DEEL 2 : Oordeel van die Sewe Trompette

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek gaan vandag voort met reeks oor die Oordele van Openbaring. Vandag se gedeelte gaan langer wees as die vorige omdat hierdie gedeelte ook die gebeurtenis in die middel van die verdrukking bevat waar satan in die Wêreldleier gaan opvaar en die wêreld direk gaan regeer.

In Openbaring 8:2-6 sê Johannes: [2] En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en daar is aan hulle sewe trompette gegee. [3] ‘n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ‘n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. [4] Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. [5] Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ‘n aardbewing gekom. [6] Die sewe engele met die sewe trompette het hulle toe gereed gemaak om daarop te blaas.” Hierdie gedeelte in maar net die aankondiging dat die volgende stel van sewe oordele spoedig gaan begin.

Die eerste trompet word geblaas in Openbaring 8:7 “Die eerste engel het op sy trompet geblaas. Daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. ‘n Derde van die aarde is verbrand, ‘n derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand.” ‘n Derde van die plantegroei wat op die aarde verbrand, beteken nog meer hongersnood en nog meer mense wat gaan sterf as gevolg daarvan.

Die tweede trompet word geblaas in Openbaring 8:8-9 “Die tweede engel het toe op sy trompet geblaas. Iets soos ‘n groot berg wat brand, is in die see gegooi. ‘n Derde van die see het bloed geword, ‘n derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en ‘n derde van die skepe het vergaan.” Johannes het nog nooit in sy lewe ‘n meteoriet gesien nie, daarom die beskrywing van ‘n brandende berg! Volgens die Bybel weet ons dat hierdie meteoriet in die see gaan val. Wetenskaplikes het al op verskeie geleenthede navorsing gedoen oor wat presies sal gebeur as ‘n meteoriet die see of die land sou tref. Die uitkoms is nooit duidelik nie, omdat daar verskeie faktore is wat op so ‘n gebeurtenis inwerk. Faktore soos die spoed van die meteoriet, die gewig en die deursnee, die weersomstandighede tydens die voorval en nog meer.

As ons vir ons doeleindes ‘n asteroïede van een kilometer in deursnee sou vat wat trek teen ‘n spoed van 72,000 kilometer per uur (hierdie syfers is nie ongewoon in die ruimte nie), dan sal die impak gelykstaande wees aan ‘n ontploffing van 1.5 triljoen ton TNT. Die plons wat die impak sal veroorsaak, sal amper 20 kilometer hoog wees. ‘n Versteuring van die see oppervlak op hierdie skaal sal ‘n enorme tsunami veroorsaak met golwe van een kilometer hoog by die impak punt. Soos die golwe oor die see oppervlak trek sal die hoogte van die golwe afneem.

Wetenskaplikes bereken dat die golwe oor ‘n afstand van 60 kilometer van die impak punt af reeds twee derdes van hulle hoogte sou verloor het, maar moenie dat hierdie vir u vals hoop gee nie. Die golwe mag dalk klein wees soos dit oor die see oppervlak trek, maar soos die golwe die kus bereik veroorsaak die vlakker water van die kus gebied dat die golwe in hoogte groei. Nodeloos om te sê, die kusgebiede naby die punt van impak gaan die hardste getref word deur hierdie golf.

Die Bybel sê dat derde van alles wat in die see lewe sal doodgaan. Ek neem dus aan dat wat ook al hierdie meteoriet van gemaak is, dit giftig vir die seelewe sal wees. Die Bybel sê verder dat ‘n derde van die skepe sal vergaan; heel moontlik as ‘n direkte gevolg van die tsunami. Dit dien as bewys van net hoe groot die golf gaan wees!

