Die moed van Daniël

Ons almal ken die verhaal van Daniël in die leeukuil soos aangeteken in Daniël 6:1-29. Dis een van die kern verhale van enige Sondagskool! Hierdie les is egter nie net vir kinders bedoel nie, maar ook vir ons as volwassenes!

Deur ‘n slim set van satan is Koning Darius omgepraat om ‘n wet af te vaardig dat enige versoeke net deur hom mag gaan. Niemand mag enige versoek aan enige ander mens of god bring nie. Daniël het egter aangehou om drie keer per dag tot God te bid en op grond daarvan is hy in die leeukuil gegooi. Die koning het alles in sy vermoë probeer om vir Daniël daaruit te kry, maar sy eie wet deur sy eie hand geskryf was onherroeplik en hy kon niks doen nie. Die Here het egter bewys dat wat vir mens onmoontlik is, is vir God moontlik en Hy het die bekke van die leeus gesluit sodat hulle vir Daniël geen leed sou aandoen nie. Die volgende oggend is Daniël uit die leeukuil opgetrek sonder ‘n enkele letsel aan sy lyf! Nodeloos om te sê dieselfde het nie gebeur met die wat vir Daniël voor die koning aangekla het nie!

Hierdie, liewe leser, is MOED! Om jou lewe so in die Hande van die Here te laat, wetende dat NIKS sleg met jou sal gebeur, sonder die Wil van God nie! Om jou lewe op so ‘n manier oor te gee is die een ware toets vir elke Christen. Die wat dit doen, ervaar ‘n vryheid soos geen ander nie! ‘n Lewe sonder bekommernisse!

Dit klink na ‘n idilliese bestaan, dit liewe leser is presies wat die Here wil hê ons moet doen. Hy sê dit immers vir ons in Mattheus 6:25-26 [25] Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? [26] Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”

Die slim mense het uitgewerk dat 99% van die dinge waaroor ons bekommerd is, nooit gebeur nie! Jesus sê dit self ook in 27 vir ons: “Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?” Daarom, liewe leser, moet u nie bekommer oor wat die dag van môre gaan oplewer nie!

Jesus sê vir ons in vers 32 dat ons Hemelse Vader weet wat ons nodig het en Hy sal sorg dat dit wat ons nodig het daar is op die regte tyd! Vers 33 sê vir ons dat ons eers die Koningryk van God en al sy geregtigheid moet soek! Ek leef hierdie verse uit en ek kan julle tonne getuienisse vertel! Geld vir uitspattig lewe is daar nie, maar die geld is altyd daar as ons dit nodig het en ek het nog nooit honger gaan slaap nie! God het gesê Hy KAN en Hy SAL! Vat beheer oor jou lewe in die Naam van Jesus!

Ek het eenslag hierdie Engelse gesegde gehoor: The past is history, the future a mystery, but today is a gift, that is why they call it the present! Leef elke dag voluit, want ons weet nooit wanneer dit ons laaste gaan wees nie! Plaas jou lewe, jou besittings en alles wat vir jou kosbaar is in die Hande van Jesus. Luister na sy stem en gehoorsaam die leiding van Sy Gees en kyk of God nie jou paaie vir jou gelyk gaan maak nie! AMEN!

Mag die Here hierdie boodskap seën!

(Visited 961 times, 1 visits today)