gedoen het sal behoue bly en dis waarvoor ons beloon sal word. As iemand se werk alles verbrand, bly so iemand nog steeds gered, maar daar sal geen beloning wees nie. Die stap tot Christenskap is ‘n stap van gehoorsaamheid aan God se woord en op grond daarvan sal baie gered word.
Na almal se werke beoordeel is, sal die vriend van die bruidegom aan die gaste aankondig dat die huwelik voltrek is. U wonder nou seker wie is die vriend van die Bruidegom is? Johannes die Doper verwys na homself in Johannes 3:29 as die vriend van die Bruidegom.
Hierna gaan die geselskap na die huwelik kamer waar almal vir sewe dae gaan fees vier. Dis die Bruilofsmaal van die Lam waarna daar in Openbaring 19:9 verwys word: “…Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam.” Tydens die fees sal die sewe jaar van verdrukking op die aarde afspeel.
Na die bruilofsmaal sal die bruidegom sy bruid aan die res van die wêreld gaan voorstel. Dit sal gebeur na die sewe jaar van verdrukking wanneer Jesus terugkeer aarde toe soos voorspel in Openbaring 19:11 “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.” en Mattheüs 24:30 “En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.”
Mag die Here hierdie boodskap seën!