Ek sien gereeld hoe sekere mense sê dat die verdrukking al begin het, maar die antwoord op hierdie vraag is baie beslis nog nie.
Kom ek vertel julle waarom ek so sê. Alles wat ons nou in die wêreld sien gebeur is wel oordele van God, maar dis nie God se Toorn wat die mens in die Verdrukking gaan sien nie. Daar is ‘n baie groot verskil in die sin dat God se Toorn baie erger gaan wees as dit wat ons nou beleef, want satan gaan dan die kans kry wat hy nog altyd begeer het en dis om hierdie wêreld te regeer en die mense te kry om hom te aanbid in plaas van God!
Die volgende verse in die Bybel bevestig dat ons as Geredde Kinders van God nie bestem is om ooit God se Toorn te sien nie: “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.” (Romeine 5:9), “DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie…” (Romeine 8:1), “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus…” (1 Tessalonisense 5:9) en ook “en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.” (1 Tessalonisense 1:10)
Dis vir God so belangrik dat ons moet verstaan dat ons wat gered is nie bestem is om deur die Verdrukking (God se Toorn) te gaan nie, dat hy die vier keer op verskillende plekke in die Bybel noem! Is Jesus nie wonderlik nie?
In 2 Tessalonisense 2:7 lees ons: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;” Wat beteken dit? Op die oomblik word die ongeregtigheid verberg vir ons as mens, maar dit beteken nie dat dit nie aan die werk is nie. Ons wat gered is, is die wat satan en sy mag terughou, maar die oomblik wat die wegraping plaasvind, dan gaan daar niks meer wees wat hierdie ongeregtigheid gaan terughou nie. Dit gaan beteken dat die Antichris sy verskyning sal kan maak, omdat ons wat nou terughou nie meer daar gaan wees nie.
In Openbaring 13:1-2 beskryf Johannes die verskyning van die Antichris as ‘n dier wat uit die see opgekom het. In Openbaring 17:15 word aan ons verduidelik wat die “see” is waarvan Johannes praat en dat dit is ‘n versameling van baie mense. Die Antichris gaan dus na die wegraping net op die toneel verskyn soos iemand wat uit ‘n skare mense uitgestap kom.
Johannes sê verder dat hierdie man vinnig veranderinge gaan maak, standvastig gaan wees oor sy besluite en dat hy die wat hom gaan tee staan vinnig uit die weg gaan ruim. Daniël verduidelik verder met hierdie beskrywing in Daniël 7 en 8 deur te sê dat hierdie man ‘n intellektuele genie gaan wees, ‘n uitstekende spreker, ‘n militêre leier soos geen ander nie en ‘n gemene politikus want mense gaan manipuleer! Dus, ‘n baie gevaarlike man om mee te doen te kry en die wêreld gaan nie besef voor dit nie te laat is nie! Dis waarom Johannes sê dat hy eers die dier se koppe uit die see sien opkom het, dan die horings en laaste die krone. Die rede agter hierdie stelselmatige verskyning is om die wêreld stelselmatig gewoond te maak aan hierdie man en sy gesag sodat hulle nie sy ware kleure kan sien nie. Die krone word heel laaste gewys omdat dit gesag voorstel en dit word laaste gewys net voor dit bekend word dat hierdie man nie die Christus is soos wat baie gedink het hy is nie! Teen daardie tyd gaan dit te laat wees om hierdie man te stop of selfs te keer.
Alles wat ek tot nou toe genoem het is nog net die oploop tot die verdrukking. Daniël sê verder vir ons dat hierdie man ‘n verbond met Israel gaan sluit wat sewe jaar gaan hou, maar dit hy hierdie verbond gaan beëindig na drie en ‘n halwe jaar. Die ondertekening van hierdie verdrag gaan die begin van die verdrukking inlei as die man wat op die wit perd sit met ‘n boog sonder enige pyle en ‘n kroon op sy kop soos in Openbaring 6:2 beskryf. Dit beteken dat hy op militaristiese gebied baie sterk gaan wees net soos Daniël beskryf het, maar dat hy deur diplomasie gaan oorwin en nie geweld nie en dis waarom hy ‘n boog sonder enige pyle het. Die kroon stel mag oor die mense voor wat beteken dat hy baie suksesvol gaan wees om die mense te oortuig. Met valse uitgeslapenheid gaan hierdie man vrede oor die aarde bring, maar dit gaan ‘n vals vrede wees wat nie gaan hou nie.
Om dus op te som; ons is op hierdie oomblik nie in die verdrukking nie en ons sal as geredde Kinders van God sal ook nie die verdrukking beleef nie. Voor die verdrukking kan begin, moet ons as Kinders van God eers uit die pad geneem word. Solank ons daar is, hou ons die werk van satan terug en kan die Antichris nie sy verskyning maak nie. Ons moet dus eers uit die ramp gebied verwyder word net soos God vir Lot en vir Noag en hulle gesinne uit die rampgebied verwyder het voor Hy Sy Toorn laat geld het. Ons sal nie weet wie die Antichris is nie, want hy sal eers sy verskyning kan maak na die wegraping van Jesus se Bruid.
Ten spyte van al die slegte dinge wat julle nou sien gebeur, is dit nog nie die verdrukking nie. Die verdrukking kan nie begin met ons wat nog steeds hier is nie. Die wegraping moet eers plaasvind en dan kan die verdrukking begin. Ek hoop hierdie kwessie is nou duidelik by julle.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!