Moenie hierdie geskenk los nie

Een van julle het vir my hierdie gestuur en ek het dit so treffend gevind, dat ek dit vertaal het en dit vandag met julle wil deel.

Daar was hierdie Professor wat Christenskap as vak in een van die kleiner universiteite in Amerika  aangebied het. Elke eerste jaar student was verplig om die vak te neem ongeag in watter rigting die student gestudeer het. Ten spyte van die feit dat die Professor sy uiterste bes gedoen het om die beginsels van Christenskap by sy studente tuis te bring, het die meeste van die studente die vak gesien as iets wat gedoen moes word. Nog minder van die studente het Christenskap ernstig opgeneem.

Die beste student in die klas was Stefan. Hy het gestudeer om ‘n dominee te word, maar hy was ook meer as dit. Hy was gebou soos ‘n atleet en was ook een van die universiteit se beste voetbal spelers. Hy was natuurlik baie gewild onder die studente.

Die professor het hom genader en gevra hoeveel opstote hy kan doen. Hy het geantwoord dat hy elke aand 200 doen. Die professor vra hom toe of hy bereid sal wees om 300 te doen. Eers was Stefan nie seker of hy die 300 sal kan doen nie, maar toe die professor vir hom sê dat hy dit in stelle van tien gaan doen; het Stefan ingestem. Die professor het aan hom verduidelik wat hy ingedagte het en hom gevra die komende Vrydag vroeër op klas te wees.

Vrydag was Stefan op sy pos en het hy heel voor in die klas gesit. Toe die klas begin, trek die professor ‘n groot kartonboks vol oliebolle uit. Dit was nie die gewone oliebolle wat mens oral kry nie, maar die ekstra groottes met ekstra versiersuiker op! Almal was baie opgewonde, want nie alleen was dit Vrydag nie, dit was ook die laaste klas van die dag voor almal sou begin om die naweek te geniet. Wat kan dan nou beter wees om die naweek met gratis eet dingetjie te begin!

Die professor het na Sonja, die eerste student in die eerste ry gestap en gevra of sy ‘n oliebol wil hê. Natuurlik was die antwoord ja! Die professor het na Stefan gedraai en gevra: “Stefan, sal jy tien opstote doen sodat Sonja haar oliebol kan kry?” Stefan het vinnig opgestaan, tien opstote gedoen en daarna weer kom sit. Die professor het die oliebol voor Sonja neergesit en aan beweeg met die ry. “Johan, wil jy ‘n oliebol hê,” vra die professor. Ook hy het bevestigend geantwoord en weer het Stefan opgestaan en die nodige tien opstote gedoen sodat Johan sy oliebol kon kry! So het dit aangegaan totdat die hele eerste ry in die klas almal oliebolle gekry het.

Die professor het met die tweede ry begin en voor Pieter gaan staan. “Wil jy ook ‘n oliebol hê, Pieter,” vra die professor. Pieter was ook ‘n lid van die voetbalspan en net so gewild soos Stefan. Pieter het aangebied om sy eie opstote te doen, maar die professor het geantwoord dat Stefan dit moet doen. Pieter het gesê dat hy in daardie geval nie ‘n oliebol wil hê nie. Die professor het na Stefan gedraai en gesê: “Stefan, sal jy tien opstote doen sodat Pieter ‘n oliebol kan kry wat hy nie wil hê nie?” Sonder om enige iets te sê het Stefan die tien opstote gedoen en die professor het die oliebol voor Pieter neergesit. Pieter het sy stem verhef en gesê: “Ek het gesê ek wil nie een hê nie!” Die professor het in ‘n harder toon geantwoord: “Dis my klas, my tafels en my oliebolle. As jy dit nie wil hê nie, los dit dan op die tafel!”

Die professor het aan beweeg en die hele tweede ry klaargemaak. Elke slag het Stefan die nodige tien opstote gedoen, of die student die oliebol wou hê of nie. Aan die einde van die  tweede ry, was Stefan uitgeput! Hy het sommer op die vloer gewag om die tien opstote te doen, want dit was te veel moeite om elke slag op te staan, tot voor in die klas te loop, die tien opstote te doen en dan weer terug te loop.

Die professor het met die derde ry begin. “Amanda, wil jy ‘n oliebol hê?” vra die professor. “Nee, dankie,” het Amanda geantwoord. “Stefan, sal jy asseblief tien opstote doen sodat Amanda die oliebol kan kry wat sy nie wil hê nie?” Stefan het die tien opstote gedoen en Amanda het haar oliebol gekry.

Teen die tyd het meer en meer studente gesê dat hulle nie die oliebol wil hê nie en daar was al ‘n hele aantal oliebolle op die tafels gestaan wat nie geëet was nie. Stefan was teen die tyd al moeg en dit het meer inspanning gekos om die tien opstote vir elke oliebol te doen. ‘n Poel sweet het onder hom gevorm waar hy die opstote gedoen het. Die professor het vir Robert, een van die mees uitgesproke studente teen Christenskap gevra om seker te maak dat Stefan al tien opstote doen! Robert het op sy beurt by Stefan gaan sit en hom met valk oë dopgehou! Toe die professor met die vierde ry begin, was hy baie bekommerd dat Stefan dit nie gaan maak nie, want hy het al hoe langer gevat om die tien opstote klaar te maak.

