Jesus, ek wil bid en vra dat U ons sal beskerm van die bose en ons opreg soos duiwe sal maak sodat as ons enige iets hoor wat misleidend is, ons dit eerste met U sal opvat voor as ons nie seker is nie. Amen!
In Mattheus 24:4-5 gee Jesus vir ons daardie baie bekende waarskuwing: “[4] En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. [5] Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.” In Mattheus 24:24 herhaal Jesus hierdie waarskuwing vir ‘n tweede keer: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan…” as ‘n beklemtoning van hoe erg die misleiding sal wees! En nou sien ons hierdie dinge voor ons oë afspeel!
Die vraag wat ons onsself moet afvra is hoe jy jouself teen hierdie misleiding beskerm? Daar is net een manier en dit is om die ware een te bestudeer. Ken Jesus; ken God die Vader en ken die Heilige Gees en ken God se Woord!
Ons ken vervalste geld uit aan die feit dat dit nie soos die werklike lyk nie. Dieselfde geld vir geloof: ‘n Vals lering sal verskil van wat in die Bybel staan en ‘n studie daarna sal dit sodoende uitlig.
Daar drie spesifieke toetse waaraan enige leraar onderwerp kan word om die akkuraatheid van sy verkondiging te bepaal, want Jesus sê in Mattheus 12:33 “…want aan die vrugte word die boom geken.”
- Wat sê hierdie leraar omtrent Jesus? In Mattheus 16 sê Jesus: “[15] Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? [16] En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Vir hierdie antwoord word Petrus salig genoem. In 1 Johannes 1:9 lees ons, “Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun.” Met ander woorde, Jesus Christus en Sy werk van verlossing is van die uiterste belang; pasop vir enigeen wat ontken dat Jesus aan God gelyk is, wat Jesus se offerdood minag, of wat Jesus se menswording verwerp. 1 Johannes 2:22 leer ons, “Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.”
- Verkondig hierdie leraar die evangelie? Die evangelie word beskryf as die goeie nuus rakende Jesus se sterwe, begrafnis en opstanding, volgens 1 Korintiërs 15:1-4. So mooi soos die volgende stellings ook al mag klink: “God het jou lief,” “God wil hê ons moet die wat honger het voed,” en “God wil hê dat jy ryk moet wees” is dit nie die volledige boodskap van die evangelie nie. Soos Paulus in Galasiërs 1:7 waarsku, “terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.” Niemand, nie eens ‘n goeie prediker nie, het die reg om die boodskap wat God aan ons gegee het te verander nie. In Galasiërs 1:9 lees ons, “As iemand julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ’n vervloeking wees!”
- Vertoon hierdie leraar karakter eienskappe wat God eer? Met verwysing na vals profete, sê Judas 1:11, “Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom.” Met ander woorde, ‘n vals profeet kan herken word aan sy hoogmoed (Kain se verwerping van God se plan), gierigheid (Bileam se profesie vir geld), en verset (Korag se eie aanstelling oor Moses). Jesus het in Mattheus 7:15-20 gesê om op te pas vir sulke mense en dat ons hulle aan hulle vrugte sal ken.
Indien u ‘n verdere studie oor hierdie onderwerp wil maak, kan ek u verwys na die volgende boeke van die Bybel: Galasiërs, 2 Petrus, 1 Johannes, 2 Johannes, en Judas. Hierdie boeke van die Bybel is spesifiek geskryf om valse leringe in die kerk te bekamp.
Dit is dikwels moeilik om ‘n vals profeet uit te ken. Satan doen hom voor as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:14), en sy dienaars doen hulle voor as dienaars van geregtigheid (2 Korintiërs 11:15). Slegs deur deeglik bekend te wees met die waarheid sal ons in staat wees om ‘n bedrieër te herken.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!