Die derde trompet word geblaas in Openbaring 8:10-11 “Toe het die derde engel op sy trompet geblaas. ‘n Groot ster wat soos ‘n fakkel brand, het van die hemel af geval. Hy het op ‘n derde van die riviere en op die waterbronne geval. Die ster se naam is Bitterals. ‘n Derde van die water het bitter geword, en baie mense het van die water doodgegaan omdat dit besmet was.” Hierdie verskynsel gaan heel moontlik ‘n komeet wees wat die aarde gaan tref. Wetenskaplikes noem die verskynsel wat in Openbaring beskryf word, “hitte-skok”. Soos die komeet deur die aarde se atmosfeer trek, veroorsaak die hitte wrywing dat groot hoeveelhede suurstof en stikstof met mekaar laat meng, wat weer op sy beurt ‘n swaelsuur reën veroorsaak. Oral waar hierdie reën val, vergiftig dit die water en die plantegroei. Die vergiftigde water het ‘n bitter smaak, daarom die Bybelse beskrywing “bitter als”. Die Bybel sê dat hierdie suur reën oor ‘n derde van die wêreld se riviere en damme sal val. Dit gee ons ‘n idee van hoe groot hierdie tragedie gaan wees.

Die vierde trompet word geblaas in Openbaring 8:12 “Die vierde engel het toe op sy trompet geblaas. ‘n Derde van die son en ‘n derde van die maan en ‘n derde van die sterre is getref, sodat ‘n derde van hulle donker geword het. ‘n Derde deel van die dag het nie lig gehad nie, en die nag ook nie.” Baie van u het al seker ‘n totale sonsverduistering beleef. Dit sal vir u ’n goeie idee hoe dit lyk as die son net een derde van sy helderheid is. Die impak wat hierdie verskynsel op die plantegroei gaan hê gaan uitermatig wees. Sonder sonlig kan niks groei nie! Die nag gaan ook ‘n derde donkerder wees as wat ons aan gewoond is. Ek vind dit moeilik om hierdie verskynsel te verduidelik, want ek dink nie iemand het al ooit iets soos dit beleef nie…

Gedurende hierdie oordeel sal die eerste drie en ‘n halwe jaar (1266 dae) van die verdrukking verby wees. Tot nou toe wat die tydperk van die Verdrukking, maar van nou af gaan die tydperk van die Groot Verdrukking begin wat gaan lei tot nog meer leiding.

Gedurende hierdie tyd gaan daar ‘n suksesvolle sluipmoord aanval op die Antichris uitgevoer word. In Openbaring 13:3 lees ons dat die Antichris ‘n dodelike wond aan sy kop gaan opdoen, maar dat hierdie wond gaan genees om ‘n permanente litteken te vorm. (Openbaring 13:14) Die wêreld gaan verwonderd wees om te sien hoe die Antichris uit die dood uit opstaan.

Die twee getuies wat tot nou toe by die klaagmuur gestaan het gaan deur die Antichris gedood word. (Openbaring 11:7-13) Die bewoners van die wêreld sal bly wees hieroor en vir mekaar geskenke stuur om die geleentheid te vier! Die liggame van die twee getuies sal vir drie en ‘n halwe dag op straat lê sonder dat iemand hulle sal begrawe. Daarna sal hulle uit die dood opstaan en in ‘n wolk in die hemel opgeneem word. Almal sal dit sien en bevrees wees. Onmiddellik daarna sal ‘n groot aardbewing Jerusalem tref. ‘n Tiende van die stad gaan verwoes word en seweduisend mense sal sterf as gevolg daarvan.

Die een wêreld geloof gaan afgeskaf word en in Openbaring 17:16 lees ons dat alle geld wat deur die een wêreld geloof ingesamel was, deur die Antichris opgeneem gaan word, dat die geloof tot niet gemaak gaan word en dat die tempels van die een wêreld geloof met vuur verbrand gaan word.

