Elke slag wat ek oor hierdie onderwerp probeer skryf het, het dit uitgeloop op kontroversie, maar vandag gaan daar nie kontroversie wees nie. Vandag gaan ons vir ‘n slag luister na wat Jesus hieroor te sê het.
Om te verstaan waar die gee van die tiende en die offergawe vandaan kom, moet ons teruggaan na die Ou Testament. Die tiende was ‘n vereiste van die Wet van Moses waarvolgens daar van alle Israeliete vereis is om ‘n tiende van alles wat hulle verdien en verbou het aan die Tabernakel/Tempel te gee. (Levitikus 27:30; Numeri 18:26; Deuteronomium 14:24; 2 Kronieke 31:5) Die doel van die tiende was om die kerk van God in stand te hou en om as voedsel vir die priesters te dien. Die priesters mag egter nie alles gehou het nie. Nege tiendes mag hulle gehou het, maar een tiende moes aan die Here geoffer word.
Nêrens in die Nuwe Testament word ons egter beveel of word daar selfs voorgestel dat Christene hulself aan ‘n soort wettige tiende sisteem moet onderwerp nie. Paulus sê dat gelowiges ‘n porsie van hul inkomste opsy moet sit om sodoende die kerk te ondersteun soos in 1 Korintiërs 16:2 opgeteken “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is.” Let op na die woorde “namate sy voorspoed” want dit is die aanbeveling vir hoeveel gegee moet word.
In Lukas 21 lees ons hoe Jesus by die skatkis gaan sit het en gekyk het hoe mense hulle gawes daarin gooi. Almal het gegee volgens hulle oorvloed omdat hulle baie gehad het om te gee, maar ‘n weduwee het gekom en sy het die minste van almal gegee; net twee oortjies. Jesus het gesê dat sy meer gegee het as al die ander mense saam omdat sy uit haar armoede alles gegee het wat sy gehad het om van te lewe.
Dit is waaroor dit wat jy vir die kerk van die HERE gee gaan. Baie gee uit hulle oorvloed uit en dit bekommer hulle glad nie, want hulle het baie, maar daar is net so baie wat niks het nie en daarom ook niks gee nie. ‘n Baie klein aantal van die wat niks het nie, sal die HERE so vertrou dat hulle alles sal gee wat hulle het, selfs dit wat hulle die maand van het om van te lewe. Vir hierdie mense sal die HERE so seën dat ons wat nie daardie vlak van vertroue het nie, nie sal verstaan nie. Maar onthou dat Jesus niemand oordeel omdat jy nie gee nie. Ons almal is uniek in Sy oë en ons almal is op verskillende vlakke van gehoorsaamheid teen oor Jesus en daar is niks mee verkeerd nie.
Moet dus nie deur ‘n kerk gedwing word om te gee nie. As Jesus jou nie oordeel omdat jy nie op daardie vlak van vertroue met Hom is nie, wat beteken die oordeel van ‘n mens dan?
In 2 Korintiërs 9:7 lees ons “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.” Daarom liewe Kind van die HERE; gee soos wat die Gees van God jou lei om te gee. As jy voel dat jy alles wil gee wat jy het omdat jy op daardie valk van vertroue met Jesus is, dan is ek saam met jou bly, maar moenie die wat nie op dieselfde vlak as jy is oordeel omdat hulle ‘n tekort in vertroue het nie.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!