Ons almal ken paartjies wat al vir jare getroud is. Ons bewonder hierdie mense en dan wonder ons wat hulle geheim is? Hoe kry hulle dit reg om soveel jare getrou te bly terwyl huwelike vandag skaars drie jaar hou!
Die Apostel Paulus vertel ons dat die vrou “gebind” is aan haar man vir solank as wat hy lewe (Romeine 7:2 “Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man.”). Die beginsel is dat, of die man of die vrou, dood moet gaan alvorens die huwelik ontbind. Hierdie is ook God se opdrag, maar in die hedendaagse moderne wêreld eindig meer as twee derdes van alle huwelike in die skeihof. Dit beteken dan twee derdes van alle paartjies wat belowe het “solank as wat ons lewe” hierdie belofte verbreek.
Wat kan ‘n getroude paartjie doen om hulle huwelik te bewaar? Die eerste en mees belangrikste aspek is om onderdanig te wees aan God en Sy Woord (Bybel). Dit is ‘n beginsel wat voor die troue al in plek moet wees. God sê, “Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (Amos 3:3). Vir die wedergebore Christen beteken dit om nie ‘n noue verhouding aan te knoop met iemand wat nie ‘n gelowige is nie. “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?” (2 Korintiërs 6:14). Indien hierdie beginsel gevolg word sal dit sekerlik baie hartseer en lyding op ‘n later stadium verhoed.
Nog ‘n beginsel wat die huwelik sal beskerm is dat die man God onderdanig en gehoorsaam moet wees, hy moet ook sy vrou lief te hê, haar respekteer en beskerm soos sy eie liggaam (Efesiërs 5:25-31 “[25] Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het [26] om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, [27] sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. [28] So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; [29] want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. [30] Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. [31] Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word.”). Netso moet die vrou ook God gehoorsaam en haar self onderwerp aan haar man “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.” (Efesiërs 5:22).
Toe God vir Adam en Eva in die eerste huwelik gebring het was sy gemaak van Adam se “vlees en been” (Genesis 2:21-22 “[21] Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. [22] En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens.”) en het hulle een vlees geword (Genesis 2:23-24 “[23] Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. [24] Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”).
Om een vlees te wees beteken baie meer as net ‘n fisiese verbintenis. Dit beteken die verbintenis van gedagtes en siel om ‘n eenheid te vorm. Die verhouding gaan baie verder as sensuele en emosionele gevoelens en vorder tot ‘n geestelike “eenheid” wat alleenlik gevind kan word wanneer beide partye hulle aan God en aan mekaar onderwerp het.
Onthou dat ‘n huwelik ‘n VRYWILLIGE KONTRAK is om by iemand anders te gaan bly! Die klem is op die VRYWILLIG en dit beteken dat daar nie so iets soos ‘n baas in ‘n huwelik is nie. Dit gaan nie oor ek en my nie, maar oor ons en jou. Wanneer die ek en die my uit ‘n huwelik verwyder word, dan begin ons nader beweeg aan die eenheid wat God wil hê ‘n huwelik moet wees.
Lewensruimte is die tweede aspek van ‘n suksesvolle huwelik. U huweliksmaat is ‘n mens in sy eie reg. As mens het ons ‘n natuurlike behoefte om te groei en onsself te verbeter. As daardie behoefte onderdruk word deur die behoeftes van die een (ek en my sindroom) dan gaan die ander kwyn en sterf! Die hele huwelik is dan gedoem! Los u man of u vrou; laat daardie persoon toe om sy stokperdjie te beoefen en daardeur die persoon te wees wat God hom of haar gemaak het om te wees.
Om ‘n huwelik te laat voort bestaan tot die dood is iets wat paartjies moet nastreef en sien as ‘n prioriteit. ‘n Sterk verhouding met God verseker ‘n blywende verhouding met ons eggenoot en bring eer aan God.
Mag die Here hierdie boodskap seën!