Die Antichris se hoof van propaganda gaan sy rol vervul deur die Antichris se Vals Profeet te word! Hy gaan die mag hê om groot tekens en wonders te doen, selfs vuur uit die hemel te laat kom om die mense te mislei, maar hy gaan hierdie mag net hê in die teenwoordigheid van die Antichris self. Hierdie vals profeet gaan beelde van die Antichris laat maak wat in elke dorpie opgerig gaan word. Die mense gaan geforseer word om die beelde van die wêreld leier te aanbid. Hierdie beelde gaan op ‘n bonatuurlike manier kan praat en almal wat nie hierdie beelde aanbid nie sal doodgemaak word. Een van hierdie beelde gaan in die een hoek van die voorportaal van die Tempel van Salomo opgerig word. Die Bybel sê in Daniel en in Matteus dat hierdie beeld ‘n gruwel vir God gaan wees.

Tot nou toe het die Israeliete gedink dat die wêreld leier die messias was wat hulle al so lank verwag het. Geen ware Israeliet sal egter ooit voor ‘n beeld neerbuig en dit aanbid nie, maar wanneer die Antichris homself in die tempel tot god gaan verklaar en die hoof van propaganda die Israeliete gaan verplig om neer te buig en die beeld te aanbid dan gaan die woorde van Mattheus 24 bewaarheid word… Die Israeliete gaan besef dat die wêreld leier nie die messias is nie en dat hulle die ware Messias meer as twee duidend jaar gelede op ‘n hout kruis vasgespyker het! Baie gaan probeer vlug soos wat daar in Mattheus 24:16 staan.

Die Vals Profeet gaan mense ook verplig om ‘n merk op hulle hande of voorkoppe te laat aanbring. Die aanbring van die merk gaan moontlik met ‘n baie slim bemarking foefie gedoen word. Heel moontlik om te wys dat jy ‘n lojale burger van die wêreld is of iets soortgelyk. Sonder hierdie merk gaan niemand kan handel dryf nie. Geld soos ons dit ken gaan heeltemal uit die samelewing verdwyn. In die begin van die Verdrukking gaan mense die vryheid van keuse hê om te besluit of hulle die merk wil aanvaar, maar van nou af gaan die merk verpligtend wees. Mense wat nie die merk nie gaan aanvaar nie, gaan saam met gevange Christene onthoof word. Openbaring 14:9-11 sê vir ons dat almal wat hierdie merk aanvaar vir altyd verlore gaan wees. Laasgenoemde sluit Christene in wat om watter rede ook al van plan verander om die merk te aanvaar. Die oomblik wat die merk aanvaar word is daardie persoon se siel verlore en kan dit nie meer gered word nie. Moet dus onder geen omstandighede die merk aanvaar nie!

Tot nou het God die mens se aandag probeer trek deur allerhande rampe op Aarde te laat plaasvind, maar voorts gaan God plae stuur om daardeur direk die mens se aandag te trek. Die plae wat van hier af gaan volg gaan niks anders as skrikwekkend wees nie! Die plae gaan egter net die mense wat die beeld van die wêreld leier aanbid en sy merk dra, aanval. Die wat die Christen geloof aangeneem het sal geensins enige leed aangedoen word nie. Die wêreld gaan dit sien en die Christendom nog meer daarvoor haat!

Die vyfde trompet word geblaas in Openbaring 9:1-11 “Die vyfde engel het toe op sy trompet geblaas. Ek het ‘n ster gesien wat van die hemel af op die aarde geval het, en die sleutel van die skag na die onderaardse diepte is aan hom gegee. Hy het toe die skag na die onderaardse diepte oopgemaak, en daar het rook uit die skag uit opgestyg soos die rook van ‘n groot oond. Deur die skag se rook is die son verduister en het die lug donker geword. Toe het daar uit die rook sprinkane oor die aarde uitgeswerm. Aan hulle is dieselfde vermoë gegee as wat skerpioene op aarde het. Hulle is aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar wel om hulle vyf maande lank te pynig. Die pyn wat hulle veroorsaak, is soos die pyn as ‘n skerpioen ‘n mens steek. In daardie tyd sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; hulle sal verlang om te sterwe, maar die dood sal hulle ontwyk. Die sprinkane het gelyk soos perde wat regstaan vir oorlog. Op hulle koppe was daar iets soos krone wat gelyk het asof dit van goud is. Hulle gesigte was soos die gesigte van mense. Hulle het lang hare gehad soos vrouens se hare, en hulle tande was soos dié van leeus. Hulle borskaste was soos yster harnasse. Die gedreun van hulle vlerke was soos die gedreun van baie strydwaens met perde wat opruk vir oorlog. Hulle het sterte met angels soos dié van skerpioene; en in hulle sterte is hulle vermoë om die mense vyf maande lank kwaad aan te doen. Hulle het die engel van die onderaardse diepte as koning oor hulle. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks het hy die naam Apollion.”

