Optrede van ‘n Kind van die Here

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek weet nie presies hoe om hierdie te bewoord nie, maar die HERE wys vir my dat van Sy Kinders besig is om die bal mis te slaan en dat ‘n regstelling nodig is.

Ons almal weet dat die wegraping naby is en dat die HERE sy Bruid gaan kom haal voor satan hierdie wêreld gaan oorvat en die HERE die mens gaan gee presies wat hy nog altyd wou gehad het: ‘n wêreld sonder God.

Daar is baie van julle wat wonder of julle waardig is om dit wat kom gaan vryspring om voor die Troon van die HERE te gaan staan. (Lukas 21:36) Nou kom ek vertel julle waarna die HERE gaan kyk as Hy gaan kom.

Dit waarna die HERE gaan kyk as Hy gaan kom is vir die wat soos Hy lyk in doen en in late. Die wat soos Hy optree en die wat die Wil van die Vader doen. Dis hulle wat sal gaan in die wegraping. Die feit dat jy die HERE as jou verlosser aangeneem het en jy miskien gedoop is, gaan nie ‘n faktor wees nie. Moenie verkeerd verstaan nie. As jy gered is en jy gaan dood, sal jy Hemel toe gaan, want die HERE sê so in Sy Woord, maar dit beteken nie dat jy die wegraping gaan meemaak nie.

Waarom nie? Om dat baie geredde Kinders van die HERE geheel en al teruggeval het in die wêreld, dis waarom. Hulle les nie meer hulle Bybels nie en hulle bid glad nie meer nie. Hulle spandeer glad nie tyd saam met die HERE nie! Hoe gaan die HERE hulle dus erken as Syne? Hulle lyk dan net soos wêreldlinge? Hulle geniet die wêreld se plesier ten volle, luister na wêreldse musiek, spandeer ure voor die TV… As jy soos Jesus wil wees, moet jy die wêreld afskryf, want Jesus sê dat jy nie twee meesters kan dien nie. (Lukas 16:13) Jy kan nie wêreldse plesier geniet en die HERE gelyk aanbid nie. Jy gaan MOET kies.

Is daar ‘n aanduiding in die Bybel van hoe ‘n Kind van die HERE behoort op te tree. Baie beslis! Paulus sê vir ons in 1 Korintiërs 13:4-7 presies dit: [4] Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, [5] handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, [6] is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. [7] Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”

Hierdie is soos die HERE wil hê jy moet optree, liewe leser! Kyk, ek gaan nie doekies omdraai nie, dis geen maklike taak nie, want as iemand jou ‘n onreg aangedoen het, dan wil jy daardie persoon in eie munt gaan terug betaal! Dis menslik om so te redeneer, maar dis nie soos die HERE sal optree nie! Hierdie beginsels gaan moeilik wees vir sommige om hulle eie te maak, maar as jy ‘n poging aanwend, sal die HERE jou help. Al wat die HERE wil hê, liewe leser is dat jy moet probeer. Of jy slaag of nie, dis is nie so belangrik as dat jy probeer nie!

Jy moet ook jou lewe en alles wat jy het in die Hande van die HERE los. Jou finansies, jou huis, jou motor, tot die lewens van die wat jy lief is voor, want alles behoort aan die HERE. Daardie geld wat jy elke maand verdien is die HERE s’n wat Hy vir jou gee omdat Hy vir jou lief is. Dis deur die HERE se liefde en genade dat jy lewend gebly het en dis die HERE se asem wat jy ingeasem het om te kon werk. Begin julle nou verstaan? Ons is net die bestuurders van dit wat die HERE ons gee en eendag gaan ons tot verantwoording geroep word oor ons manier van bestuur!

Soos jy gaan begin om die ewebeeld van Jesus in optrede te wees, gaan jy agterkom dat die Gees van die HERE sterker word in jou. Jy gaan dit sien in die vrugte van die Gees wat jy gaan begin dra. Paulus sê vir ons in Galasiërs 5:22 wat hierdie vrugte is: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” As jy agterkom dat jy besig is om hierdie vrugte te dra, dan is jy op die regte pad! Daardie vrees wat jy het dat jy dalk kan agterbly, sal dan stelselmatig al hoe minder raak tot jy glad nie meer bang gaan wees dat die HERE jou dalk gaan oorslaan nie.

Liewe lesers, ek vra vir julle vandag baie mooi. Ek weet nie hoeveel tyd ons oor het nie, maar ek wil vra dat julle asseblief ‘n poging gaan aanwend om die stukkende goed in jou lewe reg te maak. Begin vandag en moenie meer uitstel nie. Maak jouself gereed. Wees vriendelik met die om jou. Wys vir hulle die Goddelike Lig wat binne in jou skyn! Jy sal verbaas wees wat se effek dit op mense het. Ek het al gesien hoe mense ophelder en skyn as jy vriendelik met hulle is. Jy gaan daardie persoon se dag vir hom of haar maak! Dit belowe ek jou!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 196 times, 1 visits today)