Wanneer gaan Jesus kom?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Wie van ons wonder nie wanneer Jesus ons gaan om haal nie? Ek verlang na daardie dag wanneer ek voor my Skepper sal kan staan! Prys Sy Naam!

Die afgelope jare het ons baie mense gesien wat opgestaan het en gesê het dat hulle weet wanneer Jesus gaan kom. Waar is hulle nou?

In Mattheus 24:4 waarsku Jesus self vir ons teen hierdie mense: “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.” Van al die dinge waaroor Jesus sy dissipels kon gewaarsku het, kom hierdie antwoord heel eerste op: Pasop dat iemand julle mislei nie. Hierdie frase was so belangrik dat Jesus dit heel eerste gestel het, selfs voor Hy sy dissipels gewaarsku het oor al die ander dinge wat gaan kom.

Ek sien dit al hoe meer dat mense ‘n datum wil koppel aan die wegraping. Weereens waarsku Jesus vir ons hieroor in Matteus 24:36 “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Daar is dus geen manier hoe enige mens op aarde gaan weet wanneer Jesus gaan kom nie. Daar gaan ook geen manier wees om daardie datum wiskundig te bereken nie, maar daar word wel gesê dat ons sal weet wanneer die tyd naby is!

Ek kan vir julle met alle eerlikheid sê dat daardie dag naby is. Ek weet dit is, maar ek kan nie vir julle verklaar hoe ek dit weet nie. Ek weet dit net! Van julle sal dit ook so weet; daaroor het ek geen twyfel nie!

Ek het op geleentheid vir julle gesê dat ons getoets word. Baie gaan hierdie gewag nie langer kan uithou nie en dan gaan hulle terugval in die wêreld in. Hulle gaan nie volslae sondaars word en dit wat hulle glo opsê nie. Dis ‘n kwessie van die HERE vat te lank om te kom en dat daar genoeg tyd gaan wees om dinge betyds reg te maak… Ek wil dit vir jou sê as jy so dink… Jy is verkeerd en jy gaan dit te laat agterkom!

Petrus sê in 2 Petrus 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” God hou dus die wegraping terug om so veel as moontlik mense die kans te gee om tot bekering te kom. Dit is waarom dit so moeilik is om die wegraping te voorspel en ook waarom net God die Vader volgens Mattheus 24:36 kan weet wanneer die tyd daar gaan wees. God se genade oor die mens gaan egter uitloop en dan gaan Jesus kom om Sy Bruid te kom haal.

Die Bybel sê dat daardie dag soos ‘n groot skrik oor die wêreld sal kom. (Lukas 21:35) In ‘n oogknip, dit wil sê, een honderdste van ‘n sekonde, gaan alles verander! Daar gaan geen vooraf waarskuwing wees nie en geen tyd om eers reg te maak nie… Jy gaan of reg moet wees of jy gaan agterbly! Wil jy werklik daardie kans vat om nog eers so ‘n bietjie van die wêreld se genot te proe?

Moet daarom nie dat enige iemand julle mislei met wiskundige berekeninge en slim praatjies oor wanneer die wegraping gaan plaasvind nie. Niemand en ek herhaal NIEMAND op aarde weet wanneer dit gaan kom nie. Ek ook nie! Moenie tyd mors op nonsens nie. As u ‘n boodskap kry waar iemand ‘n datum aan die wegraping koppel, ignoreer dit, want dis ‘n leun van satan. Satan se doel is om vir u te wys hoe baie tyd daar nog is sodat u nie gereed gaan wees as Jesus kom nie.

Jesus waarsku ons in Mattheus 24:11 “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.” In 2 Korintiërs 11:13-15 word hierdie laasgenoemde skrif verduidelik: [13] Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. [14] En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. [15] Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.”

Vertrou eerder op die lering van die Heilige Gees as u wil weet hoe naby die end tyd is. Ek het die afgelope tyd met verskeie christene gesels en almal bevestig dat ons tyd min is; baie min! Is u gereed?

Mag die Here hierdie boodskap seën.

image_pdfLaai afimage_printDruk