Die beskrywing hierbo is ‘n grillerige een op sy beste! ‘n Perdeby steek is klaar pynlik genoeg! Mens kan jou net voorstel hoe dit sal wees om vir vyf maande so gepynig te word. Jy sal later wens jy kan doodgaan, maar al probeer jy hoe hard om jouself om die lewe te bring, dit gaan jou nie gegun word nie! Ek is seker daarvan dat daar mense gaan wees wat gaan probeer om op allerhande maniere selfmoord te pleeg, maar hulle sal nie kan doodgaan nie. Ek kan my net indink hoe die ongeredde mense God gaan vloek oor hierdie plaag. Die mees interessantste is dat hierdie wesens niks aan die wat tot bekering gekom het gaan doen nie. ‘n Bekeerling sal byvoorbeeld tussen hulle kan instap sonder om te vrees, want hierdie wesens sal net die mag hê om die ongeredde mense skade aan te doen.

Die sesde trompet word geblaas in Openbaring 9:13-19 “Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ‘n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: ‘Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.’ Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om ‘n derde van die mensdom dood te maak. Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog ‘n keer soveel. Ek het hulle getal gehoor. En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters só gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is ‘n derde van die mensdom doodgemaak. Die perde se vermoë om skade te doen, is in hulle bekke en ook in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense.” Volgens die beskrywing gaan een derde van die wat ongered is met vuur en swael doodgebrand word as hulle in hierdie gediertes vasloop. Die wat nie gaan omkom nie gaan deur die slang sterte van hierdie gediertes gepik word. Weereens gaan die geredde mense nie deur hierdie gediertes aangeval word nie. Mens sal verwag dat na hierdie en die vorige plaag mense hulle tot God sal bekeer, maar Openbaring 9:20-21 sê dat dit nie gaan gebeur nie…

Die sewende en laaste trompet word geblaas in Openbaring 10:1-6 “Toe het ek ‘n ander engel, ‘n sterke, uit die hemel uit sien afkom. Hy het ‘n wolk om hom gehad en ‘n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son en sy bene soos vuurpilare. In sy hand het hy ‘n oop boekie gehad. Hy het toe met sy regtervoet op die see en met sy linkervoet op die land gaan staan en met ‘n harde stem uitgeroep soos ‘n leeu wat brul. Toe hy uitroep, het sewe donderslae geantwoord. En toe die sewe donderslae praat, wou ek dit opskrywe, maar ek het ‘n stem uit die hemel hoor sê: ‘Hou geheim wat die sewe donderslae gesê het; moet dit nie opskrywe nie.’ Die engel wat ek op die see en die land sien staan het, het toe sy regterhand na die hemel toe opgelig en ‘n eed afgelê by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel en wat daarin is, die land en wat daarop is, die see en wat daarin is, geskep het. Hy het met ‘n eed bevestig: ‘Daar is geen tyd meer oor nie.’” Dit kom voor asof hierdie nie ‘n oordeel is nie, maar ‘n waarskuwing. Ons weet nie wat die waarskuwing is nie, want Johannes was nie toegelaat om dit vir ons op te teken nie.

Aan die einde van hierdie oordeel, sal 56 maande op aarde verloop het na die ondertekening van die verdrag met Israel. Dis vier jaar en agt maande. Die oordeel van die Bakke (Openbaring 16) gaan binnekort volg…

(Visited 584 times, 1 visits today)
Tagged , , , .