Aanval teen die bruid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Wees gewaarsku! Satan is besig om die Bruid van Jesus aan te val met ‘n aanval van moedeloosheid en depressie.

Hierdie aanval van moedeloosheid maak dat jy wil opgee om die HERE te dien en die aanval van depressie wat daarmee saam gaan is die uitklophou. As jy op die grond is en nie meer kans sien om die HERE te dien nie, dan het satan gewen!

Ek het die individuele tekens gesien, maar ek het die aanval het ek nie onmiddellik raakgesien nie. Ons almal raak tog immers moedeloos een of ander tyd en dan wonder ons of ons nog op die regte pad is. Ek was ook al daar, maar hierdie aanval raak baie mense gelyk en dit is geen toeval nie!

Liewe lesers, julle moet verstaan dat daar op hierdie oomblik baie meer demone op aarde is as ooit voorheen en soos ek in my vorige boodskap aan julle verduidelik het oor hoe demone werk, soek hierdie klomp demone energie om hulle werk op aarde te kan voortsit. Deur jou moedeloos en depressief te maak en jou sover te kry om God in twyfel te trek, beteken dat jy ‘n krag bron word vir hulle om energie van af te kan tap. Jy kan dit toelaat of jy kan dit afsny; die keuse is joune.

Julle moet ook weet dat ons tyd op hierdie aarde baie min is en satan weet dit. Baie gou gaan hy nooit weer die geleentheid hê om die Bruid van Jesus aan te kan val nie en dis waarom hy nou alles uithaal. Hierdie aanvalle is doelgerig en baie intens, maar deur Jesus sal ons kan staande bly en so bewys dat ons waardig is! Prys Sy Naam!

Ek weet dat baie van julle tot in julle siele moeg is. Ek weet ook dat baie van julle wonder of Jesus nog daar is en of Hy weet wat aangaan. Die antwoord is ‘n baie groot JA! Hy weet en Hy is maar net te bewus van ons lyding. Jesus is nie kwaad vir jou nie; selfs al sondig jy. Jy word bedek deur God se genade wat aan almal wat gered is vrylik beskikbaar is!

Moet jou dus nie aan satan steur nie. Satan en sy engele is leuenaars en hulle sal vir altyd leuenaars bly! Niks wat hulle sê of doen is ooit eerbaar nie. Bestraf vir satan en hy sal van jou af wegvlug! Gee jou bekommernisse vir Jesus en los dit daar! Weet dat wat ook al gebeur, alles vir die beste sal uitdraai, want God is nog altyd in beheer!

Watter Vader sal as Sy kind vir hom ‘n brood vra vir hom ‘n klip gee? Dink jy werklik dat Jesus dit aan jou sal doen? Jy luister na ‘n leuen van satan! Hy is besig om met jou kop te smokkel! Bestraf hom!!

Onthou dat jy NOOIT alleen is nie. As jy nou terugkyk, sal jy net een ry spore in die sand sien, want Jesus is besig om jou te dra! Jy loop op hierdie oomblik nie alleen nie!

Los jou bekommernisse in die hande van die HERE. Jy kan in elke geval niks daaraan doen nie en om jou daaroor te sit en bekommer is sinneloos; ‘n doellose oefening! Wat ook al gebeur is in die hande van die HERE en God se Wil in jou lewe. Ons sien miskien nie nou die doel nie, want God se weë is nie ons weë nie, maar eendag sal ons weet waarom. Vertrou dus op God en bestraf satan!

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk