Om in vandag se tyd negatief en terneergedruk te word is glad nie moeilik nie, want jy hoef net om jou te kyk hoe alles uitmekaar val.
Ek lees nou die dag ‘n artikel wat iemand geskryf het oor die Bella Wet en hoe dit toelaat vir unisex toilette in skole… Dit beteken dat daar nie meer toilette is vir seuns en meisies afsonderlik nie, maar dat beide geslagte enige toilet kan gebruik na vryheid van keuse. Die artikel gaan voort met hoe almal vir die wet gestem het sonder dat hulle die bepalings daarvan gelees het en nou is ons verbaas daaroor as hierdie dinge geïmplementeer word.
Terwyl ek dit lees kom hierdie gedeelte in 2 Tessalonisense 2:3-4 by my op: “[3] Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf [4] die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”
Ons sien daardie afval nou plaasvind en dis waarom die HERE nou vir ons probeer sê is dat hierdie dinge moet gebeur en dat alles deel is van God se Meester Plan. Al hierdie onbeskryflike goed wat ‘n gruwel in die oë van die HERE is moet plaasvind sodat die mens van sonde geopenbaar kan word. As daar ‘n ander manier was om dit te doen, dan sou God die Vader dit gedoen het, maar hierdie is die enigste manier. Moet daarom nie moed verloor nie, liewe leser! Weet dat God in beheer is en al lyk dinge hoe deurmekaar op die oomblik; daar is logika in die malligheid wat ons sien! Ons sien dit nie net nou raak nie, maar eendag sal ons.
Ons sien letterlik elke dag hoe Bybelse Profesie voor ons oë bewaarheid word! Hierdie is net een voorbeeld daarvan, maar daar is nog baie ander! Die wêreld dink dis normaal, maar ons wat aan God behoort, weet dat niks hiervan normaal is nie! Die wêreld word stelselmatig gewoond gemaak om die leiding van die antichris te aanvaar, die een wat hom gaan voorgee dat hy god is, maar nie is nie, en hulle kom dit nie eers agter nie.
Julle moet ook weet dat ons nie aan hierdie wêreld behoort nie en daarom het die wêreld ons nie lief nie. Omdat die wêreld ons nie lief het nie, sal satan ons versoek tot in die negende graad in, want ons is die wat keer dat hy kan doen wat hy wil. Ons gebede is daardie muur waarteen hy hom elke slag vasloop, maar dit gaan nie vir altyd so wees nie. God gaan daardie muur weggevat gaan word en dit tyd is baie naby.
Die dag van die wegraping gaan daardie muur ophou bestaan en dan gaan satan toegelaat word om te doen wat hy wil, maar tot daardie dag kom; moet ons bid en waak en ons moet gereed maak soos ‘n bruid haar gereed maak vir haar bruidegom voor die huwelik. Slegs die wat hulle gereed gemaak het sal waardig wees om geneem te kan word in die wegraping en dis waarom ons ontslae moet raak van alles wat ons bind op hierdie aarde.
Moenie bekommerd wees oor wat op hierdie aarde gebeur nie, want God laat toe dat dit gebeur. Niks vind plaas of gebeur sonder die goedkeuring van God die Vader nie. Niks sal ook met elkeen van ons gebeur sonder die wil van die Vader nie, so hou ook daaraan vas. Ons tyd is min, liewe lesers. Binnekort gaan daardie basuin blaas en dan moet ons gereed wees om alles te los om na Jesus te gaan.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
