Hoe om te bid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Hoe bid mens? Dit mag miskien na ‘n dom vraag klink, maar tog sukkel ‘n baie groot persentasie van Christene met hierdie probleem.

Mense is bang om te bid, want hulle dink hulle gebede is nie goed genoeg vir die Koning van die Heelal nie! Jy dink later allerhande verskonings uit net om nie te bid nie! Natuurlik juig satan hieroor, want hy weet dat bid die een vorm van kommunikasie met God is waarteen hy geen verdediging het nie! Satan is magteloos teen gebed! Deur vir jou te vertel dat jou gebede nie hoed genoeg is nie, verhoed hy jou om te bid en daardeur wen hy! Dis so maklik.

Weet julle wat? Ek was een van hierdie wat ek hierbo beskryf! Ek was letterlik te bang en te skaam om te bid, want ek het gedink dat my gebede nie goed genoeg was nie! Ek het in ‘n Pinkster kerk groot geword. In die kerk was daar mense wat kon bid dat jy letterlik die krag van die Here kon voel. Ek kon dit nie doen nie en daarom het ek vas geglo dat die Here nie eers na my luister nie! Ek was jonk in die Gees en het op daardie stadium niks geweet van die Gawe van Gebed nie! Een oggend op pad werk toe het dit egter alles verander.

Hier naby my woning is ‘n baie gevaarlike T-aansluiting met ‘n robot in die een baan. Motors wat by die hoofpad wil aansluit, moet wag vir die robot om oor te slaan, dan ry jy oor die een baan terwyl jy regs draai in die aansluit baan in. Die idee is om die aansluit baan te gebruik om genoeg spoed op te tel sodat jy by die vinnige baan kan aansluit sonder om die verkeer op te hou. Dit klink maklik op papier, maar met spits verkeer is dit ‘n nagmerrie om ‘n gaping tussen die motors te kry sodat jy veilig kan aansluit. Ek het die oggend saam met iemand ingery stad toe. Ek het voor in die passasier sitplek gesit. Ons het in die aansluit baan ingedraai en was besig om te versnel. Langs ons in die vinnige baan was twee swaar vragmotors. Omdat ons ‘n kleiner en vinniger voertuig gery het sou dit geen probleem wees om spoed op te tel en veilig voor die vragmotors in te sny nie. Wat ons egter nie gesien het nie, was die oorvol minibus taxi wat besig was om die vrag motors in die stadige baan verby te gaan… Voor ons mooi weet, toe sny die minibus voor ons in die vinnige baan in om ‘n motor in die stadige baan te mis. Die linker voorste gedeelte van ons motor het die minibus regs skuins agter getref. Dit word die “Pit Maneuver” genoem. Die Amerikaanse Polisie manne oefen maande om hierdie beweging te vervolmaak. Die doel is om ‘n motor van balans te stamp sodat die skelm wat probeer wegjaag gevang kan word. Ons het daardie oggend sonder enige oefening van enige aard, ‘n perfekte “Pit Maneuver” uitgevoer! Die minibus was van balans afgestamp. Die bestuurder het wild probeer om beheer oor die minibus terug te kry, maar die uiteinde was dat die minibus op sy sy omgeval het en etlike meters verder oor die pad geskuur het. Ek het hardop gebid: “Here help asseblief!” Ek het nie verwag dat enige iets sou gebeur nie, maar daardie oggend het die Here my gewys dat Hy ALLE gebede verhoor! Almal van ons, die passasiers en die bestuurders van beide voertuie het van die ongeluk af weggeloop! Behalwe vir ‘n paar skraapmerke en verstuite ledemate het niemand hospitalisasie nodig gehad nie! As die Here dit kan doen met ‘n eenvoudige drie woord gebed, dink net wat kan Hy doen met ‘n sin of twee!

Moet nooit dink dat die Here jou nie verhoor nie. Hy doen! Jy kan lank bid of jy kan kort bid. Dit maak nie saak nie. Gesels met Jesus soos jy met enige ander persoon sal gesels. Aanvanklik sal dit voel of jy met jouself praat, maar soos jy ingestel word op die leiding van die Gees, sal jy agterkom dt die Here op die snaaksste van maniere met jou terugpraat! Omdat so baie van ons nie ingestel is op die leiding van die Gees nie, sien of hoor ons dit nie en dan dink ons God verhoor nie ons gebede nie!

God antwoord gelede deur gedagtes wat by jou opkom of deur ‘n Bybel vers of deur omstandighede in ‘n mens se lewe. Partykeer is daar geen antwoord nie. Dis nie omdat die Here “nee” gesê het nie. Dit beteken dat ons geduldig moet wees ‘n bietjie moet wag.

Omdat so baie mense sukkel met bid, wend hulle hulself na gebed boekies toe. Wees versigtig na wie u luister. Nie alle skrywers van Godsdienstige boeke se bedoeling is nie altyd suiwer nie. Die meeste skryf oor Godsdiens, want dis die vinnigste manier om geld en naam te maak! Hulle skryf snert en verlei duisende! In 2 Timoteus 2:5 word ons gewaarsku teen hierdie mense: “…mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

As u voel dat u graag leiding wil hê hoe om te bid, gaan kyk dan in Mattheus 6:9-13: [9] Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; [10] laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; [11] gee ons vandag ons daaglikse brood; [12] en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; [13] en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” Geen boekie is nodig nie. Alles wat u wil weet is in die Bybel!

Mag die Here hierdie boodskap seën.

(Visited 538 times, 1 visits today)