Studente van ander klasse wat vroeg klaargemaak het, het kom inloer om te kyk wat aangaan. Daar was nou 34 studente in die klas. ‘n Nuweling by die naam van Marius het die deur van die klas oopgemaak om in te kom. Soos een man het al die studente in die klas geskreeu: “Nee! Bly buite! Moenie inkom nie!”  Stefan het sy kop opgetel en gesê: “Laat hom inkom en gee vir hom ‘n oliebol!” Die professor het gevra: “Jy besef dat jy vir hom ook tien opstote gaan moet doen?” “Dis goed; gee vir hom een,” het Stefan geantwoord. Die professor draai na Marius toe en vra: “Wil jy ook ‘n oliebol hê?” Marius wat nie ‘n idee gehad het wat aangaan nie, sê toe ja! “Stefan, sal jy tien opstote doen sodat Marius sy oliebol kan kry?” Nadat Stefan die tien opstote met groot moeite gedoen het, kry Marius sy oliebol. Baie uit die veld geslaan, gaan sit Marius met die oliebol in sy hand.

Die professor het nou begin met die studente wat laat ingekom het. Stefan se arms kon dit nie meer hou nie en hy het gesukkel om die opstote te doen. Sweet het teen sy gesig afgestroom en die enigste geluid in die klas was sy diep vinnige asemhaling. Almal in die klas het gesukkel om hulle trane in te hou.

Die laaste twee studente in die klas was nuwelinge wat laat ingekom het. Beide was meisies. Die professor het na die eerste meisie geloop en gevra: “Linda, wil jy ‘n oliebol hê?” Met trane in haar oë het sy geantwoord: “Nee dankie.” “Stefan, sal jy asseblief tien opstote doen sodat Linda die oliebol kan kry wat sy nie wil hê nie?” Met groot moeite het Stefan die nodige tien opstote gedoen sodat Linda haar oliebol kan kry.

Die professor het na die laaste meisie gedraai en gevra: “Susan, wil jy ‘n oliebol hê?” Met trane wat van haar wange afloop het Susan gevra: “Professor, kan ek hom nie help nie?” Sukkelende om sy eie trane te bedwing antwoord die professor: “Nee, Stefan moet dit alleen doen. Ek het hom hierdie takie opgelê en dis sy verantwoordelikheid om toe te sien dat almal die geleedheid het om ‘n oliebol te kry of hulle dit nou wil hê of nie.”

Die professor stap tot voor in die klas: “Ek het die afgelope week na die klas se punte gekyk en gesien dat niemand van julle hierdie vak gaan slaag nie. Die enigste van julle wat deurentyd ‘n slaagpunt behaal het was Stefan. Die res van julle het gereeld toetse gedruip, weggebly of vir my afskeep werk ingehandig! Stefan het vir my gesê dat as ‘n voetbalspeler droogmaak tydens oefening, dan moes hy opstote doen om te vergoed vir sy foute. Ek het vir Stefan gesê dat nie een van julle waardig is om te slaag tensy hy bereid is om die prys vir julle te betaal nie. Hy het met my ‘n ooreenkoms aangegaan om vir elkeen van julle tien opstote te doen sodat julle vandag hier kan wees. Hy het hierdie ooreenkoms om julle ontwil aangegaan.”

Die professor het na Stefan gedraai: “Stefan, sal jy asseblief nog tien opstote doen sodat Susan haar oliebol kan kry?” Met groot moeite het Stefan die opstote klaar gemaak. Hy het in totaal 350 opstote daardie dag gedoen. Met die verstandhouding dat hy alles gedoen het wat van hom verwag was, het sy arms met die laaste opstoot onder hom ingevou en het hy op die grond neergeval.

Die professor het na die klas gedraai: “Net so het ons Verlosser, Jesus by die Vader gepleit terwyl hy aan die kruis was, ‘Vader, in u hande gee Ek my gees oor! (Luk 23:46). Met die verstandhouding dat Hy alles gedoen het wat van hom verwag was, het Hy sy lewe gegee sodat ons die ewige lewe kan kry. Ongelukkig, net soos vandag in die klas, laat baie van ons daardie geskenk op die tafel staan sonder om dit te vat.” Twee studente het gekom en vir Stefan van die vloer af opgehelp na sy tafel toe. Hy was fisies uitgemergel, maar hy het die hele pad geglimlag. “Mooi so, goeie en getroue dienskneg (Mat 25:21),” sê die professor terwyl hy na Stefan kyk.

Die professor draai weer na sy klas. “My wens is dat julle die genade van Jesus se opoffering sal verstaan. Hy het nie eers sy eie Seun gespaar nie, maar Hom vir ons almal geoffer, sodat ons nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Of ons nou hierdie geskenk wil aanvaar of nie, die prys is reeds betaal. Sal dit nie dom van ons wees om dit net so op die tafel te los nie?”

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 97 times, 1 visits today)