Mag die HERE julle versterk met bonatuurlike krag is al die besluite wat julle vandag moet neem.
Om ‘n breek te maak weg van die wêreld af gaan beteken dat sommige vir hulleself sterf gaan moet sterwe omdat hulle ‘n lewe van korrupsie lewe. Om die breek te maak kan vir sommige baie moeilik wees, maar vir ander gaan dit kom in kleiner dosisse. Die HERE ken elke siel en weet wat goed is vir elkeen van ons. Daar is geen kortpaaie nie, net gehoorsaamheid. Die vraag wat die HERE dus vra is: “Het jy My lief? Laat dan my skape wei.”
Baie mense besef net nie dat die HERE omstandighede in hulle lewens toelaat omdat dit die volgende stap na heiligmaking is nie. Dis omdat hulle dink in terme van sukses, sekuriteit, vrede en geluk soos die wêreld dit het.
Voor ons egter hierdie dinge kan hê: regte vrede, regte sekuriteit en werklike sukses, moet ons eers die ongetemde landskap wat ons eie opinie is oorwin. Ons weë is nie die HERE se weë nie, op dieselfde manier wat ‘n twee jarige kind se lewens keuses nie ons lewens keuses is nie.
As jy ‘n kind laat doen wat hy of sy wil, dan gaan jy in ‘n ommesientjie met groter probleme sit as wat jy ooit gedink het jy kan hê. Dis waarom die HERE vir ons ouers gegee het, want hulle ken die pad na ware sekuriteit. Net so ken die HERE wat ook ons Vader is die pad na ware sekuriteit.
Om groot te word is geen maklike taak nie. Jy val op meer maniere om op te noem soos jy leer om te loop, te swem, huis werk doen, toetse aflê, te bestuur en nog baie meer. Op dieselfde manier is dit geen maklike taak om groot te word in die geestelike wêreld nie. Om nee te sê vir die vleeslike is net die een been van jou reis. Die ander is om jou kruis op te neem en die HERE te volg, maar jy kan nie die HERE volg voor jy nie nee gesê het vir die vleeslike nie. Wat soos dwaasheid vir die wêreld lyk is die toppunt van wysheid van die HERE. Om hardnekkig aan jou eie manier van dinge vas te hou is die toppunt van dwaasheid.
Daar is twee vlakke van gehoorsaamheid aan die HERE. In die eerste geval kies iemand om gehoorsaam te wees gebaseer op wat hy in die Bybel gelees het en op die voorbeeld wat ander daar gestel het. In die tweede geval soek ‘n siel wat leeg is die HERE en as hy Hom vind, vra hy wat die HERE wil hê hy moet doen. Hierdie is die beter manier omdat so iemand outomaties al die slaggate wat in die eerste geval sal opduik, vermy.
“Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” (Spreuke 14:12)
Iemand wat sy lewe geheel en al in die hande van die HERE gee sal nie in enige slaggat val nie, maar om dit te kan doen, mag jy geen wil van jou eie of enige opinie hê nie.
Dis nie die HERE se wil dat enige een van ons moet swaar kry nie, maar tensy ons die weg van die Kruis volg, kan ons nie vertrou word met die gawes wat die HERE aan ons wil gee nie. Al wat sal gebeur is dat ons hierdie gawes sal besoedel met ons eie wil en dit so aan ander leer. Die houvas wat eie wil en intelligensie op die mens het, moet eers gebreek word.
As ‘n siel bereid is om dom te lyk vir die wêreld, maar optree uit geloof uit, dan kan hy vertrou word met die groter gawes van die HERE. Dis waarom die wat graag mense wil leer vermaan word, want hulle sal strenger beoordeel word as die wat nie leer nie.
Vir die wat wonder; die HERE is besig om ons te toets, want Hy wil sien hoe diep ons toewyding gaan. Daar kom ‘n tyd wat ons gaan uitblink vir die HERE, maar eers gaan ons moet leer om die bekende te laat gaan en net op die HERE te vertrou; dat Hy weet wat die beste vir ons is. Hierdie toetse gaan ons plasing in die hiernamaals bepaal en of ons bereid is om die HERE met ons hele hart te dien en of ons net vir Hom toegang tot sekere dele van ons hart gaan gee.
Is jy dus bereid om die HERE toegang tot jou hele hart te gee of gaan jy Hom net toegang tot ‘n gedeelte gee deur ‘n streep te trek en te sê: “Nie verder nie, HERE!” Dis die vraag wat jy vir jouself moet vra.
Mag die HERE julle seën!